
Baie geluk met jou ATKV-Mediaveer, Sophia. Vertel ons asseblief van die skryf van hierdie rubriek: staan die herinnering aan die skryf hiervan vir jou uit, met ander woorde kan jy spesifiek hierdie rubriek onthou tussen die volume ander werk wat jy produseer?
Ek ervaar skryf as ’n baie persoonlike en emosionele proses en dit gebeur nie sommer dat ’n mens ’n stuk skryfwerk vergeet nie. Met elke stuk werk wat ek skryf – of dit nou ’n rubriek, ’n reisartikel of ’n boekresensie is – ervaar ek ’n soort barensnood, ’n ongemak en soms selfs ’n angstigheid om dit wat ek wil kommunikeer, so akkuraat moontlik te verwoord. En wanneer ’n mens iets uit jou eie verlede of ervaring neerpen, word dit selfs nog meer van ’n gedoente, want jy moet terugstap in jou geheue, weer kind word, weer dinge sien en proe en hoor en probeer onthou hoe dit tóé was. Maar ek vermoed dit is juis die lekkerte van ’n rubriek soos dié een – daardie terugloop op jou spore en weer eenvoudig en in verwondering staan oor dinge, soos ’n kind. Een van die redes hoekom ons skryf, is tog om te dokumenteer hoe dinge was, om te verhoed dat ons onsself en ons stories iewers langs die pad verloor. En om hierdie rede vergeet jy nie sommer ’n stuk teks nie, en nog minder dít waaroor jy dié woorde saamgestring het.
As jy ’n rubriek skryf vir ’n tydskrif wat eintlik op ’n nismark gerig is – Weg! en Wegsleep! – sou jy dink dit vergemaklik of bemoeilik die skryf van ’n rubriek? Met ander woorde: Vind jy die tema van “weg” en “op die langpad” en “vakansie” ’n uitdaging of juis bevrydend omdat dit uitgestip is en nou kan jy die vryheid neem om te interpreteer en rond te speel binne die afgebakende grense van die frases om te vermy (“hemelmooi”, “beeldskoon” ...) en die enersheid van reis? Dalk moes ek gevra het: Hoe skryf jy telkens anders oor eenderse temas (soos reis)? (Ek is wel telkens verbaas oor jul kreatiwiteit by Weg! – hoor anderdag oor die radio van jul kompetisie, Wegkruipertjie, met ’n 4x4 wat in ’n Sanpark weggesteek word, en toe dink ek weer oor die kreatiewe naam vir hierdie kompetisie ... Julle is ’n oulike spulletjie.)
Ja, Weg en WegSleep (en ons ander sustertydskrif, WegRy) is wel gerig op nismarkte, maar ek ervaar dit nie as ’n vernouing van temas waaroor ’n mens kan skryf nie – dit is eerder ’n verskerping, ’n gekonsentreerde fokus op ’n tema wat menige Suid-Afrikaner met heimwee vul: om te reis. Ons is ’n nomadiese spulletjie – altyd aan ’t verken, swerf, ontdek. (Miskien is dit die setlaarbloed wat in baie van ons se are bruis.) Die ervaring van reis word nooit voorspelbaar of afgesaag nie – daar is altyd paaie en plekke waar ’n mens nog nie voorheen was nie, en dit is juis ’n streek se mense, klimaat, horison en dialek wat jou reis definieer. Dus bly die avontuur elke keer nuut, elke keer ’n verrassing.
’n Vraag wat nie regtig jou bemoeienis is nie, maar waaroor ek wonder: Wat dink jy daarvan om ’n rubriek, ’n essay en ’n blog oor dieselfde kam te skeer? Is dit dieselfde ding, op ’n manier? Is daar klemverskille?
Hierdie drie dissiplines laat seker die meeste ruimte vir ’n meer persoonlike aanslag, dié dat hulle in een kategorie saamgegroepeer word. Dit is opiniestukke, ’n seepkissie waarop die skrywer kan klim en sy storie vertel sonder om al die kante van ’n saak by die vertelling te betrek. Ja, ek sou sê dit maak sin om die drie saam te gooi – afsonderlike kategorieë sou dalk té klein gewees het en nie gesonde kompetisie moontlik maak nie.
Lees wie het nog ATKV-Mediaveertjies gewen.

