In hierdie tyd van blinkende en dansende sangers en bactrack-benewelde brannas-drinkers by kunsfeeste se gratis tente word mens selde deur regte legendes gekonfronteer. Ek het so vyf jaar gelede aan ’n gedigte-aand by Steak ’n Ale in Pretoria deelgeneem. En my in een vasgeloop. Sedertdien het ons hegte vriende geword.

Eckard Potgieter woon saam met Melanie (die vrou in sy lewe) en hulle twee pragtige kinders Peter en Lisa (hulle ander dogter Karla is ook ’n gereelde gas) op ’n stukkie grond naby Donkerhoek net buite Pretoria. Deesdae spandeer hy die meeste van sy tyd in die Emirate en dis dié dat ek so opgewonde was toe ek sy braai-uitnodiging ontvang. Die vuur is al aan die brand en die voornemende skoonseun is reeds dorp toe vir vloeibare voorraad toe ek daar aankom.
Soos sulke dinge nou maar werk, bevind ek my sommer gou voor die vuur met ietsie kouds in die hand. Eckard is in ’n verslete rugbybroekie en gebleikte hemp doenig met die vuur. Kaalvoet en gemaklik in sy eie vel, hier in die amper-amper Bosveld net neffens Pretoria. Ek dink aan ’n staaltjie wat my vriend Bacchus Nel my vertel het.
Destyds, toe hy aan die begin van sy loopbaan was, het hy as heeltemal onbekende musikant kontak gemaak met Eckard in die hoop dat hy hom dalk sou help om sy loopbaan aan die gang te kry. Potgieter het dadelik aanbeveel dat Bacchus sy tuisdorp Standerton verlaat en hom in Pretoria kom vestig. Hy het ook aangebied dat Bacchus, vir ’n begin, sommer by hulle bly tot hy op sy voete kon kom. Op ’n vraag van Nel oor hoeveel huur hy moes betaal, het Eckard gesê hy soek nie geld nie, hy is niemand se grondbaron nie.
Byna ongesiens en sonder enige rooi tapyt het Eckard hierdie week die land ingesluip. Op Facebook was daar hier en daar iemand wat opgewonde was, maar oor die algemeen het hierdie seun van Afrika se terugkoms skaars ’n rimpel veroorsaak. So bevind ek my nou langs hierdie nederige vriend van my terwyl ek so in my binneste herkou aan alles wat hy in sy lewe aangevang het.
Eckard Potgieter het in 1976 uitgevind die Springbok Hits is cover versions en in ’77 vir Elvis die eerste keer gehoor (Bob Dylan ontdek hy eers later, in ’79), en sedertdien was niks ooit weer dieselfde vir hom of Afrikaanse musiek nie. Sy vinielplateversameling waaraan hy sedert ’77 bou, trek vandag by oor die 10 000 plate.
Tydens sy diensplig ontdek hy deur ’n medesoldaat die musiek van die destydse groep Wildebeest (waarvan bekende hedendaagse musiekman Piet Botha ’n lid was), en dis min of meer hier waar hy sy hart verloor op Suid-Afrikaanse musiek. Piet en Eckard word uiteindelik groot vriende en deur Piet en sy band leer Eckard die musiekbesigheid eers as roadie en later as bestuurder ken.
In 1985 begin Eckard ’n platestalletjie by Barclay Square se vlooimark elke Saterdag en ook by Sunnypark elke Sondag. Nege jaar lank werk Eckard vyf dae ’n week in ’n kantoor en verkoop naweke CD’s, plate en boeke dat die biesies bewe.
Skrywer en joernalis Dana Snyman was destyds een van sy gereelde klante. “Ek het met my fiets seker drie Saterdae in ’n ry al die pad na Eckard se stalletjie laat wiel om te gaan hoor of die eerste Koos Kombuis tape (Ver van die Ou Kalahari) al gekom het. Ek het nooit geld gehad nie en het maar altyd met ’n swaar hart van my beste boeke by Eckard geruil vir musiek. Die soort Afrikaanse musiek wat mens nêrens anders kon koop nie. Ek was heeltemal onbekend gewees. Hierdie klein pyn-in-die-dinges arm outjie en tog het Eckard nooit omgegee nie en altyd mooi vir my gesorg.”
