Die Polana Hotel: ’n Storie, ’n fantasie en literêre teorie

  • 0

I

Reis was nog altyd vir my gekoppel aan kreatiwiteit. In 2000 het ek die millennium-oorgang op die hotelstoep van die Polana ingedans – op “Volare”. In die jare 1999 tot 2000 het ek hierdie land verken en my bundel Lykdigte het hier sy beslag gekry en vele ander kreatiewe opstuwings is geregistreer. Die paradoks tussen armoede en rykdom leer jy hanteer. Die verval van die middestad met sy stinkende vullishouers leer jy pypkan. Maar dit bly aanwesig, daar ...

Vir my is Maputo, die ou Lourenço Marques, ’n stad wat ek assosieer met kreatiwiteit. En dit het my veel geleer van die koloniale verhouding tussen baas en kneg en hoe laasgenoemde die taal van sy verdrukker leer sodat die moederland vir hom/haar kan oopgaan.

As Hélène Cixous praat van “nostalgeria”[1] om haar liefdevolle verbintenis met Algerië te besing, wil ek praat van Maputisme. Hier het ek in die see geswem, die Polana besoek, tot in Pemba gereis, in ’n Rav rondgery en ’n gelukkige verhouding gehad. Vir my was die ervaring verseël in goeie herinneringe soos garnale eet, die Inhaca-eiland besoek en oor stormwaters vaar, lang gesprekke en koorsige hitte. Maar afgehandel.

Totdat ’n reisgenoot voorstel dat ons die land vir ’n kort heen-en-weertjie moet besoek. Op ’n Getaway-aanbod. Vir ses dae in die Polana; vlug ingesluit.

II

Ek keer nie terug na plekke waar ek gelukkig was nie. Ek probeer dit in my herinnering bewaar soos wat dit was. Plekke verander …

Maar ek laat my ompraat, en ná ’n taai eerste kwartaal besluit ek om tog weer te gaan.

Die reis begin op ’n verkeerde noot toe die Polana Hotel se bussie nie daar is nie. Ons is wel ’n halfuur laat, maar al die ander hotelle se gaste word afgehaal. Ek bel. Enigsins knorrig omdat my reisgenoot ongedurig raak.

In die mistige motreëntjie is ons binne ’n kwartier by die hotel. Die gehuggies langs die pad is inmiddels opgeknap – nogal met Vodacom-advertensies op die mure! Ek hoor hoe iemand praat dat daar selfs ’n casino gebou is en ’n Makro bestaan. Die Holiday Inn is kort voor my laaste besoek begin en daar is glo talle nuwe wooneenhede opgerig.

Die stad is steeds vuil, beskyt en morsig.

“Dis nou vir jou Afrika,” hoor ek die tante agter my mor.

“Kan hierdie mense tog nie leer om skoon te maak nie?” vra die bitsbek langs haar. Ek sien hoe my reisgenoot gril.

III

En dan staan ons voor my geliefde Polana!

Ek is dadelik in ’n goeie luim en vergeet om te skel oor die laatkommery en die bestuurder se afwesige Engels wat veral my reisgenoot oneindig irriteer. “Bom Dia!” groet ek.

Die inboekery verloop flink en die tasse staan op ’n trollie voor die outydse hysbakkie.

Kamer 322[2]. kyk oor die swembad en die vaalsee uit. Die kamer se mure is groen geverf en my reisgenoot meen die interieur moet opgeknap word.

“Gmf. Biggie Best,” meen die Visi-snob. Ondertussen het die Polana deel geword van die Serena-groep en op die wasgoedsak pronk ’n nuwe logo.

Ek draf ondertoe om ons vergete kas wyn te gaan haal.

Onder by ontvangs staan ’n man met sy vrou. “Ek het my selfoon verloor. Ek dink ek hom in die bussie vergeet.” Ontvangs bel die foon, wat verlate lui.

“Dis nie gesteel nie, want jou foon lui nog. As dit gesteel was, sou dit nie lui nie en iemand sou alreeds die binnegoed verkwansel of weggegooi het,” meen ontvangs.

