Danelle: "Ek was vreesbevange ..."

  • 0

Die sanger-liedjieskrywer Danelle de Vries is gereed om haar musiekloopbaan uit te bou te midde van talle verwikkelinge op ander terreine in haar lewe. Sy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Danelle. Hoe’s dinge?

Hi Henry, man ek kan glad nie kla nie! Sit en kyk uit oor die uitsig vanaf my nuwe huis en gesels met jou. Salig. 

Jou debuutalbum, Son Sien Opkom, is laat in 2012 uitgereik, hoewel jy volgens inligting op jou Facebook-blad al sedert 2005 hard aan die woeker is met die skep en uitvoer van oorspronklike liedjies. Hoe het dit dan gekom dat dit lank geneem het om die album vry te stel? Hoe het die beplanning- en samestellingsproses agter die album verloop?

Geld en ’n bemarkingspan het ontbreek tot 2012! 🙂

Jong, dit het, soos die meeste dinge in my lewe, redelik vinnig ontwikkel en ontpop. My materiaal was meer as gereed (jy lees mos nou hoe woeker ek al van 2005) en toe word ek raakgesien in ’n restaurant in Franschhoek, waar ek rustig in ’n hoek sit en sing, en word die “record deal” met Sony aangebied. Daarna neem ek video’s van lewende uitvoerings van my liedjies wat ek akoesties sit en sing op en stuur als vir die producer. Daar was seker so 35 liedjies wat ek gekies het om vir hom te stuur. Hy het omtrént gelag vir my! Ek sê toe net, maar hy moet sekerlik genoeg hê om uit te kan kies! 🙂 Daarna het hy toe 13 liedjies van my gekies en een van sy eie liedjies op die album gesit. Die album het gevra om ’n redelik sterk pop-aanslag te hê, so ek het baie teruggestaan in die produksie, want ek het ’n sterk linkse oor (as dit enigsins sin maak) en gogga mag dalk net vir baba bang gemaak het. Dit gesê, het hulle nog baie van my “essence” behou en die musiek net ’n meer toeganklike aanslag gegee – ’n minder vreemde baadjie aangetrek.

Jy beskik oor ’n besonder sterk, karaktervolle stem. Vertel bietjie: hoe het jou verkenning daarvan begin en verloop, en hoe het dit gekom dat jy fokus op die skep van jou eie liedjies, ook in die genre (“meander folk”, soos jy dit self beskryf) waarbinne jy werk? Ek bedoel nou teenoor “covers” sing vir ’n bestaan, of op geleenthede in sangkompetisies staatmaak of so …

Baie dankie.

Sjoe, dit is nou so ’n “naby aan die hart”-vraag, want laas week het ek nog herstel van ’n monstergriep wat toe eskaleer na laringitis en my los met géén stem vir ’n week nie. Ek kan nie vir jou sê hoe dit my geaffekteer het nie. Ek was vreesbevange en het nou en dan sulke mini-“panick attacks” gekry van die blote gedagte dat “sê nou net my stem kom nie terug nie”; “sê nou net ek kan nooit weer sing nie” … Ek wou gek word! Dankie tog vir skrywers soos Eckhart Tolle – sy werk kry dit reg om my uit my waan te pluk en rustig te maak.

So om jou vraag te beantwoord: ek het foto’s van myself waar ek twee jaar oud is en in my ouma se huis staan met ’n mikrofoon (uit my oom se winkel) in die hand, besig om uit volle bors te sing. Dit is net iets wat ek doen sonder om daaroor te dink. Ek raak vol van die lewe en dan sing dit uit my uit, of speel dit uit my uit, of loop dit uit op papier. Daarom was dit ook tot dusver so moeilik vir my om ’n “besigheid” van my musiek te maak - “it’s too close and personal.”