In 1986 hoor Eckard vir die eerste keer die musiek van André le Toit, James Phillips en die Kalahari Surfers, en in 1987 raak hy bevriend met Lloyd Ross, eienaar van die onafhanklike platemaatskappy Shifty Records. Ross begin ook om Eckard se vlooimarkstalletjies te gebruik as die amptelike Pretoriase afsetpunte vir sy platemaatskappy se produkte.
Potgieter se Mainline Music maak in 1994 hulle deure oop in Hatfield, en vir die eerste keer ooit kan Pretorianers hulle musiek koop by ’n winkel wat spesialiseer in Suid-Afrikaanse musiek. Daar sou uiteindelik ses takke deur Gauteng en Mpumalanga versprei wees.
Wildebeest Records word in 1994 gestig en Jackhammer se album Death of a Gypsy word opgeneem onder leiding van regisseur Philip Nel. Die jonge Lanie van der Walt (vandag die eienaar van Wolmer Records en ook bekend as bassis van die groep Not my Dog) slaan die lead-kitaar tydens hierdie opnames.
Eckard en Wildebeest beding ’n verspreidingskontrak by Universal, een van die heel grootstes in die internasionale vermaaklikheidsbedryf, en skielik begin mense oral Wildebeest-produkte raak te loop.
Die Wildebeest-span stuur ook Piet Botha se Death of a Gypsy-album na ZZ Top se bestuur en laasgenoemde is so beïndruk met die musiek dat hulle Jackhammer nooi om saam met hulle deur Suid-Afrika te toer. Die toer is ’n reuse-sukses, maar ewe belangrik ontmoet Eckard en sy suidelike geesgenoot, ene Dagga-Dirk Uys, mekaar in die Kaap tydens die avonture. Uys is die eienaar van Wildebeest se Kaapse eweknie, Trippy Grape Records. Saam sou hierdie twee nog vele planne smee en uitvoer.
Die middel- tot laat ’90’s is Wildebeest-wêreld en hierdie jong platemaatskappy staan vir niemand terug nie. Sodoende bereik Afrikaanse musiek ook nuwe, voorheen ongekende hoogtes. Wildebeest stel Valiant Swart se byna magiese Dorpstraat Revisited met groot sukses vry. Alle CD’s van die eerste oplaag word gou verkoop en ’n (toe nog) relatief onbekende Valiant kan sy eie kombi met die opbrengste koop. Eckard woon Anton Goosen se 50ste-verjaardag-partytjie op uitnodiging van Piet Botha by, wat later daartoe sou lei dat Wildebeest die meeste van Goosen se ou plate in CD-formaat herdruk en weer uitgee.
1997 is ’n groot jaar vir die mense van Wildebeest. Valiant Swart se Kopskoot-album word by Sunset Recordings buite Stellenbosch opgeneem. Jurgen von Wechmar doen die regie. Eckard slaag ook uiteindelik daarin (na 10 jaar se gesukkel) om Piet Botha om te praat om in Afrikaans te begin skryf. Die Wildebeeste reël die Kopskoot 1/Rock Befok-konsert in die Amfiteater by Tuks. Michelle Constance en Rian van Heerden is seremoniemeesters. 4 000 mense daag op. Dis ook die eerste keer dat Piet Botha in Afrikaans sing in die publiek. Die show eindig met Valiant, Koos Kombuis en Piet saam op die verhoog.
Later die jaar neem Wildebeest Botha se legendariese Suitcase vol Winter in Sunset Studios op. Eckard self neem die regie waar. Dana Snyman (teen hierdie tyd ’n jong joernalis) besoek die studio tydens die opnames en kry trane in sy oë as hy die musiek hoor. Hy noem dit vandag nog een van die heiligste dae in sy lewe.