Die selfoon, sou ek ’n dag later verneem, is teruggevind. Dus: nie alles word in Afrika gesteel nie, meen my reisgenoot. Ek dink aan my slotvers in Lykdigte en die ou koloniale opstand wat waarskynlik uitgewoed is ... [3]

IV

In Augustus vertrek ek na die ICLA-kongres oor die prosesse wat inspeel op die digter se gemoed wanneer sy haar eie verse vertaal: "The body as text/ the text as body”, en in Mosambiek ontdek ek dat vertaling presies werk soos die verhouding tussen moederland en kolonie. Die kolonie wil ontheg, los wees, weggaan. Die tweede vers kom in opstand teen die eerste vers. Dit kan net slaag as dit ’n aparte entiteit word.

Die kongres vind plaas in Rio de Janeiro en die verhouding tussen kolonies en moederland begin oorspoel in my siening van vertaling. Uys Krige se wonderbaarlike Brasilië sing – wat MM Walters redaksioneel versorg het as Poësie uit verre lande (Perskor, 1990) – help my verder om hierdie punt raak te sien. Dus was hierdie besoek noodsaaklik om iets in te adem van die verhouding tussen ’n kolonie en moederland ...

Dis aandete-tyd. ’n Buffet, beduie my reisgenoot, wat reeds buite gaan stap het, terwyl ek skryf op my laptop, ’n kompakte Hewlett Packard.

V

Ek kan ’n buffet-ete nie verduur nie. Dit bring herinneringe terug van Sondae toe my ou vader besoeke aan hotelle as ’n “treat” beskou het. Vir my gevoel is ’n buffet te veel van alles, en te min van die uitsonderlike. Maar hier word ek verkeerd bewys in ’n aanskoulike uitstalling van al die Portugese disse denkbaar. En die kolonie se “antwoord” en “toepassing” daarvan. Sekere van die geregte herinner ook sterk aan disse wat ek in Kuba geëet het.

“Dit bewys dat arm mense se kosse universeel is,” meen my reisgenoot.

Die seekos-buffet die volgende aand is ’n kulinêre hoogtepunt en jy stoei met die koningin-garnale op jou bord wat groter is as ’n kreef in Suid-Afrika. Smaaklik, gul, wonderbaarlik.

“Die diens is ’n bietjie traag,” mor ’n groep Duitse toeriste langs ons. Ons hoor hoe hulle meen die wit uniforms van die kelners stysel kort; ’n getjipte bord word uitgewys en daar word geknor oor botter wat nie op die tafel staan nie. Hulle is nie onaangenaam nie; net feitelik.

“Dis Afrika,” merk ek op. Hulle hoor my, draai om en ’n plesierige gesprek ontstaan. ’n Vergelyking tussen toe en nou word uitgespeel.

VI

Ek negotiate my pyn

My beste vriendin
lê gemessteek ses voet diep;
my pa is wég na ’n ander oord.
My girlfriend versaak my,
nee, ek verlaat háár.

O bring my die ou-ou tyding
hier is alweer fokken lyding.

My grootste konfidante
is al twee jaar lank weg;
my Dad nou al ’n jaar lank dood.
My girlfriend verwyt my, nee, ek stry met háár.

O bring my die ou-ou tyding
hier is alweer fokken lyding.

My nuwe vertroueling,
’n Mnemosyne, se partner
meen haar skryfsels ’n ónding;
My voormalige liefling,
oor my skryfwerk, al kwater.

O bring my die ou-ou tyding
hier is alweer fokken lyding.

Die dooies stoot dysies,
die skrywers koop oorpluisies.

O bring my die ou-ou tyding,
hier is alweer fokken lyding.

L’envoi:

Hoe nou gemaak?
Almal is seer en kwaad;
Dis nou maar wors,
en botterskors!

Voetskrif:

1 Zeus het 9 keer met haar geslaap en so 9 muses geskep

VII

Ek dink na oor die beginsel van “alambique” waarop die naam Mosambiek inspeel.

Ek bestel vir ons koffie.

Drie keer bel ek kamerdienste.

Maar geen koffie.

’n Dag kan nie begin sonder filterkoffie nie.

Ons wag ’n uur.

Toe bel ek die bestuurder.

“Ek het al vantevore in u hotel tuisgegaan,” kla ek beheerst, “maar die diens is nie meer wat dit was nie. My positiewe herineringe word nou bederf.”

“Ek vra om verskoning. U kan ’n gratis middagete op die terras geniet.” Ek bedank hom hoflik en die koffie is onmiddellik voor die deur. Een oproep en die hele hotel se diens is meteens flink.

