Die laaste Afrikanerleiers: 'n Opperste toets van mag

  • 2

Uitgewer:
Tafelberg
ISBN:
 9780624052555

Die laaste Afrikanerleiers
Hermann Giliomee

Die gevierde historikus Hermann Giliomee beskou die val van wit regering in Suid-Afrika uit ’n prikkelende nuwe hoek: Pleks van onpersoonlike magte, of die vindingrykheid van ’n onstuitbare weerstandsbeweging, beklemtoon hy die rol van die Nasionale leiers en hul uitgesproke kritikus, Van Zyl Slabbert. Wat het die laaste Afrikanerleiers, van Verwoerd tot De Klerk, aangevuur?  Hoe het hulle sekuriteit, ekonomiese groei en wit bevoorregting probeer versoen met die eise van ’n immer meer uitgesproke swart leierskap – en met foutiewe volkskattings? 
 
In sy verkenning van elke leier se agtergrond, denke en persoonlikheid, neem Giliomee stelling in teenoor die  idee dat Suid-Afrika in 1994 onafwendbaar op ’n ANC-oorwinning afgestuur het. Hoewel hy die belang van strukturele magte erken, argumenteer hy dat historiese toevallighede en die gehalte van leierskap die landspolitiek radikaal beïnvloed het.
 
Openhartige gesprekke met ’n magdom betrokkenes en talle primêre bronne werp dramatiese nuwe lig op sleutelmomente: Verwoerd se aanbod in 1950 aan stedelike swart leiers, die inval in Angola in 1975, die onverwagte deurbraak wat die arbeidshervormings moontlik gemaak het, Botha se geheime poging in 1984 om ’n ooreenkoms met die Sowjetunie aan te gaan, die agtergrond tot die rampspoedige Rubikon-toespraak, tronkgesprekke met Mandela, bosberade waar die kabinet taktiek beplan het – en hoe die Nasionale Party in die onderhandelinge nie sy beloftes kon nakom nie. 
 
Giliomee bied ’n prikkelende politieke geskiedenis. Eerder as om te veroordeel, probeer hy verstaan waarom die laaste Afrikanerleiers opgetree het soos hulle het, en hoekom hul eie beleid hulle uiteindelik in die steek gelaat het.
 
‘’n Skerp nuwe lig op ou geskiedenis ‘
Anne-Marie Mischke
 
‘Hermann Giliomee vertel op meesterlike wyse van die oorgang van kil apartheid na ’n nuwe wêreld en hoe hoe werklike mag deur ideologiese bewindhebbers sonder slag of skoot afgestaan is aan ’n verbaasde nuwe elite.’
Ton Vosloo
 
‘Dit is die historikus se taak om die verlede oordeelkundig te problematiseer en nie bloot heersende opvattings klakkeloos na te praat nie. Hierdie uitgangspunt kom duidelik na vore in Giliomee se vars ontleding van prominente Afrikaanse leiers’ 
Albert Grundlingh
 
‘Intiem ingelig… van onskatbare waarde’
RW Johnson
 
 ‘Nuwe deurbrake… verhelderend’
David Welsh        

 
 Beskikbaar in Engels as The Last Afrikaner Leaders.


Klik hier en koop jou eksemplaar van Die laaste Afrikanerleiers nou van Kalahari.com!

  • 2

Kommentaar

  • ’n Werklik briljante interpretasie van Suid-Afrika se politieke leierskap.  Hierdie meesterlike integrasie van die tydvak en impak op besluite lewer ’n wesenlike bydrae tot die geskiedenis. Mens kry baie meer insig in politiese besluite wat geneem is.

  • Die boek se materiaal is uitstekend, maar dit gaan gebuk onder ’n Afrikaanse vertaling wat op plekke effens lomp voorkom, met o.a. direkte vertalings van Engelse idiome, wat ek steurend gevind het.  So moet ons bv. lees dat Vorster "uit sy diepte" was, of dat "die kat uit die sak" was (i.p.v. die aap uit die mou) rakende PW Botha se Rubikon-toespraak.  Miskien is ek ouderwets, maar ek verkies nog steeds die term "blankes" eerder as "wittes" of "wit mense."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top