Eckard skryf persoonlik ’n brief aan die Sensuurraad om te pleit vir die opheffing van die verbod op die besit en verspreiding van Randy Rambo en die Roughriders se Die Saai Lewe. Hy slaag hierin en die album word op CD herdruk en vrygestel.
Tesame met Junior Botha, Jan Maloney en Neil van der Spuy skryf Eckard 16 Stoutgat Treffers en neem dit op. Stoutgat Treffers word uitgegee en ondanks Universal se aanvanklike besware en teenkanting verkoop hulle meer as 120 000 eenhede.
Hy ontmoet digter en liedjieskrywer Gert Vlok Nel en sien hom vir die eerste keer in lewende lywe optree by die destydse Teaterhuisie. Later word Eckard saam met Piet Botha deur Dirk Uys afgevlieg vir die Wingerdstok-fees by Franschhoek. Hy teken ’n recording kontrak op ’n leë Camel-pakkie met Koos Kombuis in Woodstock en gee hom ’n R20 000-voorskot, iets wat ongehoord was in die Afrikaanse musiekbedryf van daardie dae.
Hierna neem hulle Madiba Bay en Blameer dit op Apartheid van Koos op en stel dit by Oppikoppi vry as Koos se Boks. Wildebeest stel ook hierdie jaar albums vry soos Die Transformers (die ou Radiators), Dorp se Five Steps Of The Pacemaker en Wonderboom se eerste kortspeler, Is It?.
In 1998 neem Wildebeest een van die heilige Afrikaanse albums op: Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufort-Wes word by Sunset Recording Studios verewig. Geen amptelike bekendstelling word vir die album gehou nie, maar die eerste CD’s is reeds beskikbaar by Wingerdstok in Worcester en daarna by KKNK, waar ene Johannes Kerkorrel persoonlik ’n kopie by Eckard aanskaf.
Potgieter ontmoet die Dennis-broers en doop hulle Akkedis nadat hulle saam met Valiant en Vernon Swart by Vernon se huis in Helshoogte gekuier en ’n bottel Akkedisbult sommer so direk uit die bottel pak gegee het. Wildebeest wen ook met Koos se Boks ’n SAMA-toekenning vir beste verpakking.
In dieselfde jaar vertrek Eckard na die Lae Lande in ’n poging om die musiek van Wildebeest se kunstenaars aan ’n Europese gehoor bekend te stel. Hy ontmoet Stef Bos in Hilversum, waar Stef en Koos ’n opvoering op Radio 2 doen. Die res van die reis verloop nie volgens plan nie – Eckard en Wildebeest is ’n hele paar jaar te vroeg en die Europese publiek is nog nie ryp vir Suid-Afrikaanse kunstenaars nie. Hy voer egter nogtans onderhandelinge met Stef Bos se platemaatskappy in Brussels en verkry die regte om al sy albums in Suid-Afrika op die Wildebeest-label te versprei.
In dieselfde jaar gee Wildebeest albums uit soos Dorp se Danger, Gevaar, Ngosi, die Jack Hammer Anthology (met twee nuwe snitte gesing deur ’n bloedjong Johnathan Martin), Boy van die Suburbs en Liedjieboer plus Kommissie van Ondersoek van Anton Goosen (wat hermeester en op CD herdruk is), Akkedis se Husse met Lang Ore, asook die Houtstok-kompilasie. Wildebeest neem ook weer die Oppikoppi-fees op en bring hierdie keer ’n dubbel-CD uit, met Peter Pearlson in beheer daarvan.
In 1999 word Valiant Swart se Deur die Donker Vallei by Sunset Recording Studios opgeneem en deur Wildebeest vrygestel. So ook Mona Lisa (Die mooiste liefdesliedjies van Koos Kombuis). Wildebeest neem een van die grootste verkopers van alle tye in die Afrikaanse bedryf op, in Theuns Jordaan se Vreemde Stad, wat onder leiding van Jurgen von Wechmar by Sunset Studios gemaak word. Stoutgat Rugby Treffers word ook opgeneem en vrygestel en behaal vinnig goue status.