Dieselfde aand is daar ’n brief en ’n bottel rooiwyn – vir Mrs Humbridge – waarin verskoning aangeteken word. Ek laat op my beurt ’n nota van bedanking.

VIII

a·lam·bi·que

m. still, alembic

Idioms:
pasar por el alambique to scrutinize, go over with a fine-toothed comb
por alambique sparingly

http://education.yahoo.com/reference/dict_en_es/spanish/alambique

Daar is 164 kamers en 23 suites in die Polana Hotel en volgens Google is daar meer as 393 000 inskrywings vir hierdie hotel. Ek klik op ’n ruimte wat ’n kamer wys. My roman Kladboek (wat volgende jaar by Protea verskyn) is in die Polana begin:

Hoofstuk 1

Daar is iets tentatiefs aan die begin 'n verhaal soos die begin van 'n verhouding. Dit dink Die Skrywer, terwyl sy haar gereed maak om op reis te gaan na haar geliefde in Moçambique. Dit is nie vir haar maklik om haar tas te pak nie, want sy het – sonder waarskuwing – emosioneel betrokke geraak by 'n ander vrou. Boonop is sy presies halfpad met die voltooiing van 'n nuwe boek en sy weet dat die reis dikwels nuwe, onbeplande wendings mag meebring.

"Mag ek jou bel?"

"Natuurlik", sê Die Vrou. "Daar is niks agterbaks aan ons relasie nie."

Haar geliefde wag haar in.

"Waarom het jy soveel tasse saamgebring?" vra Geliefde.

"Ek moet 'n teks voltooi oor die self. Ten einde toelating in die VSA te kry as gasdosent. Ek noem dit Being Joan Hambidge," bely Die Skrywer.

"Alweer 'n roman oor 'n roman oor 'n skrywer wat op soek is na 'n storie?"

"Ja, maar met teorie. Ek moet kan bewys lewer dat ek die teorie onder die knie het vir die winterkursus aan Harvard oor psigoanalise & letterkunde." Maar sy weet dis 'n halwe waarheid. Sy moet hierdie teks voltooi om die verbintenis tussen haar en Die Vrou te probeer begryp. 'n Vrou wat sy twintig jaar gelede as student ontmoet het en wat nou, onverwags, weer haar verskyning gemaak het in haar lewe. 'n Vriendskap wat hoofsaaklik deur Die Vrou begin en volgehou is totdat sy op 'n dag - na 'n handvol ontmoetings - besef dat sy betrokke is by Die Vrou.

"Dis besonder warm, maar ons gaan in die luukse Polana tuis. Dis my kersgeskenk aan jou." Sy bedank Geliefde vir die duur geskenk. Die hotel lê prentjiemooi soos 'n afdruk uit 'n kinderinkleurboek voor hulle. Hulle het 'n duur suite, kamer 219, wat op die swembad uitkyk. Die palmbome ritsel in die tropiese nag. Sy slaap diep en droom van Die Vrou. Hulle sit saam in 'n bioskoopsaal en kyk na die stories van hul lewens. Die volgende oggend skryf sy die droom neer op die luukse papier van die hotel. Sy skakel haar laptop Compac Armada aan.

IX

Nat Vloer / Piso Molhado

Dit is ’n reënerige dag en ons moet binne bly. Môre sal die son weer skyn en kan ons die stad verken, die markte besoek en swem.

Ons sit in die teekamer en lees. Agter ons sit Albie Sachs met sy vrou en kindjie. Hy is druk in gesprek met gespreksgenote oor die “struggle”.

Ek lees die reisbylae in die Sunday Times en smul aan ’n omelet verpak met verskillende soorte kase.

“So lyk die onbewuste dalk!” merk ek speels op.

Laatmiddag kyk ons ’n DVD. Persona (1966) van Ingmar Bergman met Liv Ullman en Bibi Andersson, waar die twee vroue se identiteite oormekaar loop en die een se verhaal die ander een s’n word.

