Die week in woorde

Wat is 'n "guilty pleasure" in Afrikaans? 'n "Skuldige plesiertjie"? Al klink dit nie vir my heeltemal reg nie, wil ek 'n "skuldige plesiertjie" in hierdie openbare bieghokkie beken: ek kan nie ophou om Suzanne Collins se The Hunger Games te lees nie. Ek het so 'n paar weke gelede die eerste boek in die reeks gelees (alleen vir werksdoeleindes, hoor!) en alhoewel ek nie juis beïndruk is deur die skryfstyl nie, kon ek dit nie neersit nie.
Aan die einde van die boek het ek onmiddellik die volgende twee gaan Google, en die plot-opsommings gaan lees om my te genees van enige drang wat dalk mag ontstaan om die boeke te lees. Dis gewoonlik 'n uitstekende voorbehoedmiddel, maar o wee, toe gaan kyk ek die film. Ek het vir myself gesê dis oor ek 'n aanhanger van Jennifer Lawrence is - sy was immers uitstekend in Winter's Bone. Maar ná die film raak ek toe lus vir boek nommer twee. Ek het geskop teen hierdie telltale-teken van my low-brow smaak, en sommer wéér die plot-opsommings gelees, net om seker te maak ek het die eerste keer presies verstaan hoe voorspelbaar en prekerig die storie ontvou. Ja nee, nog dieselfde op Wikipedia – geen ontwikkelinge die afgelope week nie. En net toe ek dink ek is heeltemal genees, lees ek 'n onderhoud met Lawrence in Rolling Stone . En 'n resensie van die Hunger Games-film. En 'n resensie van die klankbaan. En voor ek weet wat my besiel is Catching Fire (die tweede boek in die reeks) op my Kindle.
Nommer twee is nóg veel erger as die eerste geskryf. Soms skaam ek my namens Collins, maar meestal skaam ek my net omdat ek nie kan ophou lees nie. Ek het gister selfs in die verkeer skelmpies gelees. Ek wil graag beter wees as hierdie boek, en party passasies laat my nogal slim en meerderwaardig voel ... maar dis eintlik net illusie. Ek is 'n totale sucker vir Hunger Games.
Ek het 'n klein bietjie hoop dat ek die temptasie van die derde boek sal kan weerstaan, maar in hierdie opsig sal net die tyd ons leer. Ek het wel besluit dat indien ek ingee, doen ek dit sommer uitermate voluit: ek sal die lees van die derde boek inlei met 'n trippie McDonald’s toe vir tjips en roomys, terwyl ek kliphard Hall & Oates in die kar luister. Miskien tog maar met 'n groot sonbril en 'n balaklava aan. May the odds be ever in my favour.
Voorgeskrewe lees-, kyk- en luisterstof
Aangesien Rolling Stone gedeeltelik verantwoordelik is vir my Hunger Games-swakte, gaan kyk gerus hier wat Rolling Stone-lesers se musikale skuldige plesiertjies is. Miskien kan ek jou hook op een van my skuldige plesiertjies?
En net om te wys ons is nié alleen nie: hier is 'n lys van skrywers se skuldige plesiertjies as dit by boeke kom.
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


Kommentaar
Dis 'n lekker lys, Bibi.