Die spook van Uniondale

  • 21

Bestaan spoke of geeste (die Engelse woord is “spirits”) nog? Of het dit uitgesterf met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika? So het ek gewonder toe ek onlangs op ’n Oos-Kaapse plattelandse dorpie gekuier het.

Dit is nadat ek ’n swart gewaad in die Karoo-donkerte gewaar het. Kyk, die oumense het ons mos “geleer” hoe om vas te stel of dit die ware Jakob is.

Wie onthou nog die storie van die Uniondale-spook? Die dame wat grusaam verongeluk het terwyl sy op pad was om te gaan trou. Motoriste wat die dame met die trourok ’n ryloop-geleentheid gegee het, het besef dat dit ’n spook was eers nadat sy soos ’n groot speld uit die motor verdwyn het.

My oorle oupa het ons altyd met vreesaanjaende spookstories vermaak. Ja, dit was vreesaanjaend, maar dit was ook pure pret om na die bangmaakstories te luister. Ek het altyd uitgesien na skoolvakansies en die hope spookstories. Gevolglik het ek altyd swaar aan die slaap geraak. Die donkerte het ek ook nie altyd maklik aangedurf nie. Veral as daar ’n bekende persoon onlangs dood is.

Volgens my oupa was dit moontlik om ’n spook te sien, maar dié voorreg het nie almal te beurt geval nie. Een van die vereistes om ’n spook te sien is glo om “met die helm gebore te word”. En glo my, nie almal van ons is met dié besonderse eienskap gebore nie.

Jy moes ook in die regte posisie wees om ’n spook te sien. As jy op jou voete gestaan het, sou jy glo nooit die spook kon sien nie. Jy moes glo skielik platval of hurk en na die voete van die persoon kyk om vas te stel of dit op die grond is. Indien nie, dan was dit ’n spook.

Terug by my “spook-ervaring” in die Karoo. So steek ek toe vas in my spore toe ek die swart gewaad gewaar. Wie kan dit nou wees? Is dit miskien ’n skelm wat moeilikheid soek?

Nee, hoekom praat of maak die persoon dan geen geluid nie?

Die gedagte dat dit ’n spook kon wees, het onwillekeurig by my opgekom. Ek het skielik platgeval om te kyk of die persoon “tussen hemel en aarde” loop. Sover ek kon sien, het die persoon op die grond geloop.

Skielik het ek besef ek’s nie met die helm gebore nie. So, dit kon nie ’n spook gewees het nie.

Vir die oumense het spoke altyd bestaan. Die meeste van hulle het ’n eie ervaring gehad met spoke. Hulle kon jou altyd, of sou jou altyd, ’n storie of twee van spoke kon vertel het.

Of spoke bestaan of nie, maak nie meer vir my saak nie. Ek is net bly ek kan hulle nie sien nie. Dit laat my ietwat veilig voel, want ek’s vrek bang vir spoke.

 

  • 21

Kommentaar

  • Ek het nog altyd gehoop of gedink spoke bestaan nie tot een aand laat. Ek het op ’n kleinhoewe ongeveer 40km Noord van Pretoria groot geword. Een aand omtrent 30 jaar gelede so 8 uur die aand gaan ek uit om die hond kos te gee en terwyl ek so gebukkend by sy bak staan en die kos uitkrap vang my oog beweging in die lug. Toe ek opkyk is daar twee wit gedaantes in die lug wat heen en weer verby mekaar beweeg. Ek weet nie hoe lank het ek daar gevries gestaan nie maar toe ek tot verhaal kom het dit gevoel of ek net so een lang sprong gegee het by die agterdeur in en die kastrol en lepel trek seker vandag nog. Binne die huis wou ek nie glo wat ek gesien het nie en ek moes net weer loer. Ek trek toe die kombuisvenster se gordyn versigtig op ’n skrefie oop en jip, daar is die twee vrinne nog die hele tyd besig. Ek wou dit nog steeds nie glo nie maar daar is dit, my oë bedrieg my nie. Ek kan nie sê wat ek gedink of gevoel het op daai stadium nie maar die volgende oomblik toe tref dit my.
    Die wat al by die Pretoria-skou was sal seker onthou dat daar altyd twee sulke moewiese spotlights wat in die lug in geskyn het en dan het mens mos altyd twee sulke wit strale tot wie weet waar gesien wat heen en weer oor mekaar beweeg. Daar waar ons was kon mens die strale nie sien nie maar daai aand was dit bewolk gewees en die twee ligte skyn toe so teen die wolke; dis die twee wit kolle wat so heen en weer beweeg.
    Of was dit werklik die skouligte?

