
Bench
Regie: Micheal Kirch
Skrywer: Brent Palmer
Spelers: Adrian Collins en Brent Palmer
Bench vertel die storie van twee karakters vir wie die noodlot nie veel gegun het nie en wat uit noodsaak alternatiewe wyses aangryp om kop bo water te hou.
Hendry verbeel hom hy is ’n karakter uit Oceans 11 en Dwain het ’n veel meer realistiese uitkyk op die lewe. Hy besef goed waarvoor hulle hulle inlaat wanneer Hendry hulle volgende operasie met hom deel: hulle gaan ’n Irma Stern-prent uit die nasionale galery steel, maar wanneer dit duidelik raak dat Hendry se plan vol gate is en Dwain dit uitwys, ontaard die storie in ’n hewige twis tussen die twee.
Adrian Collins en Brent Palmer bied puik karakterisering. Dit vat mens egter ’n rukkie om gewoond te raak aan Collins se aksent. Die sukses van komedie lê in die eerlike uitbeelding van ’n snit van die alledaagse en die reaksie van die gehoor, wat beslis kon identifiseer met veral die karakter van Dwain, bewys dat Palmer (ook die skrywer) hierin geslaag het. Rou komedie op sy beste!
Die taalgebruik is kras en daarom is die ouderdomsbeperking van 15 na ons mening te laag. Daar was egter jong laerskoolkinders in die gehoor en hulle het uit hulle mae gelag vir Hendry, Collins se karakter, wat beslis die kras karakter was – dalk juis daarom.
Bench is vars, eg Suid-Afrikaanse teater waarmee elke Suid-Afrikaner kan identifiseer. Wees eerlik met jouself, erken dat jy nog altyd wou weet wat in “sulke tipe mense” se koppe aangaan ... Wel, hier is jou kans. Bench wys tot 7 Oktober om 20:30 by die Kalkbaaiteater. Kaartjies kos R95. Bespreek op die teater se webtuiste: www.kbt.co.za.

