Grevilleas, 15 September 2012
Waar is die grond vir die wortels
en hoe skuif ek die diafaneboom
om dit hier in die verste plant?
reën bedrup die dorpstuine
maar die verbeelding skep die naggeluide
honde blaf en die dorpstrate word stil
die purper nag hurk op ons palms
en ons soek ’n plek, verder en hoër
’n dromende melkpad na die digterstuin
hoe nooi ek dié een
wat altyd die anemone geplant het
om weer die blombedding te bewerk?