    • Hi Mariska. Dit is nou snaaks maar dit was nogal 'n groot skrik vir 'n 16-jarige laaitie lol. Mind you ek sal my seker nou ook in 'n ander bloedgroep in skrik as ek so iets moet sien 😉

    • Jong Dewald ek wou dit ook nie glo nie maar gelukkig het dit my toe getref wat dit eintlik was. Dan moet jy die stories hoor wat daai klomp maplotters vir die waarheid vertel bv spore wat iets tussen 'n bobbejaan en 'n mens s'n is op die leë visdam se boden ens. Ek dink as iemand anders die skouligte so moes sien sou hulle dit gehaat het om 'n goeie storie met feite te bederf. lol

  • Ek dink spook van Uniondale is waar want ek het al die spook gesien. Dit was ’n vrou met ’n blou serpie en sy het ’n swart en blou rok gedra. Toe ek haar gesien het, het ek weer begin glo in spoke; ek dag dit was net mites wat mense vertel het maar dit is waar.
    Ek het nie net die vrou gesien nie, sy het saam met my in die bakkie geklim, want ek dog sy het hulp nodig gehad. Ons het omtrent net twee minute in die kar gery toe het sy net verdwyn en dis al wat ek gesien het.

  • jennifer jansen van nieuwenhuizen

    Ek is mal oor alle spookstories! Selfs as kind was niks vir my so lekker soos om ou boeke uit te neem en die stories te lees van lank gelede se spoke nie. Wonder of daar nog spoke is vandag?
    Ek onthou as kind in Nelspruit was ons maatjie se huis so blok van ons huis af. In daai dae kon jy tot laat uitbly, maar ons het elke aand saam met hom geloop tot so in die helfte van die blok. Daar was die straatlig, kom jy nader gaan die lig dood, loop jy 'n ent verby die ding, gaan die lig weer aan. Vandag weet ons dit was seker een of ander elektriese probleem maar vir 'n kind is dit nogal scary!

    • Who-o-o-o-o Jennifer so van in die strate loop en spoke sien gepraat. Ek was so 14 toe kuier ek by my suster vir die vakansie en ek gaan kyk mos saam met haar dogter se kêrel Nightmare on Elm street en daai aand moet ek alleen terug loop. Jy kan nie glo in wat alles sien jy spoke op daai stadium nie, gutters, asblikke name it.

  • Ek love ook spookstories! Het in 'n koshuis groot geword, en daar het ons baie spookstories vir mekaar vertel, wanneer almal dan goed bang was het ons in die gang af geloop tot iemand kamma spook sien en dan soos blits terug bed toe gehardloop! Mis die ou dae.

    • Rene ek kan net dink. Ek was nooit op skool in die koshuis nie maar my eerste jaar wat ek begin werk het, het my werk my op 'n kursus gestuur waar ek in n koshuis moes bly. As daai koshuisvader sy koppie gaan neerlê in die aand begin die sports.

  • Beste Anoniem,
    Dis juis die Bybel wat die mense leer dat daar spoke is. Die bose geeste is mos niks anders as spoke nie.
    Groete,
    Angus

  • Nou kyk word ek mos groot in Noupoort, daar in Reguitstraat 39. Natuurlik lang reguit straat. Geen straatligte en net sulke jong boompies. Daar naby die einde van die straat was daar so ou groot huis, tussen die bome, Rooms Katoliek ek dink en spokerig vir kind, daar regoor die Jonkers se huis, daar waar die geboutjie so halflyf op die sypaadjie gestaan het. Wel stiefpa werk op die Spoorweg en met so 150 na 200 werkers. Die tydkaarte moes elke Sondagaand op die passasierstrein 119 (half agt) PE toe. Nodeloos om te sê daar was altyd tot op die nippertjie gewag om dit klaar te kry en dan moet ek as so 10/11 jarige klong van daai verste huis tot op die stasie hardloop om die koevert betyds op die trein te kry. Nouja wintermaande is koud, vroeg donker en dan as ek klaar die kaarte afgegee het, het ek eers so bietjie in die wagkamer op daai lekker bruin houtbanke voor die vuur gaan sit om bietjie hitte te kry.
    Skoene was ook mos maar skaars vir party "railway kinders". So word dit saans (laat) en man moet huis toe. Daar by die Jonkers se sypaadjie-geboutjie oorkant die spookhuis verby. So met die terugkomslag kan daar mos iets daar agter wees, en die windjie huil om daai hoek. So middel van die staat is die beste opsie. By daai geboutjie verby, nee wat daar word nie terug gekyk nie, wat sal jy nou sien in die donkerte, net die pad wat so half vaalgrys so 20 tree voor jou sigbaar is. Dit is oop en toe, huis toe, bang was nie die woord nie, banger klink beter.
    So vat man die middel van die pad met die spoed van 'n V8, en bang sit sommer hier reg agter teen jou rug. Nog so halwe myl (in daardie jare) huis toe, daar by die Koens verby, Ata, katte-paartyd. Nou ken julle van man wat banger is, hom spook verbeel wat heelpad agter of langs hom hardloop, want jy kan hom nie wen nie. Groot skrik is ook nie die woord nie, maar daai geluid van so kat op so donker aand daar onder daai opgeskote boompies, en hy wil paar. Onaards, vreesaanjaend, spook wat hier langs jou praat want dis al wat nog heeltyd in jou kop sit. So kat paar "miauraai, miauraai ek wil briaau, climb over the wall, climb over the wall, ken jy nou nie meer nie want by banger is jy lankal verby. Jy vat spoed, bly amper in die lug, want as jou voete grond vat verloor jy spoed. Jy spoed voort soos 'n Paul Nash oor daai laaste 20 tree wenpaal toe. Omkyk ken jy nie net wind deur jou hare, voel of jou ore agter jou kop mekaar die eerste keer ontmoet.
    Nou is dit tyd vir by die huis kom. Sommer so op die spoed wat Paul Nash laat lyk of hy stilstaan, of so verbeel jy jou, vat jy draai, maak die hekkie oop en toe sonder om spoed te verloor en dan om die huis agterdeur toe. Voel of jy nie net moeg is nie, die asem het sommer ook so op pad verlore geraak. Dan kom die ander waarheid deur. Volgende week weer dieselfde pad, selfde tyd. maar jy belowe jouself jy gaan vroeg by die stasie gee pad. Almal is al in die bed, ma vra is dit jy Johan, en sonder om te hyg:"Ja Ma".
    Die volgende week stop ma my twee sent in die hand sodat ek darem volgende week kan nikkerbolle koop by die stasiekafee, of appelkooslekkers. Snaaks elke week daarna het ek twee sent gekry ... wonder ek vandag nog of is dit omdat ek so "fluks" was om die kaarte betyds daar te kry of omdat ek elke week self my broek gewas het. Ek sal nooit weet nie, ma is met daai geheim graf toe.

