Chris,
Jou verweerde, verrotte en verlate Trojaanse perd staan steeds op die strande van Dardanelles buitekant Troje (joue het dit nooit tot binne gemaak nie) en tuur saam met Troje oor die geklots van getye wat kom en gaan …
Waarom moet julle jul só verknog aan wat gesien en bevoel kan word? Besef jul nie dat dié ook eens onsienlik en onaanraakbaar in die siel van ’n mens was, voor dit in boekvorm vergestalt is nie?
Daarom.
Baie rekords het weggeraak… ander weer, nie. Wat daar is, is waarskynlik maar ’n druppel in die emmer van wat was en selfs nog gevind kan of gaan word. Feit is, hul algar het ontstaan uit kennis wat eers in die boesem van ’n mens was – tóé was dit al kennis, nie eers toe dit op skrif gestel is, nie.
Staak dus die nodelose gekibbel en geskarrel op soek na tasbare dokumente wat sou moes bevestig wat tans wél op skrif is.
Ou volkere en geslagte had maar báie min gebruik vir die geskrewe woord. Dinge was meestal by wyse van noukeurige oorlewering gedoen – dit is maar eers met tyd dat dit verander het. Vandag nog, word it só gedoen onder die oorgeblewe inboorlingstamme van Amerika en elders – en die mondelinge oorlewering geskied met baie sorg ter wille van akkuraatheid en as deel van die geheel-ervaring daarvan as groep.
Die feit is, in ’n stadium het die ou geskiedskrywers besluit om dinge ook te boekstaaf. Maar dit wat geboekstaaf was, het gekom en gedateer uit eeue voor die boekstawing – dit is tog eenvoudig om te verstaan. Dus, wat jy vandag lees, wat gister geboekstaaf is, is kennis uit antieke dae.
Dan is daar natuurlik nog die ander aspek wat julle oppervlakkige outjies óók nie kan baasraak nie – die kwessie van Goddelike ingewing en insig. Die Lewende Gees van God Wie in wese bevestig en onderrig omtrent dit wat geboekstaaf is. Kyk, hierdie aspek is jul Achilleshiel. Daarby kan jul net nie verbykom nie. God Lewe – en het nog altyd gelewe, en uit God ís alle lewe. Dus, God het gelewe toe die antieke volkere hul oorlewerings gedoen het. Tóé het God mense daarvoor en daarmee geïnspireer. Later, toe dit geboekstaaf is, wéér so, deur dieselfde Lewende God. Nou, soos ons hier sit en praat daaroor, wéér so deur dieselfde Lewende God en só sal dit altyd wees.
Oor dié aspek staan julle verbysterd. Al reaksie wat jul kán lewer, gegewe jul onvermoëns en stomme onkunde in daardie verband, is óf ’n kinderagtige gekoggel (kyk maar Thomas en Angus) óf stilte (druk kop-in-sand en maak asof nie bestaan nie) óf ’n angstige, venynige ontkenning sonder substansie, steunende op irrelevante politieke wysers en antagonistiese sekulariste soos prof. Gary Rendsburg. Áltyd dié kenmerk – antagonistiese sekulariste of agnostici. Wanneer sal julle leer dat dié mense, nes julle, met bevooroordeelde bril lees, soek en skrywe en derhalwe beteken hul opinie, nes jul eie, oor ander se belange en kennisveld, waarvan hulle nie deel kan en wil wees nie, werklik niks.
Groete,
Kobus de Klerk

