In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
William Emil Hollard – die man na wie Hollardstraat in Johannesburg vernoem is – was ’n kleurryke regsgeleerde. Hy is in 1836 naby die huidige Gdansk in Pole gebore. In die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek word hy as soldaat, avonturier en advokaat beskryf.1
Sy status as soldaat het hy verwerf deurdat hy in die Krimoorlog van 1854 tot 1856 geveg het en daarna saam met die Brits-Duitse Legioen na Suid-Afrika gekom het. Hy het hom by ’n militêre pos in Oos-Kaapland gevestig, waar hy by ’n kruithuis ingebreek en met heelparty gesteelde goed na die Vrystaat gevlug het. Op Smithfield het hy volgens oorlewering diens as tronkbewaarder gedoen. Hy was toe nog as Emil Lemondowsky bekend, maar het die van Hollard aangeneem nadat hy ’n medebewaarder, Franz Hollard, se vrou afgevry het, hoewel hy oplaas nie met haar getrou het nie
Op Smithfield het Hollard behoorlik met die gereg gebots. Hy is onder meer van moord en diefstal verdink. In die lasbrief wat die landdros vir sy arres gemagtig het, is hy beskryf as “’n gesette figuur, 1,7 meter lank, met ’n breë voorhoof, reguit neus, swart hare, snor en baard en blou oë”. Hy is in hegtenis geneem, maar het daarin geslaag om te ontsnap. Na omswerwinge in die latere Lesotho en Natal het hy hom in Transvaal gevestig, waar hy in 1870 as wetsagent aangestel is. Hy het die vereiste regseksamens met sukses afgelê en is in 1871 as prokureur toegelaat.
In Pretoria het hy ’n florerende praktyk as prokureur en advokaat opgebou. Hy was ’n vriend en vertroueling van president Paul Kruger, en gedurende die Anglo-Boereoorlog was hy ’n geheime agent vir die Boeremagte. Die bekende argitek WJ de Zwaan het vir Hollard ’n swierige huis in Pretoria ontwerp wat hy Friedesheim genoem het. Die huis was ryklik versier met glas en houtsneewerk wat alles uit Europa ingevoer is. Daar was ook pragtige mosaïekvloere, waarvan een met die wapen van Kruger se ZAR versier was. Die huis is, jammer genoeg, in 1955 gesloop.
![]() |
| ’n Ou brief waarin daar oor die Friedesheim-huis geskryf is. |
| Bron: 76 S. African L.J. 339 (1959) Correspondence |
As advokaat was Hollard heeltemal onortodoks. Deur gebare, suggesties en knipogies vir die jurie, en ’n vermenging van verskeie tale wat selfs as “Hollardtaal” bekend gestaan het, het hy groot welslae behaal. Hy was ’n aggressiewe mens in die hof en het sekerlik op dié manier ’n paar vyande gemaak. Prof Ellison Kahn vertel van die keer toe hy ’n verweerder in ’n ongure egskeidingsgeding so die josie in gemaak het tydens kruisverhoor dat die man – ene David Gunn of Gunn – hom vir ’n tweegeveg met pistole uitgedaag het.
Daar is verskeie weergawes van wat gebeur het.2 Volgens een weergawe het Gunn of Gunn vir Hollard net voor die tweegeveg om verskoning gevra en is die twee vreedsaam uit mekaar.
Volgens ’n ander – baie opwindender – weergawe het die tweegeveg wel plaasgevind, maar ene Winstanley het gesorg dat geen bloed sou vloei nie. Hy was ’n amateurtoneelspeler en het twee pistole wat op die verhoog gebruik is, in die hande gekry. Dié is met onskadelike loskruitpatrone gelaai. Hollard het dit geweet, maar wat hy nié geweet het nie, was dat Winstanley sý pistool met die hulp van ’n apteker gedokter het met ’n flessie wat ’n rooi vloeistof bevat het. Toe die teken tydens die tweegeveg gegee is, het die twee deelnemers omgevlie. Gunn of Gunn het eerste geskiet, en tot sy skok en verbasing het Hollard bly staan. Hollard het daarna versigtig gemik en die sneller getrek. Dadelik het daar op Gunn of Gunn se bors ’n rooi vlek gevorm wat vinnig groter geword het. Hollard het van skok versteen. Hy het al die galgtou om sy nek gevoel. Gunn of Gunn het gemerk dat iets verkeerd is en toe hy afkyk na sy bors, sien hy die groter wordende rooi vlek. Tot Hollard se absolute afgryse het Gunn of Gunn in sy twee voetspore inmekaar gesak – gelukkig net flou van skrik.
Die platjie Winstanley het geskater van die lag. Dit was ’n perfekte "tweegeveg" en een keer in sy lewe het die legendariese Hollard tweede gekom.
Hollard is op 6 April 1906 oorlede. Hy was 70 jaar oud.
1 Beyers, CJ (red). Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, vol IV (Pretoria: Butterworth, 1981), bl 254.
2 Kahn, E. A Trimestrial Potpourri in (105) SALJ (Augustus 1988), ble 581 ev.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


