Die kolonis se goeie bedoelings: gevaarligte vir persvryheid in Afrika?

  • 0

Die volgende artikel het onlangs in die Geesteswetenskappe-afdeling van LitNet Akademies verskyn:

“Sagte mag” in Afrika: China se soeke na invloed op mediaterrein

Die artikel fokus op Chinese media-instellings in staatsbesit wat hulle op die Afrika-vasteland, veral in Kenia en in Suid-Afrika, gevestig het as deel van China se pogings om sy isolasie te verbreek en ’n positiewe beeld internasionaal uit te dra. Hierdie poging word egter ook beskou as die uitoefening van sogenaamde "sagte mag", wat nie alleen daarop gemik is om China se beeld in die buiteland te poets nie, maar ook om sy magsbereik uit te brei.

George Germishuys deel sy gedagtes oor die debatte wat Herman Wasserman in sy artikel aanraak.

Om met die deur in die huis te val aangaande die kwessie van China se soeke na sagte mag in Afrika deur middel van die media, kan die vraag gevra word: Hoe effektief sal dit werklik wees? In ’n milieu waar mediaverbruik deur die bank afneem, kan die effektiwiteit van ’n blote nuusdiens of daaglikse koerant in twyfel getrek word.

George Germishuys

Die oorkoop van reeds bestaande mediahuise kan egter ’n heel ander problematiese scenario skep.

Die kwessie is egter nie so eenvoudig nie. China se huidige uitbreiding in Afrika kan gesien word as ’n voortsetting van die groot navorsings- en koloniseringsarmada wat hulle in die 15de eeu van stapel gestuur het.

’n Belangrike feit waarvan kennis geneem moet word, is dat die huidige “herkolonisering” van Afrika deur China gepaard gaan met fyn beplanning deur die beste denkstrateë. Die fout moet dan nie gemaak word dat die nuwe “scramble for Africa” met dieselfde lomp strategie wat deur die Europese moondhede destyds gebruik is, gepaard gaan gaan nie.

As gevolg van hierdie besondere konteks is dit dus noodsaaklik dat Afrika moes (en moet) glo dat Chinese uitbreiding in die vasteland se belang is. Afrika moet dus van China se goeie bedoelings oortuig word – dat dit ’n wensituasie vir albei partye sal wees.

Die dryfveer agter die uitbreiding is China se magtige ekonomie. Die feit is dat wanneer ekonomie in die prentjie is, emosie nie ver agter is nie. Dit is van kardinale belang om hierdie emosie op die regte wyse te kanaliseer – veral gegewe die politieke omgewing.

Die belangrike kwessie aangaande Chinese media se uitbreiding saam met hul ekonomiese uitbreiding in Afrika is die feit dat persvryheid nog nooit werklik boaan Beijing se prioriteitslys was nie.

Dit is dan redelik voor die hand liggend om te sien dat ekonomiese uitbreiding op so ’n groot skaal deur ’n vreemde moondheid noodwendig deur die betrokke staat se media asook plaaslike media ondersteun moet word. Die media moet almal oortuig, en oortuig hou, dat China in almal se beste belange optree – die goeie bedoelings van die hedendaagse kolonis.

Dit is dus belangrik dat die media die regte boodskap (die Chinese boodskap) moet oordra.

Die vraag wat aan die hand hiervan gevra kan word, is wat die werklike, praktiese invloed van Chinese media in Afrika sal wees.

Wat beteken dit in die praktyk?

Soos dinge nou is, is dit moeilik genoeg om ’n individu te kry om ’n bekende titel soos Die Burger, Beeld of The Citizen te koop of om vir ’n digitale uitgawe te betaal. Hoeveel moeiliker sal dit dan nie wees om ’n groot sirkulasie en gehoor vir ’n volksvreemde titel soos China Daily te bou nie?

Mense is stram in hul koerantgewoontes – ’n verwisseling van publikasie-alliansie gebeur nie sommer nie.

