Dit het deel geword van ons algemene landskap, Erfenisdag as een van ons openbare vakansiedae. Ons het heeltemal te veel van die goed, s? die privaatsektor. Ons moet ons nuwe demokrasie eer en dit vier, s? die politici. Nee man, kom ons braai liewer, s? Jan Braai. Hoe dan ook, ons het almal verskillende maniere om ons Erfenisdag te vier as Suid-Afrikaners. Ek lees onlangs van David Stuurman, die Khoi-leier wie so braaf geveg het teen die Britse koloniste in die laat 1700's. Hy is verban na Australië waar hy gesterf het. 'n Groep Suid-Afrikaners probeer tans om sy oorskot terug te bring na sy geboorteland Suid-Afrika toe. En so is daar soveel erfenisbelewenisse wat nie die hoofstroom geskiedenisboeke gehaal het nie. Dit is hierdie erfenisse wat ook herdenk en herleef word met Erfenisdag.
Ons land het die tuiste geword van soveel nasionaliteite, almal met hul eie kulture en kultuuridentiteite. Met Erfenisdag kry ons die geleentheid om ook die ervaringe van soveel van ons landgenote te beleef en ons oop te stel vir mekaar. Ons is soms so ver verwyderd van mekaar. Elkeen wil sy/haar eie stem hoor en gehoor laat word. Die Nederlanders praat van "je eigen verhaaltje kwijten". Leon Wessels stel dit so treffend in sy boekie oor menseregte: "My regte! Jou regte? Kom ons praat." Wanneer dit gaan oor myne is daar 'n uitroepteken, wanneer dit gaan om joune is dit 'n vraagteken. Tog is daar ten spyte van hierdie harde opstelling oor my eie die positiewe opsie vir ons almal: Kom ons praat. 'n Uitnodiging om rustig te sit, om 'n tafel, om 'n kampvuur waar ook al, en met mekaar te praat.
Ek vind die verhale oor ons verdeelde of gedeelde herkoms besonder verrykend en 'n geleentheid om asem te haal in die dolle ontwikkelings op soveel terreine in ons land. Hierdie is veral wanneer ons oor kultuurgrense heen oor taal begin praat. Onlangs kon ons by die Universiteit van Pretoria praat uit die hoeke van Sesotho sa Leboa / Sepedi, Tshivenda, Afrikaans en IsiZulu. Die rykheid in ons verskeidenheid word gereeld op Erfenisdag belig. Dit was vir my 'n totaal ander ervaring om dit fisies mee te maak.
Kultuur en die verskeidenheid is in die verlede aangevoer as die rede waarom ons in geskeidenheid moes leef met alle gevolge van dien. Vandag is dit kultuur en die wye verskeidenheid daarvan wat ons al die geleenthede bied om saam te werk aan die eenheid van 'n land, Suid-Afrika. Eenheid in verskeidenheid, noem die Grondwet dit. Wat vir my so mooi is, is om te sien hoe Suid-Afrikaners ten spyte van die skewe kantjies wat ons soms ervaar, doodgewoon voortgaan om mekaar te omarm en saam skooltoe te gaan, saam aan ons sporte deel te neem, saam in die vrugte van ons ekonomie te deel (nog nie heeltemal nie, maar darem). Dis net die politiek wat nog so 'n bietjie moet bykom. Tja, hulle sal nog.
By die ATKV sien ons daagliks hoe dit ongeforseerd, organies en ook dinamies kan gebeur. Ons sing saam, ons is saam op die toneel, redeneer saam, debatteer saam. Niemand hoef bedreig te voel nie. Trouens, daar is nie meer gewere agter ons nie. Wat 'n verademing! Daar is 15,6 miljoen jongmense in ons land wat jonger as 20 jaar is. Hulle leef en beleef Erfenisdag as bevrydend en nie verstikkend nie. Hulle laat hulle ook nie verlei deur politieke partye wat hulle met busse en kos wil verlei nie. Nou-ja, sommige wel. Die oorgrote meerderheid is lief vir hierdie land, is lief vir hulle herkoms en wil doodgewoon hul bydraes lewer, en erken word daarvoor. 'n Nuwe land, 'n nuwe erfenis met ander oë en ander ore. Lekker!

