ekspedisie

  • 0

op soek na jou
ewige geheime atlantis
my lieflike eiland- hula-
hoep-hoep-nooi
so vroetelrig en sag
in ’n jong vrou
se lyf

deur skel en dorre windstiltes
en gebluste sonlig snags
as die kraters op die maan
tussen sterre weerkaats
diep onder verborge vadems
sonar my klanke hees
onhoorbaar vir die blote oor
wurg die sleeptou
stroef om die nek

dan dobber ek
’n opgeblase rubberboot
met uitgekalfde oogballe
gebroke spane in die stiltes van die keel
ankerloos oor die gesperde horison
van jou stil en afsydige oseaan

met die uitspoel
soek ek jou troos
te mag te loos
te pletter
’n uitgedrenkte breukeling op die nat sand
jou buik ’n nawelrige strand

en ek vreet verleë
die ryp papajas
stroopsoet
uit jou klam geskilde hande

skoon verlore
vir altyd
verlief

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top