Die gebruik van die nuusdiens Xinhua blyk ook ’n tameletjie te wees – grootliks as gevolg van die feit dat enige staatsinligting uit China reeds met agterdog bejeën word. Dit sal ’n groot verrassing wees as daar net ten koste van gevestigde en gerespekteerde wires soos AFP, Sapa en Reuters van so ’n nuusdiens gebruik gemaak word. Dit kan dalk aanvullend gebruik word, maar soos reeds genoem, is besluitnemers by koerante reeds agterdogtig genoeg oor Chinese staatsinligting om dit enigsins as geloofwaardig te beskou.

Die nuusdiens se webtuiste 1 maak ook geen geheim van sy agenda nie. Sy nuusdekking sluit aan by die punt wat in die inleiding gemaak is oor China wat die vasteland wil oortuig dat sy ekspansionisme in albei partye se beste belang is.

Dit kos nie ’n gekultiveerde media-analitiese oog om te sien dat Xinhua se Afrika-dekking niks meer as ’n oefening in openbare betrekkinge is nie.

Die agterdog geld ook vir die koerant. Afgesien van die feit dat die getal betalende nuusverbruikers reeds drasties afgeneem het, en steeds aan die afneem is, bestaan dieselfde agterdog reeds oor Chinese staatsinligting onder nuusverbruikers.

Atul Gupta van The New Age

Die agterdog is nie bloot gebonde aan die land nie, maar vanweë die feit dat dit deur die bank as staatsgoedgekeurde inligting beskou sal word. Daar is ’n plaaslike voorbeeld om hierdie stelling te staaf: die Gupta-familie-befondste The New Age koerant – wat as ’n ANC-regering-mondstuk beskou word – het min tot geen impak in hulle kort tyd op die mark gemaak nie. Die koerant word nie net in joernalistieke kringe as sag en ongeloofwaardig beskou nie, maar ook onder die publiek. Die koerant se stryd om ’n voetspoor in die mark te maak was op ’n tydstip so desperaat dat hulle hope daarvan by die joernalistiekfakulteite kom aflaai het – die merkwaardige hope het egter altyd onaangeraak gebly. Die rillerstories van hoe The New Age se redaksielede na die pype van die stigtersfamilie moet dans, is ook welbekend in joernalistieke kringe.

Dit is tog nie te vergesog om te dink dat ’n Chinese “staatskoerant” ook as sodanig beskou sal word nie.

’n Volgende voorbeeld wat gebruik kan word, is om Chinese nuuskanale met ANN7 in Suid-Afrika te vergelyk. ’n Chinese nuuskanaal sal baie in dieselfde lig beskou word as ANN 7 – wat deur baie as ’n Suid-Afrikaanse regeringsmondstuk gesien word. Die nuusagenda in die geval van ’n Chinese kanaal sal so op die voorgrond wees dat nie geïgnoreer kan word nie. Die geloofwaardigheid van so ’n kanaal is dan bykans negeerbaar.

Die ander kwessie is dat die nuuskanaal ook met ander kanale sal moet meeding om ’n voetspoor in die Afrika-mark te ontwikkel – en die kompetisie is groot. Talle internasionale nuuskanale kan in Suid-Afrika gekyk word. Dit is dus die kyker se prerogatief om te besluit watter inligting verbruik word. Die kwessie van mediageletterdheid is hier ter sprake, maar dit is ’n heel ander debat.

Die volgende kwessie wat bespreek moet word, is die gevaar wat die oorkoop van reeds bestaande mediahuise in Afrika inhou. Daar is ook ’n voorbeeld op plaaslike bodem om die gevare duidelik te illustreer.

Die Sekunjalo-konsortium onder leiding van Iqbal Surve het onlangs die Independent koerant-groep in Suid-Afrika oorgekoop. Die transaksie het ’n onmiddellike uitwerking op die groep gehad, met ’n hele aantal senior figure by verskeie publikasies wat bedank het. ’n Gerespekteerde kommentator oor media-aangeleenthede, Anton Harber, het sy bedenkinge oor die transaksie uitgespreek. Hy het onder andere uitgevaar oor die konsortium se geheimsinnigheid oor sekere van die aandeelhouers.

