Die soeke na “closure” in Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach

  • 0
Ingrid Winterbach se roman Die aanspraak van lewende wesens het die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 gewen. Bibi Burger beskou nou Winterbach se oeuvre na aanleiding van die LitNet Akademies-artikel "Te hel met heling, Niggie!": Wanneer traumanarratiewe tekort skiet.

In “‘The hel met heling, Niggie!’: Wanneer trauma-narratiewe tekort skiet” problematiseer Thys Human die opvattings van die narratiewe terapie. Hierdie aannames behels onder andere die siening dat trauma ’n ongewenste toestand is wat uit die weg geruim kan word deur die sogenaamde “verwerking” daarvan. Voorstanders van die narratiewe terapie argumenteer dat trauma verwerk kan word deur die opname daarvan in ’n koherente narratief wat die getraumatiseerde persoon rondom sy of haar trauma skep. Daar word verder dikwels deur die narratiewe terapie veronderstel dat die verwerking van trauma ook deur die skryf van literatuur kan plaasvind, en dat die skrywer dikwels nie net haarself nie, maar ook haar lesers kan help genees deur oor traumatiese gebeure te skryf.

Human verwys egter na uitsprake van Willie Burger en Philip John om te argumenteer dat “goeie” literatuur gewoonlik gerig is op “die behoud van kompleksiteite” en die uitwys van kontradiksies, eerder as op die genesing van wonde en op pogings om finale betekenis en interpretasies op ervaring af te dwing.

Hy argumenteer dat dit die geval is met Niggie deur Ingrid Winterbach. Die roman bevat verskeie getraumatiseerde karakters, en alhoewel hulle soms probeer om oor hulle traumas te praat en sin te maak daarvan, beweer Human dat die roman eerder “juis die gedagte van die onverwerkbaarheid en onverwoordbaarheid van trauma bevestig” en dat “[d]ie roman se trefkrag [...] veral daarin geleë [is] dat die onsêbaarheid, onverwerkbaarheid en onintegreerbaarheid van slagoffers se lyding en trauma [...] geïllustreer word”. Ook as die roman in die geheel beskou word as ’n narratief oor die Boereoorlog, kan daar beweer word dat daar nie in die roman sprake is van die verwerking van hierdie trauma in Suid-Afrika se geskiedenis nie, en dat daar op strukturele vlak nie sprake is van sluiting of finale sinsgewing nie.

Die meeste van die karakters in Winterbach se jongste roman, Die aanspraak van lewende wesens,kan ook beskryf word as op een of ander manier getraumatiseerd. Die twee hoofkarakters, Maria Volschenk en Karl Hofmeyr, beleef albei dramas rondom hulle sibbe. Maria se suster, Sofie, het selfmoord gepleeg en Karl kry ’n oproep dat hy sy broer Ignatius, oftewel Iggy, moet gaan haal op ’n stadsplaas teen die hange van Tafelberg omdat hy daar moles maak. Gegewe die omstandighede rondom haar dood kan daar aangeneem word dat Sofie getraumatiseerd was en nie in staat was om haar trauma op enige manier behalwe deur selfmoord af te sluit nie. Die oorsake van Sofie se depressie is vir Maria grootliks duister, omdat hulle nie in die maande voor Sofie se dood meer kontak gehad het nie. Tydens sy reis na Kaapstad (vanaf Durban, waar beide hy en Maria woonagtig is) kry Karl ’n brief van Iggy waarin hy beweer dat hy verskeie gruwelike ervarings op die plaas gehad het. Hy glo dat sy liggaam en siel aangetas is en dat “’n sekere persoon” (waarskynlik Josias Brandt, die een wat vir Karl gebel het) sy siel wil vermoor. As Iggy se bewerings waar is, dan is dit geen wonder dat hy getraumatiseerd is nie. As dit nie waar is nie, en Iggy net besig is om die kluts kwyt te raak (soos wat Karl vermoed), dan is dit steeds duidelik dat hy op ’n verstandelike (psigiese?) vlak getraumatiseerd is. Verder het Maria en Karl in hulle verlede ook verhoudingsteleurstellings wat hulle probeer verwerk. Maria is ook bekommerd dat haar seun, Benjy, betrokke is by iets onheilspellends, en uiteindelik vind sy uit dat hy ook ’n liefdesteleurstelling beleef het.

