Die DA verswart

  • 1

Op die oog af blyk lyk dit asof die meerderheid bruin mense binne die bestek van meer as twee dekades hulle binnekort weer eens op ‘n groot politieke trek gaan begeef.

So blyk dit te wees nadat dit toenemend aan die lig kom dat die nou tradisionele tuiste van veral die bruin werkersklas, die DA, hom toenemend in ‘n politieke grys gebied bevind. Dit, so meen menigte politieke meningsvormers, is omdat die DA alles in die stryd werp om hom toenemend te herskep om aanvaarbaar te wees vir swart mense. Ook om meer swart stemme in die komende verkiesing te kan trek.

Die onlangse dubbelpratery oor die Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming binne die DA is ‘n duidelike illustrasie. Regstellende aksie en transformasie is ‘n teer punt in bruin geledere, omdat hulle voel dit bevoordeel hul min of glad nie; net swartes.

Ook die Agang-debakel het ‘n gegons in bruin geledere veroorsaak. Teen die agtergrond van die koms van ‘n veelrassige demokrasie die afgelope twee dekades in die plek van eksklusiewe (wit) selfbeskikking, kan die DA nie eintlik regtig anders nie. Die politiek van die huidige Suid-Afrika is hoofsaaklik swart en word dus, reg of verkeerd, deur swartes oorheers. Geen politieke party met min of geen bewese swart steun kan dus ‘n noemenswaardige toekomstige politieke rol vervul nie.

Dit is teen die agtergrond van die politieke werklikheid (Realpolitik) dat die DA genoodsaak was, en nog steeds is, om sy steun, kiesersprofiel en leierskap meer verteenwoordigend van swartes te maak. Dit is dus ‘n gegewe dat die DA-leierskap en ook in die parlement toenemend swart gaan word. Helen Zille se opvolger sal na alle waarskynlikheid swart wees.

Hoe raak dié “swartifikasie” van die DA bruines se politieke toekoms?

Om te verstaan in watter politieke penarie bruines hul werklik bevind, moet die politieke geskiedenis van bruines sedert 1990 in konteks geplaas word.

Die Raad van Verteenwoordigers van die driekamerparlement wat in 1984 tot stand gekom het, het bruines gedeeltelik beheer oor hul “eie sake” gegee. By ‘n geleentheid het Richard van der Ross aan my gesê dit was die eerste en laaste keer dat bruines so naby aan “beperkte” mag gekom het. Dit sal nooit weer gebeur nie. Die vrylating van Nelson Mandela in 1990 het bruines dus nie net polities bevry nie, maar ook gedeeltelik polities verlam.

Politieke partye in die Raad van Verteenwoordigers was almal skielik irrelevant en dus in die politieke wildernis. Die Arbeidersparty se saamslapery met die ANC het sommige bruines se “bangheid” vir die “swart gevaar” beklemtoon. Bruines het toe by die NP aangesluit, ten spyte van hul beperkte invloed in en beheer van die party. Met die NP se verdwyning het bruines ‘n nuwe politieke trek aangepak. Tony Leon se DP met sy “fight back”-veldtog was toe hul politieke stasie. Met die DP se oorgang na die DA het bruines weer eens saamgetrek.

Sedert 1990 trek bruines altyd verder polities regs; ook verder weg van swartes, maar nader aan wit mense. Waarheen gaan bruines nou trek, noudat die DA swarter word?

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Jason Lloyd se uiteensetting is baie realisties en ewewigtig. Weens die tirannie van die meerderheid is daar in die politiek geen effektiewe plek vir minderhede soos die wittes, bruines en Asiate nie. Hierdie opset is gewoon nie in die landsbelang nie. Die waarheid wat erken moet word, is dat die grondwetlike grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer, foutief is. Op die huidige manier sal die land nooit (weer) 'n voorspoedige land wees waarin dit veilig en aangenaam is om te woon nie.

    Johannes Comestor  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top