En dis als te danke aan die winter

  • 2

Die week in woorde

Een maklike manier om die ganse beskawing in twee duidelik onderskeibare tipes te verdeel, is om te onderskei tussen winter- en somermense. Beskou byvoorbeeld die volgende twee aanhalings:

I prefer winter and fall, when you feel the bone structure of the landscape – the loneliness of it, the dead feeling of winter. Something waits beneath it, the whole story doesn't show. – Andrew Wyeth

en

Winter is nature's way of saying, "Up yours." – Robert Byrne

Dis baie byna Mei-maand, en ek raak by die dag meer sensitief vir die natuur se “up yours”. Maar dis nie sommer net aansit nie. I'm really really SAD. (Sien “Seasonal affective disorder”.)

Waar ek vorige jare die boksies langs die meeste van die simptome kon afmerk, begin dinge wel vanjaar vir my ietwat meer rosig lyk.

Dis eerstens te danke aan skryfkuns: ’n klein stukkie vryskut-skryfwerk het genoeg ekstra kontant ingebring dat ek vir my ’n vere-duvet kan koop, iets wat ek al jare lank begeer, maar nog altyd te suinig was om aan te skaf. Die vooruitsig van kwaliteit-tyd opgesnoes in daardie weelderige wit omhelsing laat my byna uitsien na ’n ysige aand of wat. Daar is niks op hierdie aarde wat vergelykbaar is met ’n ordentlike duck-down duvet nie - en dan allitereer dit nog so mooi!

Buiten die drang na ’n duvet, het ek intussen ook besef dat die winter geleenthede skep vir meer interessante uitrustings. Ek hou van die jas wat ek verlede winter aangeskaf het en die vingerlose handskoentjies wat my geliefde se ma vir my gebrei het. Ek hou van spencers en woltruie en kouse wat tot bo die knie kom.

Maar my gunsteling-winterding, dit weet ek nou, is dat winter koejaweltyd is. Koejawels is my leeeeeeeewe, om die uitdrukking van Sarel Seemonster te leen. Ek weet nie waar mense aan die storie kom dat lemoene so is goed vir jou nie. Koejawels bevat vyf maal meer vitamien C as lemoene, en dit het ’n hoë kalsium-inhoud, wat seldsaam is onder vrugte. Koejawels laat die hele wêreld lekker ruik en hulle is die perfekte kombinasie van soet en suur. Koejawels is so wonderlik en fantasties en absoluut perfek dat ek nie kan verstaan hoekom daar so min gedigte oor koejawels geskryf is nie. Mens sou verwag dat daar lang odes, miskien selfs hele bundels, oor die koejawel sou wees, maar nee. Enkele flou gedigte op die Net is al wat ek kan opspoor. Hier is voorbeelde:

Flou koejawelvers 1
Flou koejawelvers 2 (Hierdie een is ten minste ietwat snaaks)
Flou koejawelvers 3

Mis ek iets? Weet iemand van koejawelgedigte wat reg laat geskied aan hierdie wondervrug? Leef die koejawel, onsigbaar êrens, in die Afrikaanse poësie? As iemand kan antwoord, laat asseblief van jou hoor. As jy self die skrywer van ’n uitstekende koejawelvers is, stuur hom aan. As ek niks van enigiemand hoor nie, sal ek aanvaar dat dit my roeping in die lewe is om die koejawel in ’n onvergeetlike vers te verewig, ’n vers met ’n eetbare skil en soet pitte, ’n vers wat iets van die aarbei en net die beste dele van die peer bevat, ’n vers wat die vreemde groen-geel-pienk kleur van die koejawel in die fynste besonderhede sal beskryf. Dit sal my beste vers wees, die een wat ek gebore is om te skryf.

Dat ’n koejawel mens nou so opgewonde kan maak oor die digkuns ... En dis als te danke aan die winter.

Voorgeskrewe leesstof

Ek kan nie een van die bostaande verse oor die koejawel aanbeveel nie, maar my soeke na koejawelverse het my wel op hierdie webwerf laat afkom, en dis een wat jy eenvoudig móét besoek.

