Ek dink nie mens kon anders verwag het van die ou groepie ateiste wat deesdae so lostrek op die waarheid wat Kobus de Klerk hier verkondig nie. Ek sien dat selfs ou Johan Wiese, die duiwel homself, saam met sy ateis maatjies Angus, Chris, Thomas en Cornelius Henn, so bietjie sukkel om hond haar af te maak van die eenvoudige konsep wat Kobus aan hulle verduidelik.
Ek dink dat hierdie persone hulself as Intelektueel beskou, en daarmee ‘n enorme ego en meerderwaardigheidskompleks ontwikkel het teenoor ons Godsvresende Christene. Ek sal erken dat hulle, met die uitsondering van Cornelius dalk, beslis Akademies sterk is, maar dit maak glad nie van hulle beter en slimmer mense as ons ordinere Christene nie.
Ek het self slim familielede wat goeie kwalifikasies op Universiteit behaal het, maar niemand van hulle tree op soos hierdie groepie nie. Ook sukkel nie een van hulle om so ‘n maklike konsep soos spirituele Intelligensie of die Christengeloof te snap nie. Selfs ‘n vierjarige kindjie ervaar die Liefde van die Here in hulle harte, en verstaan die konsep agter Jesus en sy Opofferings deur aan die Kruis vir ons Sondes te sterf.
Ek is seker dat hierdie spul ateiste oor hulle voete val om Darwin en Dawkins en die ander paar onbenullige ateistiese skrywers te eer, bloot omdat hulle dink dat dit die regte ding is om te doen vir akademici. Die akademie het al deur die eeue bewys, dat hulle nie God goedgesind is nie, en aap mekaar na, generasie op generasie. Niemand bring enige feite vorendag wat bewysbaar is nie, maar sing mekaar lof toe, bloot omdat dit die regte en snobistiese ding is om te doen.
Dus, vir hierdie akademici en gesante van die duiwel, kan ek net voor bid. Ek ken baie slim mense wat God ten volle eer en Hom as hulle persoonlike middelaar aanvaar. Hoekom hierdie groepie nog dink dat hulle houding hulle beter as ander maak, sal net hulle weet. Op die einde van die dag sal hulle moet verduidelik hoekom hulle so graag ander mense wou aftakel,en God minag en verwerp net omdat hulle van mening was dat dit die akademies korrekte ding is om te doen.
Tant Alie


Kommentaar
Liewe Tant Alie,
Ek hoop dat dit baie goed met Tante gaan. Ek verstaan hoekom Tante my die duiwel noem, maar ek het mos nou al lank gelede aan tante verduidelik dat Mastema slegs my troetelnaampie is. Ek glo nie in die duiwel nie, so ek kan nie die duiwel homself wees nie.
Tante, ek is ook nie regtig 'n geleerde man nie, en ek is ook nie snobisties oor die dinge wat ek weet nie. Ek het baie respek vir die dinge waarin tannie glo, want ek is self 'n ou man wat met baie ander ou mensies te doene kry wat soos tante glo. Tante is regtig welkom om bietjie meer te skryf aan my en Tante se bybel met my te deel.
Ek wonder net hoekom Tante nou dink dat ons mekaar na-aap. Ja daar word voortgebou op sekere teorieë, maar baie van die teorieë staan ongeskonde en het die toets van die tye deurstaan. Die evolusieteorie was maar 'n basis gewees waarop voortgebou moes word. Ek dink regtig Tant Alie, dat jy 'n slim vrou is. Ek glo ook diep in my hart dat Tante juis oor die kennis beskik om die evolusieteorie te snap. Dalk moet Tante net die sprong neem en begin oplees oor evolusie voordat tante 'n opinie daaroor lewer. Tante is tog tot baie meer instaat, moet nie Tante se eie kennis onderskat nie.
Ek is nie Tante se vyand nie, maar kan Tante se vriend raak en tante dalk deur hierdie proses van ontdekking help! Laat gerus weet as Tante enige basiese vrae het oor evolusie. Tante is welkom om dit aan my te rig, ek sal met graate Tante help om die sprong na rasionele denke te maak. Ek dink Tante twyfel in elk geval in Tante se hartjie as ek so tussen die lyne lees. Dit is net daardie laaste sprongetjie wat gemaak moet word, en dan is Tante ook een van ons!
Al verstaan mens 'n konsep 100% beteken dit nie dat jy dit gaan aanvaar nie.
Ek verstaan die idee van Jesus wat óf die sondes van die mensdom wat hulle in hulle leeftyd gepleeg het op homself geneem het óf die skuld vir die erfsonde, die oorspronklike ongehoorsaamheid van die mensdom moes betaal het. Dit is soos jy sê nie so kompleks nie maar ek verstout myself tog om te sê dat 'n vierjaaroud effens gaan sukkel om dit te verstaan. Ek weet egter ook dat Jesus pertinent gesê het dat niemand vir die sonde van 'n ander gestraf word nie (nadat hy die blinde man genees het). Dit laat my dink dat Jesus wat instaan vir die sondes van die wêreld nie heeltemal op sulke vaste grond staan as wat sommige Christene glo nie.
