In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
'n Sekere mnr Yeats het vroeg in Mei 1983 sy betreklik nuwe Mercedes-Benz by 'n motorhawe in die Noord-Kaap gelaat vir herstelwerk. Sy afspraak met die motorhawe-eienaar was dat hy die voertuig daardie middag teen vyfuur sou kom haal, maar om een of ander rede het hy nie opgedaag nie. Die motorhandelaar het die motor in die vertoonlokaal geparkeer en toegesluit. Gedurende die nag van 5 en 6 Mei 1983 is daar by die motorhawe ingebreek en mnr Yeats se Mercedes-Benz is gesteel. Hy het dit nooit weer teruggekry nie, hoewel die wrak later êrens in die destydse Transkei deur die polisie opgespoor is.
Mnr Yeats het daarna 'n skadevergoedingsaksie teen die eienaar van die motorhawe ingestel. Hy het sy eis op 'n bewaringsooreenkoms gegrond. Met ander woorde, hy het aangevoer dat daar 'n bewaringsplig op die motorhawe-eienaar gerus het om sy voertuig in veilige bewaring te hou totdat dit weer aan hom teruggelewer sou word. Hy het verder aangevoer dat die motorhawe-eienaar versuim het om sy motorvoertuig veilig te bewaar en dat die voertuig as gevolg van die motorhawe-eienaar se nalatigheid gesteel is.
Die regsposisie is dat die bewaarnemer wat teen vergoeding die bewaargewer se eiendom bewaar, regtens verplig word om die goedere veilig te bewaar en in dieselfde toestand aan die bewaargewer terug te lewer. Slegs wanneer die goedere sonder die nalatigheid of skuld van die bewaarnemer - in dié geval die motorhawe-eienaar - tot niet gaan of beskadig word, sal hy nie aanspreeklik wees vir die waarde van die goedere nie. As die goedere egter as gevolg van sy nalatigheid beskadig is of gesteel word, sal hy aanspreeklik wees. Dit is die regsposisie, maar die partye kan hierdie posisie onderling wysig deur byvoorbeeld voorwaardes daaraan toe te voeg.
Die motorhawe-eienaar se saak was dat daar egter op 'n prominente plek in sy werkswinkel 'n kennisgewing is wat soos volg lees: "Voertuie word gestoor en bestuur op eienaarsrisiko." Hy het met ander woorde beweer dat dit 'n voorwaarde van die ooreenkoms tussen hom en mnr Yeats was dat enige skade aan of verlies van mnr Yeats se Mercedes die eienaar se risiko sou wees.
Mnr Yeats se eis het voor regter Steenkamp van die hoër hof op Kimberley gedien. Die regter het 'n baie noukeurige ondersoek gedoen van die regsreëls wat by 'n bewaargewingsooreenkoms geld. Hy het beslis1 dat die bewoording van die motorhawe-eienaar se kennisgewing, naamlik dat voertuie op die eienaar se risiko geberg en bestuur word, wyd genoeg was om die motorhawe-eienaar te vrywaar teen enige eise met betrekking tot mnr Yeats se voertuig wat as gevolg van die motorhawe-eienaar se nalatigheid of selfs growwe nalatigheid gesteel is. Hy het ook beslis dat die aanspreeklikheid by 'n eienaarsrisikoklousule uitgesluit word slegs waar daar 'n opsetlike handeling aan die kant van die bewaarnemer was – met ander woorde, waar die motorhawe-eienaar op een of ander manier opsetlik sou veroorsaak het dat die motor gesteel word. Slegs dán sou hy hom nie op hierdie wyd-bewoorde klousule kon beroep nie.
Mnr Yeats het aangevoer dat hy die kennisgewing nie gesien het nie, aangesien dit hoog, bokant 'n deur, geplaas was. Hy het 'n hoed gedra en die hoed se rand het gekeer dat hy die kennisgewing kon raaksien. Die regter wou egter nie aan hierdie storie byt nie en het beslis dat die kennisgewing op sodanige plek geplaas was dat die motorhawe-eienaar se klante, insluitend mnr Yeats, die kennisgewing behoort raak te gesien het. Hoewel hy dus nie van die kennisgewing bewus was nie, was die hof van mening dat mnr Yeats redelikerwys daarvan bewus behoort te gewees het en dat dit derhalwe deel van die bewaringsooreenkoms gevorm het. Mnr Yeats het dus nie met sy eis geslaag nie, maar dit blyk darem uit die hofverslag dat hy verseker was en gevolglik kan 'n mens aanneem dat sy versekeringsmaatskappy sy Mercedes-Benz vervang het.
Die les is dat 'n mens maar jou oë moet oophou vir belangrike kennisgewings by motorhawens, herstellers van televisiestelle en videomasjiene, meubelstoffeerders, en dies meer. Daardie kennisgewings vorm deel van jou ooreenkoms met die eienaar en jy kan nie later sê dat omdat jy dit nie gesien het nie, jy nie daaraan gebonde is nie.
1 Yeats v Hoofweg Motors 1990(4) SA 289 (NC)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

