25 Augustus: die afsterwe van ’n bejaarde steekhaarbrakkie (en twee bulhonde)

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Nou die ander dag vertel iemand die verhaal van ’n rampspoedige misverstand tussen een van ’n Suid-Kaapse dorp se diere-artse en ’n bejaarde egpaar wat daar deurgery het op pad Kaap toe. By hulle in die motor was hul getroue vriend, Vlekkie – ’n bejaarde steekhaarbrakkie wat glad nie van motorry gehou het nie. 

"Sal dokter hom nie asseblief aan die slaap maak nie, en hier is sommer die geld ook," was die versoek van die twee oumense.

Nou, ons weet almal wat dit beteken as ’n diere-arts versoek word om ’n hond "aan die slaap te maak". Of wéét ons?

Toe die diere-arts ’n halfuur later toevallig deur sy ontvangsportaal stap, sien hy die bejaarde egpaar nog steeds daar sit. "Nee, ons wag nog dat Vlekkie moet slaap, dokter, sodat ons hom verder kan saamneem Kaap toe," was die antwoord toe die arts versigtig navraag doen.

Vandag se hofsaak handel ook oor ’n opdrag om twee pragtige honde – twee Boerboele, genaamd Brutus en Jessie – "aan die slaap te maak", maar dié keer was dit in die sin van permanent laat slaap – van kant maak, om dit brutaal te stel.

Brutus en Jessie se eienaar was ene mev Clarke van Durban. Sy het op ’n dag in 1959 die Dierebeskermingsvereniging (DBV) na haar huis toe laat kom en hul opdrag gegee om die twee honde op ’n "menslike wyse" uit te sit. Onder geen omstandighede moes hulle aan iemand anders gegee word nie.

’n Paar weke later het mev Clarke snuf in die neus gekry en ondersoek ingestel. Ja, wrintiewaar, Brutus en Jessie was nog in die land van die lewendes én by nuwe base.

Mev Clarke het daarna ’n aksie teen die DBV ingestel waarin sy aangevoer het dat aangesien hulle nie haar opdrag uitgevoer het nie, sy nog steeds die eienaar van die honde was, en dat hulle aan haar teruggelewer moes word. In die alternatief het sy skadevergoeding ten bedrae van R84 – die destydse waarde van die twee diere – geëis. (R84 in 1959 is vandag seker al ver verby R3 000.)

Die DBV se prokureurs het eksepsie teen mev Clarke se dagvaarding aangeteken. Eenvoudig gestel beteken dit dat as ’n verweerder ’n eksepsie teen ’n eiser se dagvaarding aanteken, hy in wese aanvoer dat die dagvaarding nie ’n skuldoorsaak openbaar nie. Toegepas om mev Clarke se saak teen die DBV, beteken dit dat die DBV aangevoer het dat mev Clarke nie ’n saak gehad het nie en net die hof se tyd gemors het. Hulle het dit veral teen die bewering gehad dat sy skade gely het, terwyl haar opdrag dan juis was dat die honde vernietig moes word!

Die saak het uiteindelik voor die Hooggeregshof in Pietermaritzburg beland, en op 25 Augustus 1959 het regter Jansen die hof se uitspraak gelewer.[1] Die kern van die regter se uitspraak is dat ’n opdraggewer soos mev Clarke – die reg noem so iemand ’n prinsipaal of ’n lasgewer – te eniger tyd haar opdrag kan terugtrek as dit nog nie uitgevoer is nie. Dit is dan die plig van die lashebber – in dié geval die DBV – om enige eiendom van die lasgewer wat hy in sy besit mag hê aan die eienaar terug te besorg.

Die honde is nie ooreenkomstig mev Clarke se opdrag vernietig nie, en deur hulle terug te eis het sy haar opdrag teruggetrek. Die DBV was gevolglik verplig om hulle óf terug te lewer óf – as dit nie meer moontlik was nie – haar deur die betaling van ’n bedrag geld te vergoed vir die verlies van haar eiendomsreg in Brutus en Jessie.

Die hof was dus tevrede dat die dagvaarding wel ’n skuldoorsaak geopenbaar het en dat die saak op verhoor kon gaan – wat eintlik maar ’n formaliteit was: die skrif was immers aan die muur; hierdie saak sou die DBV verloor. Die DBV moes boonop mev Clarke se regskoste vir die getwis oor die eksepsie betaal. Hulle het te laat agtergekom dat haar byt méér as haar blaf was.

My vrou skud haar kop en sê: "Waaroor mense darem nie hof toe sal gaan nie!"


[1] Vgl Clarke v Durban andCcoast SPCA 1959(4) SA 333 (NPA)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top