Die atleet en die uitspraak: Was daar enige wenners?

  • 0
Bron: askwiki.com

“If you like laws and sausages, you should never watch either being made.” – Otto von Bismarck

Oscar Pistorius. OJ Simpson. Twee wêreldberoemde atlete. Twee dooie blondines. ’n Media-frenzy en ’n verhoor wat regstreeks uitgesaai was, met die tipe belangstelling laas gesien met die Wêreldbeker. Elke tweede leek het skielik in ’n regskenner ontpop.

Die Pistorius-saak is geskiedkundig vir ons, bloot omdat dit die eerste Suid-Afrikaanse verhoor was wat feitlik in totaliteit uitgesaai was. Toe daar oor die aanvanklike aansoek om die media in die hof toe te laat, besin was, het die regter aangedui dat dit in die openbare belang is om dit toe te laat, sodat gewone mense kan sien hoedat regspleging geskied. Hy was van mening dat dit groter vertroue in ons regstelsel sal inspireer.

Sommiges reken die plan het gebackfire.

Die reg is egter ’n stomp instrument, en die uitspraak in hierdie saak het ons weer herinner dat reg en geregtigheid nie ’n Siamese tweeling is nie. Die een vloei nie noodwendig voort uit die ander nie. Soos Honorè de Balzac dit gestel het: “Laws are spider webs through which the big flies pass and the little ones get caught.” Enige regsgeleerde weet goed daar’s ’n hemelsbreë verskil tussen legal guilt en moral guilt. Aan sy morele skuld is daar bitter min twyfel, en ek vermoed Pistorius sal eers regtig met sy lewe kan aangaan wanneer hy sy skuld beken.

Stem ek met Masipa, R se uitspraak saam? Nee. Ek dink sy het die beskuldigde hopeloos te veel die voordeel van die twyfel gegee. Maar ek dink nie sy’t ’n swak uitspraak gelewer nie. Sy het soos ’n mes deur botter gesny deur die onsinnighede wat deur beide die staat en die verdediging voorgehou was as relevante feite. Sy het die regte regsbeginsels identifiseer en haar beslissing daarop gegrond. In daardie opsig het sy beslis die ideaal van hoe regspleging behoort te geskied, voorgehou. Haar optrede dwarsdeur die verhoor was ferm, maar regverdig.

Daar is egter alreeds oorgenoeg oor die uitspraak geskryf en ek verwag daar gaan nog heelwat geskryf word. Ons regstelsel is robuust. Die staat kan appèl aanteken, of die minister kan ingryp. Bitter min foute kan nié op een of ander manier reggestel word nie.

Bron: wikipedia.com

Intussen gaan ons vreemde Suid-Afrikaanse blame game voort. Regter Masipa het verkeerd beslis want sy’s ’n vrou. Of swart. Daar word gemaak asof sy die eerste regter in die geskiedenis van regspleging is wat ’n beslissing maak waarmee sommiges nie saamstem nie. My enigste reaksie daarop is: in die eerste klompie jare nadat ek begin praktiseer het, was daar een enkele vroueregter, en geen swart regters nie. Daar was hope appèlle gegrond op foutiewe beslissings, en nie in een enkele geval was daar beweer die regter maak ’n fout omdat hy wit is, of ’n man is nie. In ’n hele aantal van die beslissings het die regters foute gemaak op regsgronde soos in hierdie geval. Die beslissing wat regter Masipa gemaak het, kon net sowel deur ’n wit man gemaak gewees het. Feit is, regters is mense, en mense maak foute. Maar in Suid-Afrika word swart vroue nie toegelaat om foute te maak nie.

Een van die basiese beginsels van strafreg is dat daar by elke misdryf ’n dader of daders is, en een of meer slagoffers. In hierdie saak was Reeva Steenkamp die ooglopende slagoffer. Maar was sy die enigste een?

Die regter moes Donderdag en Vrydag met polisiewagte aan weerskante van haar bank uitspraak lewer. Foto’s van die polisiekavalkade wat haar na en van die hof begelei, doen die ronde op Twitter. Sy ontvang skynbaar gereeld doodsdreigemente. Is dit dan enige wonder dat sy by tye afgetrokke en selfs gespanne voorgekom het? Sy’t seer sekerlik geweet dit maak nie saak wat haar beslissing is nie – ’n gedeelte van die bevolking gaan ontevrede wees daarmee. Ten spyte daarvan het sy gedoen wat sy moes doen. Hoe jammer, dan, dat sy nou as ’n voorbeeld van onbevoegdheid voorgehou word. Sy is nie. Sy is ’n ervare regter wat onder geweldige druk haar werk gedoen het na die beste van haar vermoë. Haar reputasie is egter nou aan flarde. Sy was nie in daai badkamer nie, maar sy is ook ’n slagoffer wat in die spervuur beland het.

Wat van Reeva self? In die hele proses het sy ’n onpersoonlike “die oorledene” geword. Haar lewe is beëindig, haar potensiaal kortgeknip. Hoe ironies dat sy, soos Anene Booysen, meer bekendheid verwerf het met haar sterfte as met haar lewe.

Die ANC Vroueliga was elke dag vir 43 hofdae daar om die Steenkamps by te staan. Ek kan nie onthou dat hulle ooit in die hof in Bredasdorp was om Anene se familie by te staan nie. Soveel ander slagoffers se families moet ook maar op hulle eie sien en kom klaar. Is dit sinies van my om te dink dat die teenwoordigheid van die kameras, en die moontlikhede vir publisiteit, heelwat te doen gehad het met hulle besorgdheid? Hoeveel van hulle integriteit het in die slag gebly?

En wat van die vele vroue, gesigloos en naamloos, wat nog in die toekoms deur hulle mans en kêrels aangerand en vermoor gaan word? Tot tyd en wyl Masipa se beslissing omvergewerp word op appèl, of ’n volbank in ’n soortgelyke saak anders beslis, is alle laerhowe (landdros- en streekshowe) in Gauteng gebonde aan die beslissing, en hulle is verplig om dit te volg. In teorie beteken dit talle mans wat hulle intieme metgesel vermoor, kan letterlik met moord wegkom. Die beslissing gee moorddadige mans die perfekte verskoning om voor te hou as hulle hulle geliefde vermoor, solank hulle maar net seker maak daar is nie getuies nie.

In ’n land met van die hoogste geslagsgebaseerde geweldstatistieke ter wêreld, is dit ’n skrikwekkende gedagte.

Oscar Pistorius kon dit nooit voorsien het nie, maar toe hy daai vier skote deur ’n geslote badkamerdeur gevuur het, het hy ook Lady Justice met haar stomp swaard en haar deursigtige blinddoek gekwes. Net die tyd sal leer hoe ernstig sy gewond is.

Bismarck was reg. As mens enigsins omgee vir regspleging, moenie kyk hoe dit gebeur nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top