Die Goue Banana deur Linza de Jager

  • 2

Titel: Die Goue Banana
Outeur: Linza de Jager
Lêergrootte: 681 KB
Beskikbaar by Amazon Digital Services

Die blurb op Amazon beskryf Die Goue Banana as “’n Lekkerlag-komedie wat met tye net te na aan die been sny vir gemak.” Hierdie klein novelle skitter soos ’n swart diamant met eksistensiële angst en galgehumor. Dit is eenvoudig gilsnaaks met ’n skuins traan.

Baba Botha is ’n 43-jarige tabloid-joernalis en kugel. Sy is kort en mollig en blameer haar voorsate hiervoor: “Hulle was kort, dik vleisvreters van die Karoo wat uitgeboer het en opgeëindig het as portiere in die Oos-Kaap.”

Baba is off-beat en onbeholpe. Sy het ’n velkondisie op haar maag wat die dokter verbaal gediagnoseer het as “Miller’s antelope”, maar sy kan geen verwysing daarna op die internet opspoor nie. Sy het ’n kat wat teen haar been masturbeer, een groot oor wat rooi gloei asof hy seine na die moederskip stuur, aggressiewe kraaie wat haar terroriseer, ’n leedvermakerige redakteur wat oorverhit soos ’n warmwatersak, ’n hangende lastersaak teen haar. Sy is die spot van die sportredaksie. Sy vind soms troos in goedkoop witwyn, fudge-blokkies en wortelkoek wat twee bakstene hoog staan. Sy is ’n vegetariër wat op kantoor grys steak vir ontbyt eet in navolging van Tim Noakes. Haar huismaat is ’n asosiale, alkoholistiese rekenaarboffin. Baba het flambojante kleresmaak en verkeer in konstante geldnood.

Die gebeure is chronologies, soos dagboekinskrywings. Daar is nie die samehang van ’n storielyn nie, maar Baba se aweregse gewaggel deur haar beroepslewe laat die momentum voorstu. Dis hoogs onderhoudend. Dis nooit een oomblik “precious” nie, dis skynbaar moeiteloos bedrieglik diep. Dis terloops-aangrypend, dit kleur jou hele dag. Baba hoop op ’n scoop wat haar sal vestig, ’n smaaklike man, gelukkiger goudvisse, meer energie. Sy is, soos ons almal, op soek na haar ware self. Sy is ’n soort intellektuele Bridget Jones, ’n Lucky Jim wat daagliks die haas onmoontlike vermag: die lewe navigeer.

Die styl is verfrissend, die skrywer mors nie met woorde nie, maar hierdie e-boek sou baat by 'n knap proefleser - daar is hier en daar 'n spelgogga.

Linza de Jager was vroeër, in die begindae, by Kalahari: sy was een van die pioniers wat hierdie aanlyn boekwinkel gevestig het. Sy het haar stempel deeglik afgedruk as een van die kreatiewe meesterbreine wat Kalahari se nuusbriewe so ’n plesier in ’n mens se inboks gemaak het. Daarna het sy verskeie posisies in die joernalistiek beklee en haar veral as fabelagtige rubriekskrywer by Son onderskei. Sy het onlangs ’n aanlyn nuus/tabloid-webwerf gevestig: www.ak48.co.za. Sy het ook ’n aanlyn kinderboek geskryf oor katte wat met supermagte toebedeel is na ’n kernontploffing en moordsake oplos, maar dié kon ek nog nie onder oë kry nie.

Die Goue Banana is ’n wonderlike reis, ’n blik op die wêreld vanuit ’n buiteruimtelike besoeker se kop, iemand vir wie inpas nooit eens ’n opsie was nie. Dit herinner aan die jeugboeke van Paul Zindel, waar koddige eende met skeppies Asperger en woedende hormone hul weg probeer vind, aan die eiesoortige, dwars blik van Kurt Vonnegut, aan alle boeke wat my ooit bly gemaak het. Dis ’n vonds wat ek hoog en luid aanbeveel.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top