Ek hou van baie ander musikante se werk, baie, maar my fokus was nog altyd om my eie liedjies te skryf. Die geleentheid om hulle grootskaals ten toon te stel het net eers in 2012 gebeur. 🙂

Die beskrywing “meander folk” het ek noodgedwonge uitgedink nadat ek ’n artikel gelees het van die ou wat CD Baby begin het, Derik Sivers, waarin hy sê hoe belangrik dit is dat jy jou werk ’n naam gee. Ek besef toe dat ek eintlik ’n folksangeres is wat hou van meander. En oral waar ek meander, sien en ervaar ek verskillende kleure en geure en skryf, sing en speel ek dit weer uit!

As ’n mens kyk na jou aanlyn teenwoordigheid, lyk dit of jy eerder lusmakers vir die album beskikbaar wou stel as volledige liedjies. Tog is daar ’n reeks live vertonings, met ’n volle band, op YouTube gelaai. Wat was die motivering daarvoor om dit so beskikbaar te stel en hoe voel jy in die algemeen, as jong kunstenaar, oor die digitale beskikbaarstelling en deel van musiek teenoor die meer tradisionele fokus op albumverkope?

Hmmm, op iTunes weet ek kan mens net luister na ’n “snippet” van ’n liedjie en dan moet jy hom koop om die res te hoor. Dit was so opgestel deur die suits. Die vol-band-video’s was van die CD-launch-konsert, en ek het gevoel mense moet weet hoe lyk en klink die band / live performance voor hul my/ons sou bespreek.

Ek hou van die aanlyn teenwoordigheid wat mens al ’n geruime tyd kan hê, bloot oor die wêreldwye toegang daartoe. Die vintage-kant van my sal maar áltyd hou van ’n CD met ’n mooi en interessante omslag, met die lirieke in die boekie. Ek hou van boeke en van met die hand skryf. Dit beteken nie ek omhels nie tegnologie nie (ek is báie lief vir my Macbook!), maar ek hou nog steeds van boeke, CD’s, vinyls (al is my draaitafel stukkend) en ja, tapes. (Ek het nog ’n boks met ou Tori Amos, Ani de Franco, Bob Marley, Mike & the Mechanics.)

Jy is ’n Bloemfonteiner van geboorte, maar deesdae gevestig in die Boland. Hoe ervaar jy die toneel in die Wes-Kaap in terme van ontvanklikheid en geleenthede vir Afrikaanse liedjieskrywer-sangers? En in die breër Suid-Afrika?

Ja, ek is in Bloemies gebore, maar ek het in die Kaap grootgeword. Dis al wat ek as musikant ken. Ek het nog nooit in Gautengeleng gebly en gewerk nie, so ek kan nie regtig ’n vergelyking maak nie. Maar vanselfsprekend is ek dan baie gelukkig hier, want ek wou nog nooit trek nie! 🙂

Na verneem word, is jy betrokke by die restaurantbedryf. Vertel bietjie meer daarvan, en spesifiek hoe jy dit balanseer met jou musiekloopbaan? Is daar enige mate van interaksie, of hoe gaan jy te werk daarmee?

Jong, ja, kyk … hierdie onderwerp moet ek nou mooitjies oor gesels! Ek en my partner, Johan Botha, kyk al vir ’n geruime tyd na ’n venue waar hy lekker kos en kuiergeleentheid vir mense kan bied en waar ek vir hulle kan musiek maak. So gesels ek met ’n maat van my, Mynhard Joubert, oor verskillende plekke, maar dat ons nie kan kry waarvoor ons soek nie. Daar gaan toe ’n baie helder liggie by hom aan, en om ’n láng storie kort te knip, eindig ek en Johan ’n maand gelede op by Schalk Burger snr op sy plaas Welbedacht. Hy soek nuwe mense om sy restaurant te kom bestuur. Ons het toe die Woensdagoggend ’n uur vergadering gehou en die Donderdagaand 17h30 kry ek ’n oproep van Mynhard wat min of meer as volg lui: “Danny, sit jy?” “Ja, hoekom?” “Ek het goeie en slegte nuus …” 

“Goeie nuus eerste, asseblief ...” “Schalk is mal oor julle en dink dit kan werk … Die slegte nuus? Julle moet al môre begin!”