In 2002 bou Eckard met sy eie hande die nuwe Melkstraat Studios by sy huis in Melkstraat, Groenkloof (Pretoria). Die nodige klanktoerusting koop hy tweedehands by Junior Botha en dit is heel gepas dieselfde toerusting waarmee die Stoutgat-albums opgeneem is.
Melkstraat raak dadelik besig en hulle neem Volk Jou Ook, Vol 1 (18 Liefdesliedjies vir Vrydenkende Afrikaners) op. Hierdie kompilasie sluit die werk in van ’n klomp heeltemal onbekende jong kunstenaars (met die uitsondering van Alta Joubert, wat al voorheen opgeneem is); nuwe name wat hier vir die eerste keer opduik, is mense soos Jan Blohm (op die CD as George Harry), Bacchus Nel, Seeleeu Leipoldt (beter bekend as die akteur Erik Holm) en Adam Tas. Eckard kies ook Tas se verhoognaam nadat dié homself aanvanklik Breyten Krog wou noem.
In 2003 werk Jan Blohm vir ses maande lank aan sy eie solo-debuutalbum (Melkstraat Confessions) en die album is die laaste een wat deur Wildebeest uitgegee word. Blohm se album wen in die daaropvolgende jaar nie minder nie as drie Geraas Musiek-toekennings: dié vir beste album, beste song en beste nuweling.
Oor Eckard Potgieter en Melkstraat sê Blohm: “Eckard was nog altyd vir my iets van ’n Allan Lomax, nie met ’n Model T en ’n grammofoon-opnemer nie, maar met bier en ’n klomp kwinkslae (hy het wel ’n baie ou Volvo gery en ek sien graag Gert Vlok Nel as my eie Robert Johnson). Daar was ook altyd ’n element van Charles Bukowski teenwoordig, sy grootste poetry was juis om ’n katalisator te wees en sy visie was een van vuur. Ons kon in Melkstraat sing tot die son opkom, en dan nog. So het Rooiwyn en Mary-Jane tot stand gekom. Ek onthou nie presies hoe nie, maar ek weet dit het iets gesê van die Melkstraat groep; Ja pass die bottel, maak my weer sane.”
Eckard se ander gaste begin stadig maar seker opdaag en voor ek my oë kan uitvee, is daar sommer ’n hele spul mense voor die vuur vergader. Party, soos ek, is relatief nuwe vriende, terwyl ander dekade lange pelle is (sedert hul studentedae by Tuks se Huis Boepens). Die aand raak swaar en begin stadig daglig se kant toe oorhel (met sulke geselskap waarskynlik eerder oorhemel). Eckard hou moeiteloos die geselskap besig en ek kan nie help om weer aan Bacchus se staaltjie te dink nie. Eckard Potgieter, musiekman, vriend en deesdae ook sommer Donkerhoekse grondbaron.
Soos in die meeste hoëprofiel-besighede wat ophou bestaan, is daar waarskynlik vandag nog mense wat nie van Eckard Potgieter en Wildebeest Records hou nie. Dit is egter nie hierdie artikel se doel om dié mense se stories te vertel nie. Eckard Potgieter het in minder as tien jaar met Wildebeest wondere verrig. Gaan staan vandag voor jou CD-versameling en dink hoe karig dit daar sou uitgesien het sonder mense soos Koos Kombuis, Gert Vlok Nel, Piet Botha, Valiant Swart, Anton Goosen, Jan Blohm, Bacchus Nel, Akkedis, Theuns Jordaan en Die Naaimasjiene.
Soos Koos Kombuis tereg opmerk: “Eckard Potgieter was die Hunter S Thompson van Afrikaanse musiekverspreiders. En wat jy ook al sê, onthou hy het vir Jan Blohm ontdek. Twee goeie redes om ’n standbeeld van hom iewers op te rig.”