Harber het ook genoem dat die koerantgroep, as gevolg van die transaksie en hul eienaars, noue bande met die regerende ANC-party het, maar dat dit moontlik nie ’n uitwerking kan hê nie, afhangend van hoe Surve sy publikasies se rol in Suid-Afrika sien.

Alide Dasnois

Die gevolgtrekking kan aan die hand van die bedankings gemaak word dat koppe sal rol indien ’n spesifieke mandaat by die koerante nie by die koerante gevolg word nie.

Cape Times-redakteur Alide Dasnois is in Desember 2013 van haar pos onthef – kort na Sekunjalo se oorname. Dasnois het gedurende haar loopbaan by vyf verskillende publikasies binne die Independent-groep gewerk – by drie van hulle as redakteur. Sy is van haar pos onthef deur middel van dissiplinêre aksie weens ’n reeks oortredings. Dit wil voorkom of die grootste oortreding haar besluit was om ’n voorbladstorie te gebruik wat handel oor die openbare beskermer se verslag oor die Sekunjalo-groep die dag na Mandela se dood. Die OB se verslag het onder andere bevind dat Sekunjalo baat gevind het by ’n R800 miljoen-regeringstender wat op verdagte wyse toegeken is.

’n Interessante wending in die eienaarskap kan wel later voorkom, aangesien Surve genoem het dat ’n persentasie van die besit in die hande van ’n Chinese konsortium kan beland in ’n poging om addisionele kapitaal vir die mediagroep te verkry. Hierdie groep kan moontlik 20% van die aandele bekom.

Harber meen dit is kommerwekkend dat die groep so kripties is oor die moontlike Chinese groep, en dat die gevolgtrekking gemaak kan word dat die groep aan die Chinese regering verwant is.

Wat so ’n geval kommerwekkend sal maak, is dat ’n redelike persentasie van die groep se aandele in die Chinese regering se hande sal wees, en hulle dus oor die vermoë sal beskik om die nuusdekking van ’n verskeidenheid gerespekteerde koerante, waaronder titels soos The Cape Times, The Cape Argus en The Star, te beïnvloed en moontlik te beheer.

Suid-Afrika het reeds gesien hoe vinnig die ANC na Beijing se pype dans – die Dalai Lama se visum-sage is ’n sprekende voorbeeld daarvan. Die gevaarligte is dus reeds aan die flikker.

Feit is dat ons in ’n milieu van agendas opereer. Die digitale era het ook tot gevolg dat ons met ’n groot verskeidenheid nuusdekking gebombardeer word. Ons word dus elke dag met ’n verskeidenheid agendas gekonfronteer. Dit is ’n feit dat Reuters, AFP, internasionale nuuskanale en selfs plaaslike nuusdienste hul eie agendas dryf. Ons word nou net met nog een gekonfronteer.

China is besig met die “herkolonisering” van Afrika – ’n beleid wat tog vrugte vir die kontinent ook kan afwerp. Die positiewe boodskap moet dus uitgedra word aan die publiek – en hulle nuusagentskappe is die logiese keuse om dit te doen.

Die uitbreiding van hul nuusdienste wat met hul dominansie gepaard gaan en die invloed wat dit op die ontwikkeling en instandhouding van ’n vrye pers in Suid-Afrika kan hê, bly ’n ope vraag. Net die tyd sal leer of die ontwikkeling van Chinese media tot die ondergang van ’n vrye pers in Afrika sal lei.

Dit is egter kommerwekkend om die scenario te ondersoek as die Chinese regering sou begin om reeds bestaande mediahuise te koop en vir hul doeleindes aan te wend.

Dit is moontlik reeds aan die gebeur.

Eindnotas

1 http://www.xinhuanet.com/english/africa/china.htm

Terug na die webseminaar: China se soeke na invloed op mediaterrein in Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top