Lank, lank gelede was daar ’n drakie wat graag wou vlieg. Sy mamma het aan hom verduidelik dat hy nog te klein is om te vlieg. Toe eet Nollie vir baie dae aanmekaar alles wat hy kon. Hy het baie gehou van die bessies en boomblare, maar die rissies het sy mond gebrand en die brandnetels het sy keel gekrap. Nogtans het Nollie dit geëet, want hy wou groot word sodat hy kon vlieg.
Die volgende week het hy voor sy mamma gaan staan en gesê: “Mamma, ek het vreeslik baie geëet. Ek is seker ek is nou groot genoeg om te kan vlieg.” Mamma Draak het geglimlag en gesê: “Ai, Nollie. Dis nie wat ek bedoel het nie. Ek het bedoel jy is te jónk om nou al te kan vlieg.” Die res van die dag het Nollie gedink aan ’n plan om nie meer te jonk te wees nie. Hy wou vrééslik graag vlieg.
Toe kry hy ’n slim plan. Vir die volgende week het Nollie elke dag verjaar. Hy het al sy maats laat weet dat hy elke dag verjaar. Hulle het elke dag partytjie gehou en hy het elke dag kersies op sy verjaarsdagkoek uitgeblaas.
Die volgende week het hy voor sy mamma gaan staan en gesê: “Mamma, ek het elke dag verjaar. Ek is seker ek is nou oud genoeg om te kan vlieg.” Weer het Mamma Draak geglimlag en gesê: “My liewe Nollie, moenie jouself groot wens nie. Geniet jou lewe as ’n klein drakie.” Nollie het hartseer weggesluip en eenkant in ’n grot gaan lê. Die volgende dag was Nollie in ’n vreeslike slegte bui. Wanneer iemand met hom kom praat het, het hy net geblaas en geraas. Nollie was selfs nog te jonk om vuur te blaas. Sy drakie-maatjies het hom liefs alleen gelaat. Wie wil nou speel met ’n grompie soos Nollie?
Die klein drakie was baie jammer vir homself. Hy het gedink: “Nou is ek nie gróót genoeg om te kan vlieg nie, ek is nie óúd genoeg om te kan vlieg nie, en ek het ook nie maatjies nie.” Hy het ’n allemintige groot sug gegee. Aag ja!
Daar het Nollie in die grot gelê en luister hoe lekker sy maats speel. Hulle het gelag en baie pret gehad. Dit het Nollie weer ’n allemintige groot sug laat gee. Aag ja!
Maar wat? Weer het hy gesug: “Aag ja!” Sowaar! Dit het weer gebeur!
Met die volgende sug was Nollie seker. Hy het vuur begin blaas! Dit was wonderlik! Nollie het dadelik opgespring en na sy maats gehardloop.
“Kyk, julle, kyk net, ek kan vuur blaas!” Nollie sug weer: “Aag ja!” en ’n vlam blaas uit sy bekkie.
Sy maats was baie beïndruk. “Ou Nollie, nie een van ons kan al vuur blaas nie. Jy is besig om vinnig groot te word!” Nollie hou sommer baie daarvan dat hy die eerste drakie in die groep is om vuur te kan blaas. Hy weet nou dat hy sommer binnekort sal kan vlieg ook!
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

