Emosionele dinamiet

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die eerste keer toe ek appèlregter Joubert se uitspraak gelees het in S v L1 het ek die hofverslag met 'n gevoel van skok op my lessenaar neergesit. Hier voor my was 'n uitspraak van ons land se hoogste hof (die status wat die appèlhof destyds nog beklee het). Die feite daarin vervat was nie die verbeeldingsvlug van 'n TV–draaiboekskrywer nie; dit het wérklik gebeur.

L was 'n mediese student in sy vierde jaar te Bloemfontein. Volgens getuienis was hy geniaal; was hy 'n beleefde jong man, 'n introvert en iemand wat emosioneel baie sensitief was. Hy het 'n verhouding gehad met 'n jong meisie met die naam C wat in Bloemfontein gewerk het. Sy het swanger geraak – iets wat haar ouers baie geskok het. L en C is in Maart 1982 in 'n kerk in Bloemfontein getroud. C se vader wou haar nie na die preekstoel neem nie, omdat sy nie meer 'n maagd was nie.

Finansieel het dit bra moeilik met die jong egpaar gegaan, deurdat L nog gestudeer het. Sy skoonouers het R80 per maand tot die huur van hulle woonstel bygedra en dit het vir hulle die geleentheid gebied om hulle met die paartjie se huwelik in te meng.

Die verhouding tussen L en sy skoonouers was glad nie hartlik nie. Die skoonouers was kil en afsydig en hy was selfs bang vir sy skoonpa. Hierdie toedrag van sake het nie verbeter na die geboorte van hul seuntjie in Oktober 1982 nie. L se studies het agteruit gegaan en gedurende Februarie 1983 het sy skoonouers vir C en die kind in Bloemfontein gaan haal en na hulle plaas in die Oos–Kaap geneem. Hulle het reeds reëlings getref gehad om die kind te doop sonder om eers vir L hoegenaamd daarin te ken.

Waarskynlik onder die invloed van haar ouers het C daarna 'n egskeidingsaksie teen L aanhangig te maak. Boonop het L se skoonpa begin om hom as vaderfiguur vir die jong seuntjie te verdring.

L wou graag sy seun sien en die verhouding met sy vrou verbeter. Hy het per telefoon gereël dat hy hulle gedurende 'n naweek in Julie 1984 sou gaan haal om by sy eie ouers op ’n ander Oos–Kaapse plaas te gaan kuier. Sy vrou was heeltemal inskiklik met die plan, maar toe hy laatmiddag op die afgesproke datum op die plaas van sy skoonouers aankom, moes hy verneem dat sy vrou van plan verander het. Sy sou nie meer saamgaan nie en sy sou hom ook nie toelaat om sy seun met hom saam te neem nie. Sy skoonma het hom wel toegelaat om die slapende kindjie in sy bedjie te sien.

L was uit die aard van die saak ontsteld en het terug gery dorp toe, waar hy die nag in 'n hotel geslaap het. Die volgende dag het hy weer plaas toe gebel om te reël om die kind te gaan haal. Sy skoonpa het hom meegedeel om twee dae later te kom.

Die Maandagoggend – dit was 9 Julie 1984 – het L met sy vrou afgespreek dat hy om sesuur die middag sy kind op die plaas sou kry. Intussen het C en haar ouers daardie selfde middag met 'n prokureur te Aliwal–Noord gaan konsulteer. Hý het die strategies fatale fout gemaak om vir C te oortuig dat sy nie regtens verplig was om die kind saam met sy pa te laat gaan nie. Toe L op die afgesproke tyd op die plaas aankom, moes hy die slegte nuus verneem. Hy het woordeloos omgedraai, in sy motor geklim en teruggery dorp toe. In die hotel het hy rum en Coke bestel en dit weggeslaan. Omtrent halfagt die aand is hy terug na sy skoonouers se plaas. Hy het aan die voordeur geklop en op 'n vraag van sy skoonma het hy gesê dat hy sy kind kom haal het. Toe sy hom meedeel dat hy nie kind kon kry nie, het iets in L geknak. Hy het begin om met sy pistool wat hy by hom gehad het, skote in die huis in te skiet. Uiteindelik het hy, met tussenposes, altesame 21 skote afgevuur, waarvan drie sy skoonpa noodlottig in die bors getref het.

L is daarna van moord aangekla en in regskringe is die uitspraak van appèlregter Joubert van belang, omdat dit gehandel het oor L se verweer dat hy tydelik ontoerekeningsvatbaar was as gevolg van 'n totale sielkundige ineenstorting – ook genoem ’n persoonlikheidsdisintegrasie. Ruimte laat my nie toe om hierdie interessante verweer te bespreek nie.

L is deur die rondgaande hof in Queenstown weens moord skuldig bevind en effektief tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Op appèl is sy gevangenisstraf effektief tot drie jaar verminder.

Ek het aan die begin gesê dat hierdie uitspraak my geskok het – veral omdat 'n mens die gevoel kry dat hierdie tragiese gebeurtenis vermy kon gewees het. Was dit regtig nodig om hierdie pa van 'n jong seuntjie – wat volgens alle getuienis briljant was, beleefd was, goed opgevoed was – tot sulke uiterstes te dryf? Was dit regtig nodig om so kat en muis met hom te speel oor sy toegangsregte tot sy seun? Het die prokureur op Aliwal–Noord regtig objektief die belange van L, sy vrou en hulle kind op die hart gehad toe hy C aangeraai het dat sy moet weier om die kind vir L te gee sodat hy hom vir sy ander oupa en ouma kon gaan wys?

Hierdie saak behoort 'n les te wees vir álbei ouerpare – eie en skoonouers – om tog maar hul neuse uit die kinders se sake te hou. Dit behoort ook 'n les te wees vir mense wat aan die skei is om onder geen omstandighede die kinders as wapens in die egskeidingsgeding te gebruik nie. Les bes moet dit 'n waarskuwing wees vir prokureurs wat egskeidingsake behartig. Hulle moet besef dat – veral as daar kinders betrokke is – hulle met emosionele dinamiet te make het. Dikwels is ’n klein vonkie voldoende om 'n ontploffing te veroorsaak wat onberekenbare gevolge kan hê.

 

1 Ek wil nie ou wonde oopkrap nie en verswyg dus die partye se name. Nuuskieriges kan egter die hofverslag self gaan opdiep by 1988(1) SA 163 (AA).

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

                                                      

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top