Die week in woorde
Die naweek oor tee en ’n rice crispies koekie (vir my) en koffie en koerant (vir hom) vertel Loftus Marais vir my van ’n boekie wat hy in ’n tweedehandse winkel raakgeloop het. Die korrekte woorde deur HJJM van der Merwe is blykbaar nie ’n woordeboek nie en "... daarom sal u nie alle Afrikaanse woorde hierin vind nie. Sommige woorde en uitdrukkings wat probleme veroorsaak is hier opgeneem."

Watter woorde sou dit wees wat probleme veroorsaak? Hier in die omgewing van Valentynsdag is hart die voor die hand liggende antwoord. Buiten hartaanvalle en hartseer, dwaasheid en algemene chaos is daar ook die bykomende kwessie van waar om die hart te dra. Volgens Van der Merwe is dit glad nie so eenvoudig soos die algemeen-aanvaarde mou nie.
hart: Jou hart op iets sit: iets begeer – volkome korrek. Jy kan egter nie jou hart op die mou dra, soos in Engels nie – in Afrikaans dra ons die hart op die tong. (Kyk ook mou.)
Die digkuns wil hom reg bewys.
By nadere studie is dit duidelik dat die Engelse nie van altyd af hul harte op die mou gedra het nie. Lees en leer:
Beshrew that heart that makes my heart to groan
For that deep wound it gives my friend and me;
Is't not enough to torture me alone,
But slave to slavery my sweet'st friend must be?
Shakespeare se hart kon, as mens so na die sonnette kyk, nêrens anders as op sy Elizabethaanse kraag gesit het nie. Styf en stewig, maar kompleet met frille.
Vandag sit die Engelse harte wel op hul moue: die moue van hul sokkerspanne se truie. Dink byvoorbeeld aan hul huidige poet laureate se gedig "Achilles" vir sokkerheld David Beckham, of Phillip Larkin se voetbalgedig "Träumerei".
Die Pole se harte sit ook op hul moue, maar wel op ’n meer subtiele wyse. Iets soos hartvormige knope wat die moue mooi toehou, funksionele objekte wat nie net daar sit om te versier nie. Ek dink aan Szymborska, "There is much I owe/ to those I do not love", wat so netjies oor die vreemde weë van die hart skryf deur juis nie daaroor te skryf nie.
Amerikaanse harte hang dikwels aan die wasgoedlyn: dink maar aan Plath en Sexton of meer onlangs dalk aan Billy Collins, wat sommer vir ons Emily Dickinson se klere aan die wasgoeddraad ophang.
Kanadese dra hul harte soos spiese in hul hande, as Elizabeth Bachinsky te glo is: "And now all the neighbourhood students are drinking/ expensive-ish beer on their balconies thinking of the javelin/ toss love can be (at any age, but especially) when you're/ young and wearing carefully purchased footwear and/ accessories." (Of sit die hart juis in die versigtig-uitgesoekte skoene en bybehore?)
Uit Uys Krige se vertalings van die Spanjaarde lei ek af dat hulle hul harte op die oor dra – Luis Cernudaskryf in "As die mens sou kon sê wat hy liefhet":
Vryheid ken ek nie, behalwe die vryheid
om in iemand vasgeval te wees, iemand
wie se naam ek nie sonder ’n siddering kan hoor nie.
En so kan mens aangaan. Afhangende van wat jy lees, sou mens kon beweer dat Midde-Oosterse harte op stywe stoeipakkies aangebring word of aan ’n toutjie vasgemaak word en soos ’n heliumballon bo die kop sweef, en dat Russiese harte op die wange gedra word, en op ’n druppel na soos sneeuvlokke of trane lyk.
Maar in Afrikaans dra ons die hart op die tong: ons stuur met ons tonge ons harte die lug in soos rooiborsduiwe, ons breek spieëls met ons tonge tussen onse en homme, ons vaar met ons tonge oor riviere (die diepste woorde wat ons ken, om by haar uit te kom) en ons tower met ons tonge berggansvere op om ons boodskappe oor te dra (indien dit teen dié tyd nog nie duidelik is nie).
Ons tonge is waaghalsig en wulps en staan terug vir niks. Ek vier vandag ons Afrikaanse tonge en moedig almal aan om hul tonge te laat klap. Ek lê jul elkeen ’n hartvormige sjokolade op die punt van die tong, een wat onmiddellik sal smelt en soetjies afglip tot in die maag, waar dit (hopelik) vir ons almal minder probleme sal veroorsaak.
Hartlike groete tot volgende keer.
Met ander (se) woorde
Maak seker jy vergewis jou van etlike probleme wat die woord hart kan veroorsaak:

hart: Jou hart op iets sit: iets begeer – volkome korrek. Jy kan egter nie jou hart op die mou dra, soos in Engels nie – in Afrikaans dra ons die hart op die tong. (Kyk ook mou.) Iets ter harte neem – volkome korrek in die betekenis: jou daaraan steur (ook so in Ndl), en as jy dit jou aantrek, is dit ook nog goeie Afrikaans, want dit staan nie onder invloed van Eng to take something to heart, soos soms beweer word nie.
(HJJM van der Merwe, Die korrekte woord)
Voorgeskrewe leesstof
154 harte op Elizabethaanse krae
11 harte op die moue van die sokkertruie
Een Poolse hartknoop om die mou toe te hou
Een gedig wat heelwat harte aan die wasgoedlyn hang
’n Boek met ’n donker hart wat soos ’n spies in die hand gehou kan word
|
Poësie in die nuus Die US Woordfees, wat vroeg volgende maand op Stellenbosch plaasvind, het ‘n klomp lekker goed op die program vir mense wat ekstra-baie van poësie hou. Neethlingshof Slenterfees Joan Hambidge: Lot se vrou Mongane Wally Serote Nuwe stemme 5 Om die droogte groen te skryf Ons is nuut hier! Die groen in die gedig
Wat is ekokritiek? Hoe lyk ’n ekogedig? Wat het Darwin en DNA hiermee te doen? En hoe lyk ’n wurmtegniek? Digter en akademikus Susan Smith gesels oor die groen in die gedig aan die hand van enkele Afrikaanse en internasionale verse en ruim sommer ’n paar wanpersepsies uit die weg. ’n Móét vir alle poësie-aanhangers. 9 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40 Ons geliefde digters En soe kap ôs an! Oop mikrofoon
|
Op my bedkassie
Ek moet tydens die Woordfees ’n klomp “groen” gedigte voorlees en is deesdae permanent op jag na dié skugter spesie.
Ek het tot dusver agt groen post-it notes in my Groot Verseboek (my gunsteling sover by "Die laaisel van die sonbesie" deur George Weideman, ’n oulike velsie waalin die splekel nie ’n "r" kan sê nie - dit kom iedel maal as "l" uit.) Ook oulike voëlgedigte (seker groen genoeg; hulle sit immers in bome?) in die sterre sê 'tsau' (Antjie Krog) raakgeloop, en ek werk op die oomblik deur groenstaar (Marlene van Niekerk, wat op grond van die titel kwalifiseer as ‘n "groen" bundel) en Diorama (Johann Lodewyk Marais) waarin al wat fauna en flora is, opgedig word.
As iemand weet van ander groen gedigte wat die aandag van my (bruin) oë verdien, laat weet tog. Ek wil asseblief nie ’n groot groen gees uitlaat nie.
Ek het ook die naweek René Bohnen se nuwe bundel, in die niks al om, onder oë gehad, en baie lekker daaraan gelees. Ek sal binnekort in meer besonderhede rapporteer, aan die hand van ’n onderhoud met René.
Wen
Daar is reeds ’n handvol inskrywings vir die poësie-kompetisie wat tans op LitNet aan die gang is. Klik hier vir die kompetisie-besonderhede. Klik hier om die inskrywings te lees.
Gedigte op LitNet
Volg hierdie skakel vir die nuwe gedigte wat vandeesweek op LitNet gepubliseer is.


Kommentaar
Hallo Bibi.
Ek neem aan jy ken die bundel "Groen" saamgestel deur Johann Lodewyk Marais? Ek het self 'n gedig daarin met die titel "Bobbejaan klim die berg".
"Groen" HAUM-Literêr. Eerste uitgawe, eerste druk 90/3
ISBN 0 7986 3043 4
Groetnis
De Waal Venter
Beste De Waal
Hallo Bibi
Van harte gepraat: om ons almal se geheues te verfris – die oorsprong van die uitdrukking "’n riem onder die hart".
In die Middeleeue het die mense geglo dat jou dapperheid in jou hart sit. En as jy bang word, sak jou hart af. "My hart het tot in my skoene gesak." Die woord "riem" het in daardie tyd "band" of "gordel" beteken. (Ons het dit hier in Suid-Afrika die betekenis gegee van 'n stuk beesvel waarmee jy goed vasbind).
Toe kry die Middeleeuse soldate 'n plan. Hulle bind daardie gordel styf net so onder hulle hart sodat dit nie kan afsak nie. Dan bly hulle dapper. Maklik 🙂 Dis vir my 'n riem onder die hart.