Die behoue huis: Verhale teen die skemer

  • 0

Die behoue huis. ’n Keur uit die kortverhale van Abraham de Vries
AH de Vries
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152792
Prys: R170.00

Klik hier en koop Die behoue huis nou van Kalahari.net!

By die herlees van Abraham de Vries se kortverhale in die nuwe samestelling deur Wium van Zyl word mens weer eens deur die vakmanskap van hierdie meester van die kortverhaal beïndruk. Dit is met groeiende bewondering en verwondering dat ’n mens die storie van die menslike kondisie volg en die progressie van toenemende weerloosheid ervaar, want: “Hoe praat mens oor mens? En oor genade?”

Die keur is uit Soms op ’n reis: ’n keur (1987), Nag van die clown (1989), Skaduwees tussen skaduwees (1997), Tot verhaal kom ( 2003) en Verbeel jou dis somer (2009). Veral die laaste drie bundels sou as ’n volledige drieluik uitgegee kon word, aangesien dit tematies en intratekstueel sterk verbind is. Maar dan is dit miskien weer die soeke na ’n eenheid wat De Vries juis wil ondermyn.

Oor die keuse van ’n versameling uit ’n skrywer se werk sal daar seker altyd hier en daar verskil van mening wees, maar hierdie keur sorg wel deeglik dat die kern van De Vries se temas en styl vir die leser saamgevat word. Dit is opvallend hoe, selfs in die versamelde verhale wat enigsins buite bundelverband lê, die interpretasie van enkelverhale nog altyd deur die geheel gewysig word. Die voorkoms van kortverhaalreekse (om ’n term van Botes en Cochrane uit ’n onlangse LitNet-artikel te gebruik) is herkenbaar binne die versameling, en verskeie verhaalaspekte dra by tot ’n geïntegreerde interpretasie oor die onderskeie verhale heen. Daar is byvoorbeeld onder andere De Vries se kenmerkende besinning oor die aard van die kortverhaal en stories, die besef van die ontwykende woord en die verganklikheid van die menslike bestaan, waarin voortdurend gesoek word na dit wat behoue bly wanneer die skemer toesak. Die verskil tussen realiteit en verhaal word ook deur die versameling toenemend vaer en die veelheid van vertellers beweeg al nader na die outobiografiese, sodat ook die grens tussen verteller, implisiete outeur en konkrete outeur vervaag.

Vanaf die eerste verhale kom karakters voor wat die mens se eksistensiële eensaamheid uitbeeld, soos in “Soms op ’n reis” en daarna “Een vlees”, wat van die mens dorpsidiote en wanhopige boksers maak in “Die uur van die idiote” en “Boksers”. In “Raam” is die geding met die maak van die storie al opvallend en die dagboekaantekeninge ’n poging om ons werklikhede in ’n storie in te skryf. Die inskryf van die mens in intriges deur ’n “ander” skrywer word ’n herhalende tema in van die verhale hierna.

Die groot groep geselsgenote wat wag op die jokkie in “Jokkie”, met die onderliggende weemoed en verlatenheid, herinner sterk aan die stemming in “Die uur van die idiote”. Uit hierdie eerste verhale in die keur blyk reeds ook die behoefte aan iets wat behoue sal bly uit die ruïnes van ’n lewe: “iets blywenders as verval, iets suiwerders as bevrediging”.

Die ontglippende aard van woorde (én stories) word onder andere beklemtoon deur die verwysing na en gebruik van verskillende kunstenaars soos Messer Donato in “Siënese dagboek” en die magiese Van der Vyver in “Towenaars”. Dagboekinskrywings word weer as styl gebruik en verhale verander in die stories van strate wat uiteindelik almal die storie word van een straat. Dit is die stórie wat moet bly staan teen vergetelheid, die verwoesting en die krummelende stad.

“Nag van die clown” is ’n andersoortige Kersverhaal wat later in ’n ander vorm herhaal word in “Tussen gewone mense daardie aand”, die Kersverhaal in Tot verhaal kom, en die gelykluidende besinning oor wie die “script skryf … dat ons kan rondval met sulke perfect timing”. Die maak van ’n storie uit teorie en hoe stories teorie kan word, word opvallend beklemtoon in “Die bruid” en voortgesit in “Towenaars” waar beelde lewe kry, fonteine verhaal word, maar die storie self verlore kan gaan. Die illusie van werklikheid én verhaal word verder verbind met die droom van ’n huwelik wat die werklike huwelik moet onderskraag in “Die besoeker”.