Ek onthou toe ek die film die eerste keer gesien het, hoe uitsonderlik die impak was. Nou sien ek die interspel tussen twee minnaresse van Bergman: Bibi Andersson, die voormalige geliefde teenoor Liv Ullman, wat ná hierdie film sy geliefde geword het. Die film het ’n subtiele lesbiese subteks en die wyse waarop die twee vroue met mekaar praat, die intimiteit tussen hulle, sou deur ’n ander filmmaker – dalk ’n vrou? – anders ontgin kon word. Die film bly boeiend, pakkend. In ’n stadium – in ’n soort metarefleksie? – sien die kyker hoe die film as’t ware breek en word jy bewus gemaak van die feit dat jy na ’n film kyk. Jy betree die glibberige arena van die onbewuste: ’n aktrise wat stom geword het en tydens ’n produksie van Elektra nie verder kan toneelspeel nie. Die verpleegster wat haar versorg, is egter self ’n gekompliseerde persoon met jeugherinneringe van verkragting en ’n aborsie wat gesinkopeer word met die aktrise se pynlike ervaring van moederskap. Alma (die verpleegster) verteenwoordig die siel; die aktrise (Elizabeth Vogler) staan vir die persona in Jungiaanse terme[4].

Die film illustreer ook dat die verhouding tussen analis en analysand in Lacaniaanse terme wat nie stabiel is nie. Die rolle word voortdurend verwissel. Ullman, die aktrise, moes verskillende personas aanneem in haar lewe. Die verpleegster neem egter haar persona oor. Is Ullman psigies siek? Of het sy gewoon besluit om stom te word? Die verpleegster ontdek dat sy wél kan praat en dat sy haar manipuleer met haar toestand ten einde die storie van die verpleegster aan te hoor ... Met die verpleegster wat haar konfronteer oor haar onvervulde rol as moeder: dat sy haar baba doodgewens het en gehoop het die kind is stom by geboorte.

X

’n Stad het ’n onbewuste, verduidelik ek aan my reisgenoot, ’n alter ego. Die verrottende stad met al sy Ambassades kan as die paradoks beskou word. Enersyds verrotting, andersyds beheer/orde.

Maar ek moet “beyond binarisms” beweeg, versoek my ICLA-kongresvoorstel. Die derde ruimte.

(Destyds) Suite 219 en (nou) Kamer 322 toesluit en ’n ander ruimte betree.

Om te skryf, is om iets te behou, te bewaar, in ’n argief.

Maar dit is ook om dood te gaan. Met elke teks maak jy die vorige stuk geskiedenis dood. Met elke restourasie van die Polana Hotel is die vorige weergawe dood verklaar.

Ek kyk na die foto’s teen die mure.

“Vertel my iets van die geskiedenis van die hotel,” vra my reisgenoot.

“Eendag lank lank gelede…,” begin ek. In al die hotel se netjiese pamflette word die geskiedenis nie vermeld nie. Ek sou indertyd my vader kon gevra het. Ek is skielik oorval deur ’n weemoed en verlange na my vader se kennis van die geskiedenis.

Ek probeer kalm bly.

“Kyk, hier is vele uitstappies. ’n Halwedag-stadstoer, ’n volle dag, Maputo by Nite, ’n Sunset Cruise, ’n Inhaca-toer teen ’n stywe R1 000/persoon. En natuurlik ’n visvang-ekspedisie, vroegoggend.”

“Gmf. Jy visvang?!”

“Ek het al. Ek het ’n piranha in die Amasone gevang toe ek daar gereis het. Met ’n vislyn en stukkie rou vleis en agterna die vis gebraai. Dit proe tussen hoender en vis.”

Laatmiddag huur ons ’n taxi vir ’n R100 per uur: op die Marginal tot by Costa Do Sol. Terug tot by die stasie en tot by die beroemde stadsmark.

XI

In die kroeg probeer ons die paradokse van die stad begryp en dekodeer.

Die spanning tussen armoede en rykdom. Die klomp ambassades wat hier pronk: selfs die Japannese het hier ’n vesting en die Sjinese ambassade lyk soos ’n stukkie kitsch Sjina.

“Ek dink dit is ’n konsulaat,” merk my reisgenoot op.

“Afrika-artefakte, geslagte diere, bokke vasgerem aan ’n paal, oopbek-Baracudas. Dit representeer Afrika vir jou.”

My bitter-Skots begin nou terugpraat. Ons taxi-gids het na ’n uur en ’n half R200 geëis in sy sukkelende, swoegende stokou tjor.

“Die garnale so groot soos krewe, die vriendelike mense, die hulpvaardige kelners ...”

