Dag in Kalkbaai

  • 0

Kalkbaai sit vanoggend gewolmus
en geserp toegevou in oggendmis
met vergesigte van fletsblou lug –
vissersbootjies wat kleure praat
partytjieballon in die wind
  
langs die kuspad heup aan heup gestring 
is winkeltjies omring met wierook en koffiegeure
wat neuse kielie agter lamppale wat bedags 
soldaat staan en snags lig-en-skadu speel

as jy mooi luister sal jy seemeeue
hoor fluister van skatte en snuffelgeheime
versamel in die buik van die ou Trading Post

maar die beste van Kalkbaai is die China Shop
wat uit ’n wegsteekstegie wink
oorlopens toe getooi met troetelporselein –
Royal Albert, Noritake, Arzberg –
van plafon tot vloer gestrooi

die oggend sweef weg oor die vissersdorpie
die sonstrale eggo kalksteen
in die nugterheid van die middaguur,
verflou langsaam
en word weggesluit
in donker se gat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top