Skrywer: Greg Latter
Regie: Craig Freimond
Spelers: Jamie Bartlett, Shirley Johnston, Ashleigh Harvey en Nicholas Pauling
Harold Smith is ‘n geskiedenisonderwyser by een van Grahamstad se vooraanstaande privaat seunsskole. In die hartjie van dié “frontier land” word hy in sy geskiedenisklasse meegevoer met die ryk geskiedenis van die distrik.
Die toneel open met ’n dramatiese verduideliking van die 1843-stryd tussen die amaXhosa en Engelse aan die Oosgrens van die Kaapprovinsie (nou bekend as die Oos-Kaap). Harold word verlore in die geskiedkundige inhoud van sy klasse en het ’n besonderse passie vir die geskiedenis rakende die Xhosas. Die blanke, Engelse, middeljarige man met twee kinders wat reeds die land verlaat het na Kanada en Australië op soek na sogenaamde groener weivelde blyk ’n onverwagte patriot te wees. Sy geskiedenisverhale word nie besoedel deur ’n subjektiewe oogpunt as gevolg van ras en erfenis nie, maar word eerder gelewer uit ’n merkwaardig objektiewe oogpunt en vertel die geskiedenis met duidelike respek daarvoor. Harold sien dit as sy plig om die jong mans van die volgende geslag, jare later gebore in ’n demokrasie en met ‘n klaarblyklike skraal verhouding met hulle oorgeërfde geskiedenis, op te voed oor die geskiedenis waaruit hulle saamgevleg is.
Dit is egter onder Harold se uiterse passie vir sy vakgebied en sy selfgegewe opvoedkundige plig dat sy persoonlike verhoudings ly. So sien ons hoe sy vrou met kanker gediagnoseer word en die hele gesin onder die spanning daarvan ly. Op die oog af kan Harold maklik lyk na ’n onsensitiewe individu wat sy vrou dood praat en nie veel van ’n verhouding met een van sy kinders het nie, maar mettertyd word sy ware karakter en klein hartjie ontbloot. Die res van die karakters (wat sy gesin opmaak) staan in sterk kontras met Smith: sy vrou, Maggie, is besonder sensitief en bedagsaam en speel saam in sy daaglikse geskiedenisspeletjies en rituele. Sy kinders het ’n ongenaakbare blik op die brutale werklikheid van die wêreld, en meer spesifiek, Suid-Afrika. Uiteindelik kyk die gehoor met deernis na Harold wat, ten spyte daarvan dat hy effens vassit in ’n onrealistiese verlede, met passie en liefde sy naastes en sy land net die beste toewens.
Jamie Bartlett spog met vooraanstaande karakterisering. Hy bring lewe na ’n geskiedenisonderwyser met wie ons almal al kennis gemaak het. Verfynde karakterisering, fisikaliteit en ’n merkwaardige spektrum emosies getuig van ware meesterskap in sy spel. Bartlett gee tot in die kleinste besonderhede aandag aan karakterbou, soos byvoorbeeld hoe ’n man anders sal optree as hy voor ’n skool jong seuns staan teenoor sy houding in sy intieme kring teenoor sy vrou.
Die teks is van so ’n aard dat die karakter van Harold Smith baie dominerend aandag geniet, maar die ander drie karakters is baie minder ontwikkel en skep dus ’n uitdaging vir die akteurs om volronde karakters te speel. Die akteurs het hulle egter goed van hul taak gekwyt om die verhoudinge te skep wat Smith se nabye netwerk vorm en in sterk kontras met sy karakter staan. Shirley Johnston, as die ander bekende teatergesig, is baie suksesvol in haar spel as Smith se teer en sensitiewe eggenoot. Interessante karaktersbesluite gee aan die karakter se stryd met kanker geloofwaardigheid. Ashleigh Harvey en Nicholas Pauling, as Smith se twee kinders, was ongelukkig minder suksesvol in hul ondersteunende rolle. Hier is dit egter moeilik om te oordeel of dit die aard van die baie vereenvoudigde rolle is of die keuses van die akteurs.
Slim en eenvoudige ontwerp deur Nadia Cohen skep ’n speelruimte waarin die akteurs gemaklik van verhaalruimtes kan verwissel, vanaf ’n oorsese telefoonoproep tot ’n klaskamer of ’n gesinshuis.
Greg Latter skep ‘n teks wat nou, meer as ooit, ‘n plek in ons (nie meer so nuwe nie) Suid-Afrika het. Dit lewer ’n eerlike boodskap wat ‘n klag teen die meeste Suid-Afrikaners kom lê. Deur die versigtige skep van Harold Smith as hoofkarakter, met sy spesifieke erfenis en demografie wat niemand in Suid-Afrika misken nie, sorg Latter daarvoor dat die boodskap nie oorpatrioties voorkom nie. Dit bevraagteken ons waardering vir erfenis, beklemtoon die belangrikheid daarvan en pleit om die respek en verstandhouding van ander. Ons is hier gebore en getoë, en die slotwoorde van Smith, ’n wens vir “all the tribes under one roof”, laat by ons ’n belangrike bewuswording van ons plek in hierdie Suid-Afrika.
Death of a Colonialist is tot 22 Februarie by die Golden Arrow Studio, Baxterteater te sien. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