Die oorweldigende meerderheid akademici in Suid-Afrika is godsdienstig. Selfs in die natuurwetenskappe is die aantal ateïste en agnostici 'n minderheid en van die is daar nog 'n kleiner minderheid wat Dwakins se tipe militante anti-godsdienstigheid aanhang. Die groepie wat wel so glo en optree doen dit nie om in te pas by die res van die akademie nie, hulle glo hulle doen die regte ding. (Of hulle is sommer net dwars en hou van baklei...)
Hallo Tant Alie,
Ons ateïste, soos Johan vir tante tereg daarop gewys het, glo mos nou o.a. glad nie aan die duiwel en sulke goed nie. Christene — JA? — dis hulle wat glo. So, tante bid vir die verkeerde groep. En bid tog sommer vir al die misdaad en onheil in ons land en die korrupsie onder die amptenary en dat Namakwaland nie so gestraf moet word met periodieke droogtes omdat dit so rof gaan innie Kaap en Johannesburg en daai plekke nie. Ek kan nie glo dat niemand nog daaraan gedink het nie of is die storie van "Vra en vir jou sal gegee word" dalk nie waar nie? Of hoor niemand dalk die geprewel nie?
O ja! — dis vir my nuus dat tante vir Cornelius Henn ook as ’n ateïs klassifiseer. Hy het vir my nog altyd na ’n uiters gelowige Christen geklink. Of is hy dalk 'n ateïs omdat hy en Kobus nie beste pêlle is nie?
Groete
Panda
Tant Alie
Ek hoop u bid regtig baie ernstig vir die duiwel ook.
Dink net, as die duiwel "bekeer" kan word, sal geen mens ooit brand vir alle ewigeid nie.
As ek dit reg verstaan, was dit die doel van Jesus se menswording, kruisiging en opstanding uit die dode om alle mense te "red". Glo vir alle mense se "saligheid". Kan 'n "almagtige" god dit nie eens organiseer nie?.
Kleinkoos
Ek lees laasweek in Die Burger hoe 'n joernalis dit betreur dat mense snert op die Internet kwytraak, dalk net om hul eie ego te streel. As mens Kobus (is jy Hans Richart se tweelingboet? Die pseudo-wetenskaplike nonsens wat alles op die twyfelagtige Wikipedia gebaseer is en die infantiele pogings to argumentering is so dieselfde) se onbeheersde, beledigende getjommel lees - ek dog Christene toon naasteliefde - kan jy die joernalis se stelling begryp.
Dis ook opvallend dat mense soos Tant Alie van "die ou groepie" en so aan praat - regtig op 'n neerbuigende manier, terwyl sy kastig nederig (of dalk onbewustelik eerlik?) bieg oor haar intellektuele beperkings. As jy iemand 'n "duiwel / sy gesant" noem, gaan jy hom tog nie oortuig na jou kant toe nie, so wat wil jy doen? Behalwe beledig en juis jou (sogenaamde geestelike) meerderwaardigheid toon? Of wil jy jou geesgenote beindruk? Beslis nie ateiste nie - so ek stel voor jy probeer dan eerder heuning as die kwetsende vitrioel wat jy spuug, vergete nog asyn-vir-vliee. En ja, as jy 'n oorlog soek, leer jou vyand ken - lees tog iets anders as Die Bybel, en kyk wat die res van die planeet dink. Of, doen almal 'n guns en verdwyn, want nie net doen julle julle saak oneer aan nie, maar verveel julle mense wat graag oor feite en ingeligte menings wil lees.
Bowenal, probeer Jesus se boodskap van naasteliefde begryp.
As U Blief
Frans W Uys
Dankie vir die ondersteuning, Tant Alie.
Panda, vir jou wat van God en sake Gods absoluut niks weet nie, sal Cornelius soos 'n gelowige klink, bloot omdat hy die Naam van die HERE vir sy eie doeleindes misbruik. Maar nie een van julle het die Spirituele vermoëns, kennis of insig om te weet wanneer 'n mens opreg omgaan met die Naam van God of wanneer 'n mens laster met die Naam van God, soos Cornelius doen, nie.
Tant Alie is natuurlik reg - omdat sy oor al die nodige Spirituele vermoëns beskik, 'n geskenk van God wat sy aangeneem het en terdeë benut en geniet - oor julle duiwelse gesantskap. Die satan sal mos nie homself aan julle openbaar nie, want dan sal julle verseker onwillig wees om hom te dien. Maar dien, die dien julle die satan, want hy het julle suksesvol bedrieg deur middel van julle verwaandheid en selfliefde en al waarin hy belangstel is om julle van God te vervreem. Julle is marionette in sy realm, en julle besef dit nie eens nie. Hy het met julle bereik wat hy wou en waarmee hy goed is - hy het julle selfsug en verwaandheid gebruik om dit te bewerkstellig - iets waarmee hy 'n spesialis is en die rede (verwaandheid en selfvoldaanheid) waarom hy saam met ander uit die Hemel geskop is en sedertdien hier op aarde rondsluip en an kyk wie hom ten prooi kan val - en julle, tragies soos dit is, het hom inderdaad ten prooi geval.
Julle is bedroë skepsels.
Kobus de Klerk