Dit was drie weke gelede en ons is reeds deur ons eerste Wellington Oesfees (daai selfde naweek as Dorpstraat se finale), ’n verhuising (in die stortreën) na die plaas, en die Oes-af 6-a-side kriekettoernooi.

So, ek weet nog nie lekker hoe ek als gaan balanseer nie, maar tot dusver speel ek by die restaurant, sommer op die stoep – soos ek “rehearse” vir KKNK ... 🙂 Multitasking ... 🙂

Luidens die beskrywing op jou Facebook-blad het jy bande met beide Universal Music en Sony Music Entertainment Africa. Hoe werk hierdie verhouding, en hoe voel jy, hierdie ervarings in ag genome: Moet jong musikante vennootskappe met platemaatskappye benader? Wat moet aangegryp word, en waarvoor moet ’n mens versigtig wees, veral in ’n Afrikaanse konteks?

Goed, so ek is steeds by Universal Music Publishing as liedjieskrywer, maar ek is nie meer by Sony as kunstenaar nie. Ek het na die eerste termyn van die drietermyn-ooreenkoms besluit om op ’n vreedsame wyse bande te skei. Ek is baie gelukkig om vir Ryan Hill van Universal as my publicist te hê. Hy gee ongelooflik goeie raad vir my as skrywer en kyk baie mooi na my belange. Hy doen al die strukturering van ooreenkomste vir my, en soek ook werk vir my bestaande liedjies sowel as kommissiewerk.

Raad vir jong kunstenaars ivm platemaatskappye: as jou produk iets is wat vir ’n platemaatskappy onmiddellik báie geld gaan inbring, ja, teken, want hul sal dan baie mooi na jou kyk. As jy ’n kunstenaar is wat nie so perfek in die korporatiewe vorm pas nie, sou ek sê gebruik die internet en aanlyn platforms wat deesdae tot almal se beskikking is en bemark jouself.

Iemand wat al sedert 2005 aan die komponeer en uitvoer is, en boonop intussen ’n debuutalbum vrygestel het, is sekerlik al blootgestel aan van die mees aangename en die mees onaangename soorte ervarings wat die plaaslike musiekbedryf bied … Watter hoogtepunte staan tot dusver vir jou uit? En enige ervarings wat jy eerder sal wil vergeet?

Een van my “treasures” is ’n foto saam met wyle Taliep Pietersen by die gala-aand van Idols 2006. Ons het mekaar om die nek en die fotograaf se sigaretrook maak ’n perfekte raam om ons gesigte, en natuurlik lag ons oopbek! Snaaks dat die ding wat ek eerder ook wil vergeet, uit daardie selfde ervaring (Idols) kom, nl om Steve se “Pampoen” te sing soos Danelle. Oeps! 🙂

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Danelle in, spesifiek op die musiekfront maar ook andersins?

Ek het die afgelope jaar baie geleer oor home recording. Ek werk met ’n program genaamd Studio 1. Dit is soooo lekker. Ek het midi-controllers en sound modules en al wat ’n ding is aangeskaf en werk koorsig daaraan om beter en beter “demos” te maak van my nuwe liedjies. Ek wil graag meer gevestig word in die mark as ’n liedjieskrywer, maar is nog bietjie senuagtig om my demo’s uit te stuur.

Ryan is ’n wonderlike sounding board vir my produksies en is onverbiddelik eerlik, wat ek natuurlik baie waardeer. So, hopelik is daar binnekort ’n volgende Pink- of Taylor Swift-treffer wat uit my pen is … wie weet!

Ek sal nooit ophou sing nie, maar doen dit met ’n meer natuurlike ritme vs so ’n “super beplande” trant van laas jaar.

Wat is die sin van die lewe?

Evolution of the Soul!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top