  • Ek het die naweek in Matjiesfontein geslaap by lord Milner-hotel. Sal nooit weer nie.
    Het met die eienaar gepraat Sondagmiddag en het gekla oor mense wat drieuur die oggend aan jou deur ruk. Hy het toe gesê baie mense het al gekla in kamer 26 waar daar drieuur in die more aan die deur geruk word.
    Toe ek op die internet gaan lees oor die hotel, het ek iets baie skokkend oorgekom dat die hotel spook. Ek kon dit nie eers glo nie, maar dit het my in so ’n posisie geplaas dat dit gebeur het. Op die aand wat daar aan die deur geruk word, het ek opgestaan en die deur oopgemaak. Daar het so koue gevoel verby my gegaan en ek het die deur toegemaak, want ek kon niks sien nie. En Donderdag 4 Julie 2019 het die siener op kykNET ’n besoek gehad by die hotel waar hy met die spoke praat om te vra dat hulle in vrede kan gaan rus.
    Ouens julle moet gaan kyk. Op die nag van haar dood hoor jy net glase en borde val en as jy gaan kyk is daar niks. Die eienaar het gesê die spook is nie kwaad nie, maar baie vriendelik.
    Gaan besoek die hotel.

  • Ek kan onthou so ongeveer 30 jaar gelede het ek by my neef op die plaas gaan kuier. Ons is aangesê om elke aand die melkskuur se ligte te gaan afsit.

    So is dit omtrent agt uur die aand en ons loop af skuur toe. Daar gekom vra my neef my om solank 'n sigaret op te steek. So gedaan, terwyl hy inloop om die ligte af te sit. 'n Minuut later is die ligte af en ek hoor hom skielik langs my sê "dankie" en hy vat die sigaret.

    Wat vir my vreemd is, is dat hy terug loop in die skuur in. Voor ek kon vra waarheen hy gaan, vra my neef skielik hier van langs my: "Nou waar is my sigaret?" Ene verdwaas en effe lam sê ek vir hom: "Daar loop hy in die skuur af." Soos mes is ek en my neef deur 'n elektriese omheining, garagedeur en huisdeur met geen idee tot vandag hoe dit moontlik was nie. Ek dink ons het teen die spoed van lig of klank gehardloop, want binne drie sekondes het ons die 1,5 km gehardloop tussen die skuur en huis.

  • Ek het een aand in 'n sogenaamde spookhuis geslaap. Dit was winter en die kapok het buite dik gelê. Dit was eintlik vir 'n weddenskap wat ek met my vriende aangegaan het, want ek het hulle gereeld uitgelag as hulle vertel van die spoke wat hulle gesien het. Ek het ewe dapper gaan stort en toe in die bed geklim met 'n vrag komberse bo-op my. Gou het ek aan die slaap geraak, maar ewe skielik wakker geskrik van die koue. Al my komberse het op die vloer gelê. Vies vir myself dat ek so komberse in die koue afskop, tel ek hulle op en slaap verder. Dieselfde ding gebeur weer. Die keer slaap ek nie, maar wag om te sien waarom my komberse dan telkens op die vloer beland. Dit was nie lank nie of ek sien die gedaante van 'n ou oom die kamer binnekom. Stadig begin hy die komberse van my aftrek. Ek dag toe dis my vriende wat met my die spot dryf, maar skielik styg die ou oom op, en verdwyn deur die plafon.
    Ek moet darem ook byvoeg: ek kan ook soms lieg soos 'n goedkoop horlosie of is dit nou 'n tandetrekker?

  • Beste Angus
    Lieg soos 'n tandetrekker. In die outyd had rondreisende kwaksalwers ook tande getrek en belowe dat jy geen pyn sal voel nie as jy hulle medisyne koop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top