“En ’n dekonstruksie van wat jy dink jy gaan kry en wat die werklikheid inhou. Nie waar nie?" My reisgenoot se Pink Nellie begin ook praat.

“Ja, maar ek dink steeds dit is ’n skokkende ervaring. En die hotel moet gerestoureer word. En vaderland, hoe kan die busbestuurder se Engels so afwesig wees?”

“Dink so daaraan: ’n perfekte vyfster-hotel, soomloos, alles op sy plek, gestyfde lakens en uniforms, sal perfek wees. Maar dit gaan jou verveel. Bitter gou. Dit is juis omdat jy die hele tyd tussen twee plekke beweeg en in jou gedagtes ’n derde moontlikheid of ruimte skep, wat hierdie reis so uitdagend maak.

XII

Ek gaan kamer toe om verder te skryf aan my referaat. Daar is baie leeswerk en verpakking nodig. Ek begin om ’n vers te vertaal, maar haak vas. Wat is Derrida se siening van die onbewuste presies? In Writing and Difference (Routledge & Kegan Paul, 1978) verwys hy daarna as dit wat daar is, maar ook afwesig is. Soos ’n argief wat alreeds transkripsies is.

Sonder ’n sisteem.

Geen indeks.

“A weave of pure traces.”

“Nachträglich.”

’n Aanhangsel.

’n Verskil waar betekenis en krag verenig word.

Alles begin met reproduksie, skryf hy.

“Originary prints.”

Ek maak die boek toe. Gister het daar twee palmtakke van die boom afgewaai en amper-amper op my geval. Moeg gaan ons terug. Per bussie na die lughawe: Maputo tot in Kaapstad.

Ek stap na die besigheidsarea om my e-posse te lees en boodskappe te versend.

etiennev@mweb.co.za

Dag daar

Hiermee my essay – soos beloof – oor die Polana. Kan jy dit op LitNet plaas sodat al die verwysings na foto’s en intertekste die leser laat inbeweeg in die hiperteks? Ek sit gou in die besigheidsarea van die hotel. Hoop die essay geval jou.

Sal jy vir die tweedejaars laat weet ek kan hulle eers om elf sien? En dat hulle Lehman se essay oor postmodernisme by die sekretaresse moet afhaal? My vlug is vertraag!

Jy weet hoe dit is. Nou val al die domino-blokkies om.

Het jy gesien NALN is in die spervuur? Vaderland, wat is volgende! Dit was tog ’n belangrike argief vir die Afrikaanse skrywer en leser. My manuskripte staan gelukkig alles in my persoonlike argief.

Ek vind dit moeilik om afskeid te neem van ou tekste. Ek moet altyd weer terugkeer na dit wat ek reeds geskryf het – al is dit net om te besef dat ek nie meer daardie mens is nie. ’n Mens gaan met elke boek dood: figuurlik gesproke; en die katterige opmerking van ’n jong digtertjie dat hy sou selfmoord gepleeg het as hy al soveel kritiek as ek moes verduur het, het my laat nadink. Met elke boek gaan jy dood: staan jy figuurlik op uit die dode …

Nou ja. Binnekort is ek terug. Gister terwyl ek langs die swembad lê en lees, val daar meteens twee palmtakke amper bo-op my. Narrow escape!

Beste wense

JH
mwj.ham@mweb.co.za

margaret@mobileemail.vodafonesa.co.za

Dag daar

My vlug is vertraag en ek oop jy het die kommentaar op jou ms gekry. Dit is ’n aangrypende boek – waarskynlik sal lesers eendag die gesprek tussen my en jou in Palindroom uitwys. Dalk nie.

Dankie vir jou e-pos.

Pase in die Polana.

Dit was ontredderend. Enersyds ’n ontspanning (ek het heerlik geswem en gelees), maar andersyds onthutsend.

Daar is maar altyd die spoke wat loop ...

Dit was vir my nogal pynlik om te dink hoe was toe; en hoe is nou.

In iedere geval: ontgin in jou roman die verhouding met die mentor. Jy bly dit uitstel. ’n Mens kan net skryf as jy vreesloos inbeweeg in jou Bloubaardkamer.

Tot later

JH

Kreatiewe skryfwerk@mweb.co.za

Dag

Ek sien julle Vrydag om 3 nm. Bring ’n gedig en jou essay oor Cussons. Die vorige verse is puik. C die volgende mantra is vir jou:

“Ek mag soveel dig as wat ek wil, ek mag welig dig, ek mag dig soveel as wat ek wil, ek mag welig dig.”