Toto Poetry beskryf hul missie as volg:

If English dictionaries define the word poetry, perhaps we can define all English words with poetry. Using experimentation and new media, this project heavily relies on the mathematics of language to create didactic digital poems – one or more for virtually all words in the dictionary.

Gaan na die tuisblad en tik enige woord in die soekblokkie in. Begin gerus met "guava".

 

Op my bedkassie

Vreemde fase vir my bedkassie. Ek probeer omtrent sewe boeke gelyk lees. Op die Kindle is ek doenig met Dave Eggers se kortverhaalbundel How we are hungry. ’n Pakkie van Better World Books het Maandag opgedaag: Photocopies, John Berger se versameling outobiografiese sketse . Ek sien al so lank daarna uit en die sketse is kort genoeg om in pouses tussen ander take vinnig ’n lees te steel. Op die bad se rand lê The Immortal Life of Henrietta Lacks wat ek twee weke gelede by my pa gesteel het. As hy dit nog nie agtergekom het nie, hoop ek nie hy lees hier nie. Dis ’n fassinerende opskrywing van die geskiedenis rondom HeLa-selle, en stel heelwat vrae rondom etiek in mediese wetenskap en pasiënte se regte teenoor mediese vooruitgang. Wanneer dit te ingewikkeld raak lees ek ’n gedig uit Isobel Dixon se bundel The Tempest Prognosticator. En dan, voor ek gaan slaap, ’n essay uit Jonathan Franzen se versameling How to be alone. Ek is gewoonlik ’n meer gefokuste leser. Ek weet nie wat gaan aan nie. Ek hoop maar net ek kan dit uitwerk, of ten minste so gou as moontlik hierdie hopie deurwerk, sodat ek weer met mening op een ding op ’n slag kan fokus. En ek sien dis darem nie heeltemal sewe nie. Net vyf. Miskien is dit doenbaar.

 

Poësie in die nuus

Vandeesweek is die enigste digtende nuusmaker hier ter lande TT Cloete, wat die kortlys gehaal het vir die WA Hofmeyr-prys met sy bundel onversadig. In die buiteland het dit Woensdag bekend geword dat die Vlaamse digter Leonard Nolens, wat ook by die Woordfees opgetree het, vanjaar Die Prijs der Nederlandse Letteren ontvang. Lees die berig daaroor hier.

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


 

  • 2

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

    Ek het laas van koejawels gelees in Ingrid Winterbach (toe nog onder die skuilnaam Lettie Viljoen) se Klaaglied vir Koos – maar dis al honderd of wat jaar gelede.  Indien jy lanklaas regop gesit het, moet jy net bietjie kyk wat daardie boek aan jou doen. 

    Die skor donker naeltjie van die vrug fassineer my altyd, en die dowwerige flou buitekant verklap niks van die binnekant nie – die pienk viering interieur – ‘n binnensmondse milieu eintlik, en die versuursuikersmaak op jou verwonderde tong.  Die Huis van Chanel kan maar daai kleur aanneem wat my betref. 

    Groete 
    Waldemar

  • Ek het onthou dat ek ’n jaar of drie gelede ’n vers oor ’n koejawel geskryf het. Ek sit dit hierby. Dalk geniet jy dit.

    Groetnis
    De Waal

    Koes

    De Waal Venter
     
    Mag ek
    hierdie lappies sonlig
    vir my vat,
    die lieflike duik
    van die duif
    wat net ek gesien het? 

    Mag ek
    die papier-krakeligheid
    van die droë blaar geniet
    wat probeer byhou
    by ’n asemteugie van die wind,
    die uitbundige geur
    van die oopgesnyde koejawel,
    geel, oranje, bulderend
    met macho lustigheid?

    As ek mag
    sal ek dit als voeg
    in my geheue
    se fluweelvoue
    om weer uit te haal en lig te bevoel
    wanneer my bewuste weg is,
    besig om geïrriteerd
    die irrasionele
    lastighede van drome te probeer baasraak.
     
    Ek sal
    die duik, die blaar
    die magiese geur geniet
    gedurende daardie kronkelende tye
    wat nie begin nie,
    wat nie eindig nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top