Die karakters in Die aanspraak van lewende wesens het’n behoefte om hulle traumatiese ervarings te verwerk en klaarheid te kry oor die kwessies wat hulle kwel. Winterbach het by die bekendstelling van die roman by Protea Boekwinkel daarna verwys as ’n “quest”, en dit is waar dat die hoofkarakters op fisiese reise (van Durban na Kaapstad) gaan op soek na antwoorde om bogenoemde behoefte te vervul. Maria hoop om insig te kry oor die omstandighede rondom Sofie se dood. Sy dink dat sy dit wel sal kry wanneer Tobie Fouché, Sofie se lewensmaat, vir haar ’n notaboekie gee wat Sofie vir haar gelos het. Sy vind die inhoud van die boekie (verwysings na Klassieke kultuur, onder andere die Iliad-“quest” en esoteriese beskrywings van tien hekke waardeur die individu moet gaan om spiritueel vervul te word) egter kripties en “raaiselagtig”. Op dieselfde manier is Iggy se brief aan Karl misterieus, en weet Karl nie presies hoe hy dit moet lees nie. Dit is ook hoe die leser van die roman oor hierdie tekste deur twee ontoereikende karakters (Sofie en Iggy) voel: soos Maria en Karl bestudeer ook sy dit vir antwoorde. In hierdie opsig kan Die aanspraak van lewende wesens ook as ’n spesifieke tipe “quest”-verhaal,1 naamlik die speurverhaal, gelees word.

In “’n Speurder wat verbloem eerder as onthul: Gedagtes oor plot na aanleiding van Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat” bespreek Willie Burger Die boek van toeval en toeverlaat as ’n tipe subversiewe speurverhaal. Anders as Toeval begin Die aanspraak van lewende wesens nie met misdade nie en bevat dit minder eksplisiete verwysings na elemente van die tradisionele speurverhaalgenre. Tog word Maria en Karl, soos reeds genoem, gekonfronteer met raaiselagtige situasies wat beide hulle en die leser probeer “oplos”. In ’n tradisionele “quest” word die held ook met raaisels gekonfronteer, maar is dit ’n klein deel van die verhaallyn, net ’n hindernis wat hulle moet oorkom om met hulle reis voort te gaan. In die speurverhaal is die oplos van raaisels die doel van die held se tog, en probeer hy of sy deurgaans om die misterie te verklaar deur ’n koherente narratief te skep wat oorsaak en gevolg duidelik maak. In hierdie opsig kan Maria en Karl se reise tog as ’n tipe speurverhaal beskou word.

Burger argumenteer dat Toeval nie die “resepmatige verloop” van die tradisionele speurverhaal bevat nie. Die hoofkarakter van die roman, Helena Verbloem, is uiteindelik nie in staat om die raaisels waarmee se gekonfronteer word, op te los of helderheid daaroor te kry nie. Sy ondersoek verder nie net misdade nie, maar ook vrae oor haar eie identiteite wat uiteindelik, klaarblyklik, onbeantwoordbaar is. Dieselfde is waar van die raaisels in Aanspraak. Sommige daarvan (byvoorbeeld wie vir Karl in die begraafplaas geskiet het) kom beantwoordbaar voor, maar die meeste is van ’n metafisiese aard. Hierdie raaisels is, soos Benjy se navorsing oor “die oorsprong van alles”, te “breed” om ooit werklik finaal opgelos te word. In hierdie opsig kan die roman beskou word as ’n metafisiese speurverhaal, soos die werk van byvoorbeeld Umberto Eco en Paul Auster, waarin daar antwoorde gesoek word op vrae wat verby die immanente strek. In Aanspraak is daar, behalwe vir Sofie verwysings na tradisionele “quests”, verwysings na metafisiese speurverhale, naamlik die film The Big Lebowski en die TV-reeks Twin Peaks. Soos Aanspraak begin met ’n skynbaar heel eenvoudige vraag (Wat makeer Iggy en hoekom noodsaak dit vir Josias Brandt om vir Karl te bel?), begin beide hierdie werke met immanente, beantwoordbare vrae: Hoekom het iemand op die dude se mat geürineer, en Wie het Laura Palmer vermoor? onderskeidelik. Uiteindelik lei die antwoorde op hierdie vrae egter net tot meer vrae en is hulle deel van komplekse narratiewe waarin die moontlikheid van afsluiting ontbreek.