Sit die kritiek agter jou.

JH

mwj.ham@mweb.co.za

Endnotas

[1] Cixous se term nostalgeria verwys na die nostalgiese verlange na Algerië, die plek van haar geboorte. Dit is ruimte waarna daar nie teruggekeer kan word nie. Dit is verewig in die geheue, in herinnering, in fantasie. Vide Ginette Michaux en Sarah-Anais Crevier Goulet: Derrrida & Cixous in die gesprek oor “nostalgeria” wat oa deur Derrida gebruik word om haar obsessie te beskryf of haar sogenaamde “algeriance". muse.jhu.edu/journals.

[2] Work in progress geskryf in Kamer 322:

Ek keer terug na Moçambique,
’n eens geliefde stad, ’n stad in die trope.
In jou naam ’n sirkelgang opgesluit.
Hoekom is jy ’n land van weemoed?
’n Land van die fado, die treurlied,
soos jou moederland, Portugal?
Waarom die ewige nostalgie?
Oor dit wat vir ewig verlore is:
jou ryk lanings vertel van ’n vervloë era
toe mans met sigare en ou brandewyn en port
kon praat oor die plantasies op hul villas,
agtergelaat in ou statige Lisboa,
hul vrouens steeds met sis-aandrokke,
verlangend na hul vaders en ongeskonde jeug.
Knegte wat op elke versoek of knik
stip reageer; ’n handgebaar
of vinger flink geïnterpreteer.
Lang aandwandelinge in boomryke lanings,
lanterns feestelik versier: die dienskneg
op sy plek vir die baas van sý plaas.
Hierdie mense het verdwyn. Soos ’n gordyn
toegetrek vóór ’n lang reis. En later
housparre oor vensters gekap. Hortjies gesluit.
’n Verkoop-bordjie skryn oor die skewe hek.
Roes, onkruid en ligene die enigste teken van lewe.
Opstand skiet bitter saad in die boulevards.
Die eienaars het nooit weer teruggekeer nie.
Nie eens in hierdie gedig nie.
En nou?
Nou verlang hulle in Lisboa terug
na Lourenço Marques
wat in hul afwesigheid
sonder hul medewete of goedkeuring
of swaai van die vinger,
ná ’n bloeiende opstand,
Maputo geword het.

Ons liefde

Ons liefde nou
soos ’n ou koloniale hotel
wat iets verraai van ’n vorige bloeityd
duur ware, kandelare, ’n outydse hysbakkie
à la daardie Modern Milly (steek
tussen die eerste en tweede vloer vas),
’n getjipte bord, kamerdiens wat sloer
- twee koffies, asseblief –
kelners in ’n net-net-nie-skoon uniform,
’n soutpot wat leeg gaap,
’n merk (bloed) op ’n effe geskifte laken.
Maar laat ons nie voortborduur nie.
Daar was ’n tyd (dis nou ek en jy)
toe alles kliksag verloop het.
Veral die kamerdiens was perfek:
oor lakens van hartstog het jy my laat gly.
Dit was ’n broeityd, toe.
Nou gaap die dag sy stink asem.
En die gedig haak vas in herinnering,
in mymering. Wie sal die binneversiering
verander? Wanneer begin die restourasie tog?

Villanelle vir haar

Sy het my vir altyd verlaat,
my allerliefling, sy is nou dood.
Sy het my vir altyd verlaat.

Gisteraand ontdek ek te laat,
’n brief uit ’n ander oord.
Sy het my vir altyd verlaat.

Ek noem haar my toeverlaat,
my lief gekoppel aan moord.
Sy het my vir altyd verlaat.

Ek hunker nog, helaas te laat,
in herinneringe en gedigte voort.
Sy het my vir altyd verlaat.

Daar is niks meer oor vanaand,
’n vers soos ’n ragfyne koord.
Sy het my vir altyd verlaat.

Al versoek sy ek moet dit laat,
weet ek: soort soek soort.
Sy het my vir altyd verlaat,
Sy het my vir altyd verlaat.

