Die Katolieke Universiteit Leuven | UCL betoon eer aan ’n uitsonderlike man

  • 0

Persverklaring deur die Katolieke Universiteit Leuven / UCL

Louvain-la-Neuve, 7 Februarie 2015

André Brink neem afskeid van ons: die Katolieke Universiteit Leuven / UCL betoon eer aan ’n uitsonderlike man

Dit is met groot hartseer dat die Katolieke Universiteit Leuven / UCL verneem het van die afsterwe van André Brink, wat ’n paar dae vantevore, op 2 Februarie 2015, die eretitel Doktor Honoris Causa van hierdie universiteit ontvang het.

André Brink is in 1935 in Suid-Afrika gebore en het sy hele lewe en oeuvre aan die vryheidsaak gewy. In die naam van hierdie ideaal het hy die apartheidsbeleid wat deur sy landgenote opgestel en verdedig is, veroordeel. Die kwetsende dreigemente en beskuldigings wat hom agtervolg het, het hom genoop om al sy tekste in Afrikaans en Engels te skryf in ’n poging om sensuur vry te spring en sodoende die wêreldwye verspreiding van sy werk te verseker (in die woorde van Martin Buysse, sy "beskermheer" aan die UCL). André Brink was een van die grootste kontemporêre skrywers uit Suid-Afrika, die land waarvoor hy hartstogtelik lief was.

Die UCL betoon hiermee eer aan ’n man wat sy lewe lank vryheid, regverdigheid en gelykheid voorop gestel het, met moed en vasberadenheid wat bewondering afgedwing het.

Die UCL bedank André Brink dat hy sy stryd, talent, sin vir humor en intelligensie gedeel het met almal wat die voorreg gehad het om hom tydens sy verblyf in België te ontmoet. Die universiteit betoon hiermee ook sy innige simpatie met sy eggenote, Karina Brink, asook met sy familie.

Vertaling: Naòmi Morgan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top