Die verskil tussen swart en bruin

  • 0

Tragies genoeg het Heindrich Wyngaard 'n paar weke gelede in Sondag Son ’n substansielose oefenlopie gedoen om Pieter Mulder se miskonstruksie van Africans (alle swartes) se verlede te verdedig en te regverdig. Dit is nie verbasend nie, want Wyngaard se ras-denke vind deurlopend in sy skryfwerk neerslag.

Hy skryf Mulder, leier van die VF+, was in die kol toe hy in die parlement oor grondhervorming gesê het “swartes was nie die oorspronklike (of ‘inheemse’) inwoners van die Wes- en Noord-Kaap nie. Dit is mos so. Moet nou asseblief nie hierin rassisme probeer ruik nie.”

Wel, ek’s jammer om te sê, maar dit is presies wat Wyngaard gedoen het. Hy probeer ook om verdere verdeeldheid tussen swart en bruin te bevorder, wat by ’n vroeëre rubriek van hom aansluit waarin hy na transformasie as “swart winde van verandering” verwys het.

Mulder se argument oor wie “eerste en laaste” in Suid-Afrika was, is kunsmatig en bloot irrelevant.

Die “kernbeginsel” van die vryheidsmanifes is duidelik dat Suid-Afrika behoort aan almal – swart en wit. Nie aan wie “eerste” hier was nie. Boonop is die bepalingspunt vir grondhervorming in die wetgewing en beleid 1913.

Dit is ’n redelik aanvaarbare onderhandelde skikking (tussen die ANC en NP) wat sal moet verseker dat die “kernbeginsel” van die vryheidsmanifes en die aanhef van die 1996-grondwet neerslag in ons ontluikende demokrasie vind.

As die bepalingspunt byvoorbeeld terug verskuif word tot voor 1652 (Jan van Riebeeck se aankoms) sal wit mense geen aanspraak kan maak op een millimeter stukkie grond nie.

Dit sal onmenslik wees en versoening op ’n glybaan na die (vrot) asblikke van die verlede neem. Dit wil ons mos nie hê nie, of hoe?

Mulder se “eerste en laaste” argument was en is ongetwyfeld kleinlik, waarmee hy sy beeld onherstelbare skade aangerig het.

Wyngaard voer dié denkfout verder deur te skryf: “[D]ie mense wat wel aanspraak kan maak op die Wes-en Noord-Kaap, is die Khoisan en hul afstammelinge; die bruin mense.”

Hoekom?

Wyngaard ontken dat die Khoi en die San swart (African) is. Daarom ondersteun hy Mulder se drogargument dat swartes nie op 40% van die land (Wes- en Noord-Kaap) kan aanspraak maak nie.

Dit is nie net ’n onmenslike denkfout nie, maar vergestalt beide se historiese armoedigheid. Daar het voor 1652 kulturele assimilasie tussen die Khoi- en swart groepe plaasgevind. Vandaar die kruisbestuiwing tussen dié groepe se tale. Die klik-klank van die Khoi-tale is byvoorbeeld vandag in Xhosa aanwesig.

Anders as Wyngaard beskou “swart” Afrikaanse non-racialists soos Jakes Gerwel, Franklin Sonn, Allan Boesak en andere hul as trots swart – soos dit is en hoort.

Verlede jaar het Gerwel tereg na Adam Small, Richard van der Ross en Desmond Tutu in dieselfde asem as “drie swart baanbrekers van UWK” verwys.

Die verskil tussen swart en bruin is soos die verskil tussen Jacob Zuma en Thabo Mbeki. Dit is etnies van aard. Albei is egter van die swart (African) ras.

Hou op om die “aaklige” in swartheid te sien en vind vervuldheid in die feit dat alle mense na die beeld van God geskape is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top