Die magteloosheid om slegs uit letters die naderende skemer te besweer, blyk sterk in “Skaduwees tussen skaduwees”. Die uitbeelding van die onmenslikheid van die apartheidsbeleid vorm die kern van “Wintervoorraad’, wat as verhaal sterk herinner aan “Maaltyd” in Tot verhaal kom. Hier reeds kom ’n refrein tot stand wat in heelwat van die verhale wat volg, herhaal word: “dis verby, dis verby” – maar dis nié verby nie; dat dit verby is, is net ’n illusie. Ook ten opsigte van die huidige politieke bestel word dieselfde tema herhaal, soos in “Hierdie poskaarte”.

“Winkelplaas – ’n verhaal” bevraagteken opsigtelik die verskil tussen outobiografiese werklikheid en verhaal, maar stel ook direk die rol wat verhale speel in die soeke na dit wat behoue bly: “verwyl in die woord, o, verwyl. Want wat bly oor? Kyk alles is vlietend soos skaduwees.”

“Bouvalle” wei uit oor die rol van die verlede en die soeke na geborgenheid, maar waarsku om nie “uit te vee wat ander juis onthou nie”. Die behoue huise is, soos verhale, ook “omhulsels vir maniere van lewe”.

Die toenemend dreigende konteks van geweld, korrupsie en verval word ontstellend aangedui in die slot van die apokaliptiese “Die behoue huis” in die woorde: “en tog het dit al begin”. In aansluiting by hierdie tema is die populierbos-herinnering van “Populierbos” (wat terugverwys na die restaurant-aanval in “Nie soos in ’n storie nie” in Skaduwees tussen skaduwees) en die slot: “daar kom geen einde aan nie”. Die illusie van die geborgenheid van die verlede word verder verbreek deur die ontkenning: “Dis nie ons populierbos nie.” Wat bly oor as selfs die illusies nie meer haalbaar/verbeelbaar is nie?

“Donker spore” voer die progressie in die uitbeelding van geweld, ’n “metafisiese redeloosheid”, verder, en ook die gebruik van verskillende verteltegnieke brei uit: dagboekinskrywings, onderhoude, notas vir verhale en briewe. Teenoor die refrein van die begin van waansin staan slegs die vertel van stories oor mekáár se stories as versoening. Die verhaal sluit met ’n gelate droefheid oor ’n “tyd toe daar nog hoop was en drome”. “Dagboek van ’n afloop” herhaal die tema van redelose geweld en relativeer die verskil tussen skurke en helde met die verwysing na die verwoesting van Dresden tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die besinning oor die onklaarheid van verhale word voortgesit. Uiteindelik, ná die groot gil oor al die puinhope en skaduwees van vernietiging, bly slegs ’n stilte hang – ’n stilte waarin ook later weer besin sal moet word oor al die verhale wat tot stand gekom het, geskryf is, geléés is.

As teenvoeter teen hierdie wêreld van verval word die woonhuis op Vadersgawe herbou in “Woede”, wat baie ooreenkomste toon met “Skaduwees tussen skaduwees” en “Bouvalle”, want: “Daar kom tye wat bou al is wat oorbly.” Die ontdekking dat ook deug en skoonheid breekbaar is, versterk verder die tema van illusies wat verbreek word in verhale soos “Winternag” en “Storm”.

Uiteindelik is die beskrywing van globalisering in “Ons dorp” ook die beskrywing van die universaliteit van ’n kleindorpse (en Klein Karoo-) bestaan, bevestiging van die algemeen-menslike emosies en illusies, dat iemand anders die toutjies trek: die regisseur van ons menslikheid. Wat oorbly teen die skemer? Die “behoue huis” van verhale, onvolledig, onklaar of nie: verhale wat “die kontoere van berge en huise en bome en velde lig vashou soos iets breekbaars onder dreigende wolke”. Dit is ons (verbeelde?) skans teen ’n immer weerlose en verganklike menslikheid.

Vir De Vries-lesers én oningewydes ’n baie bruikbare en sinvolle versameling wat lesers heel moontlik sal inspireer om ook die volledige oorspronklike bundels (weer) te gaan lees.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top