Dieselfde is uiteindelik waar van Aanspraak. Maria se pogings om Sofie se notaboekie te verstaan verloop nie glad nie, en wanneer sy probeer om die skema van die tien hekke na te volg, is dit onduidelik of sy eers deur die eerste hek kom. Wanneer Karl uiteindelik vir Iggy bereik, is hy in ’n katatoniese toestand en is dit vir Karl onmoontlik om direkte antwoorde by hom te kry.

Burger bring Helena Verbloem se onvermoë om antwoorde te vind in Toeval implisiet in verband met sielkundige teorieë oor narratief wanneer hy sê dat ’n teorie “wat uitgaan van die moontlikheid van persoonlike identiteit danksy die samehang wat ’n plot aan indiwiduele ervarings gee, [...] in die gedrang [kom] wanneer ’n samehangende plot doelbewus vermy word”. Dit is nog duideliker die geval in Aanspraak, ’n boek wat eksplisiet gaan oor die dood, rou en die verwerking van trauma.

Moet die roman dus uiteindelik nihilisties gelees word, as ’n ontkenning van die moontlikheid van sinsgewing en die genesing van sielkundige wonde?

Burger gebruik die werk van Ricoeur om te argumenteer dat skryf en lees, as die “maak van ’n representasie”, gesien moet word as in sigself betekenisvolle prosesse, eerder as “die een of ander statiese raamwerk [...] waardeur ons alles interpreteer en sin gee”. Hy argumenteer dat alhoewel Toeval nie afstuur op ’n resolusie nie, die leser tog besig is met ’n sinsgewende aktiwiteit in die lees van die boek, en met elke herlees van die boek ander interpretatiewe moontlikhede sal skep. So ook kándie skrywer eintlik nooit finale metafisiese antwoorde gee aan die leser nie, maar kan hy of sy net aanhou om te vertel in ’n poging om die wêreld te verstaan. Soos die meeste van Winterbach se romans eindig Die boek van toeval en toeverlaat met ’n verwysing na ’n ander narratief, naamlik die verhale wat Helena se broer vir haar gaan vertel.

Die aanspraak van lewende wesens eindig met ’n hoofstuk wat klaarblyklik verskil van die res van die roman. ’n Ek-verteller beskryf hoe sy ’n lykhuis besoek. Die episode eindig met die ek-verteller wat bevestig dat sy nou weet “hoe dit voel”. Die laaste sin van die roman lees: “Is dít hoe dit gebeur het, Sofie, Suster? Antwoord my!”. Die leser besef derhalwe dat die hoofstuk dus nie werklik ’n eerstepersoonvertelling is nie, maar Maria se poging is om Sofie se besoek aan ’n lykshuis (waaroor sy haar in ’n brief vertel het), te verbeel. Uiteindelik kan sy egter nie seker wees of dit werklik so verloop het en of dit enige antwoorde oor Sofie se lewe en dood kan bied nie. Sy kan ook nie weet of Sofie ooit wysheid gevind het op haar eie “quest” (sy vergelyk haarself met Dante) na antwoorde nie, en of sy deur die sogenaamde tien hekke gegaan het nie. Uiteindelik kan Maria net voortgaan om narratiewe te skep. Dit is ’n tragiese einde (Joan Hambidge beskryf dit as van die weemoedigstes wat sy nóg gelees het) wat die melankolie van onbeantwoorde vrae (veral rondom die dood) vergestalt, maar ook die eindelose begeerte na antwoorde op onbeantwoordbare vrae. Hierdie begeerte veroorsaak dat die leser die boek waarskynlik herhaaldelik weer sal lees, op soek na leidrade.


1Rowland beskryf die klassieke speurverhaal (deur onder andere Arthur Conan Doyle) as ’n tipe “quest”-narratief in “The ‘Classical’ Model of the Golden Age”.

 

 

 

Terug na invalsblad van webseminaar om ander bydraes oor Ingrid Winterbach se oeuvre te lees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top