[3] Uit Lykdigte (Tafelberg, 2000):

41 Lyksang uit die trope

I

Agter die ruïnes
en verlate geboue,
stukkende miserabele puinhope
lê 'n eens verlore wêreld opgesluit:
stoets, imposant, glorieryk, groots.
Maar as die maan oor die oseaan hang
en lig terugflits oor 'n soel somersaand
kry herinnering lewe en vertel ooggetuies,
onbelemmerde waarnemers soos
miere, klein oerdiere, armadillo's
hoe dit eens was in 'n stad
waar Lisboa in Afrika kon saambestaan:
'n fado gedans tot 'n trom speel ...
mans wat skaak speel en koek eet
met oopnekhemde en panamahoede
en soet bier drink in op skuld-kroegies
en vrolike straatkafees. Soms kibbelend
oor 'n conta of opstandige vrou
of werker wat die roede in liefde sou
voel. Maar alle berou kom bittergou,
want selfs die liefde kreools bedryf.

II

Dit kon nie net dias de tolerância
wees nie. Waarom dan die verlate, halfgeboude
konstruksies wat letsels dra soos pokmerke
op 'n gesig, 'n geamputeerde liggaam?
'n Stad is soos 'n lewende liggaam
voel kouevuur en verbeelde pyn;
'n verlore ledemaat bly registreer
in 'n vloed en eb van onthou, vergeet.
Oorlog se testament nooit finaal beredder;
nasate opstandige, onrustige onterfdes
wat jarelank treur oor afgebrande plantasies,
verlore besittings, 'n nuwe familiewapen:
perdas e danos, perdas e danos.

III

'n Land dra sy landmerke soos 'n reisiger
sy paspoort vol stempels: Xai-Xai, Inhambane,
Beiras, Dondo, Quelimane, Angoche, Nampula, Pemba
erodeer, negeer 'n vervloë bestaan.
Geskeurde paspoort met visas verval
of ongeldig: nao entrada.
In 'n Katolieke kerkie in Pemba
bloei Christus se wonde
vir die vryheidsvegter,
vir die bedelaar,
vir die dolende hoer,
vir die blinde melaatse:
'n ewigheid verbrou.

IV

Name dra poësie, teken die reisiger
in 'n notaboek aan. Soos woorde
jou immer agtervolg: palimpses, ruïne,
landkaart, monument, vervloë tyd.
Iets vertekends in hierdie landskap,
merk jy op, onbewus dat ons woorde
alles aan die vergetelheid mag ontruk.
"Ése fue mi destino y en él viajó mi anhelo"
skryf Pablo Neruda. "Dit was my bestemming
en hierin lê die reis van my begeerte."
Om 'n onbekende landskap te karteer
soos om poësie te vertaal: die regte begrip,
nuanse, implikasie word 'n onbeplande reis.

V

"Dit was my bestemming
en hierin lê die reis van my begeerte."
word my mantra in die bedompige trope.
Dit stuifreën vandag. Die paaie onbegaanbaar,
die uitsig belemmer. Relieke, raaisels,
noem jy op. 'n Gedig skryf sigself:
twee sisteme bots in oorlog,
'n metafoor vir die woordreisiger.

VI

"Niks kon ons voorberei op hul haat,"
berig 'n ou kolonis met sy snor
sadisties geknip. "Hulle gesigte soos maskers
uit hout gesny." Hy skryf hierdie woorde op,
in Portugal ver van sy skade, na aan berou ...
"Pyn het geen datum van ontslag."
Sy ebbehoutmes kerf tabakrolle
soos hy aan herinnering pruim:

VII

Die laaste dag in Lourenço Marques
onthou hy goed: hoe almal opruim
inderhaas die stad verlaat
hulle haas weg weg van die marsende,
opruiende, opstandige massa
'n vloed van haat en opgekropte onreg
perdas e danos perdas e danos

VIII

skroei deur die briesende strate.
Dekades later stap die digter
deur die eens glorieryke wêreld:
hoe lyk 'n stad wat sterf?
Hy dra die stank van ontbinding
soos sweet- en uitskotreuke.
'n Park word 'n asvalhoop.
Die embleme van 'n ou bestaan verborge
onder verval, verderf, verwering.
Saggies skarnier die kerkhofhek:
'n forel in reënboogkleure
spuit oor groen mos sy helder water.

Woordelys

dias de tolerância: dae van verdraagsaamheid
nao entrada: geen ingang
perdas e danos: verlies en skade

[4] Webwerf

Hoe verskil die ervaring nie van die glanspapier nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top