Die toneelprogram van die 17de Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom spog met debuutproduksies wat groot in skaal en omvang is, sowel as gewilde trefferproduksies van ander feeste.
Tsjekof is in Afrikaans te sien in Saartjie Botha se nuwe verwerking van Die seemeeu. ’n Uitstaande rolverdeling – wat insluit Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kamper, Alyzzander Fourie en Rolanda Marais – staan onder spelleiding van Christiaan Olwagen in dié tragikomiese ode aan onvervulde liefde.
Marthinus Basson is die regisseur en ontwerper van die Belgiese skrywer Tom Lanoye se epiese Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles, waarin die fokus op die Franse historiese figure Jeanne d’Arc en maarskalk Gilles de Rais val. Hoewel dit in die 15de eeu afspeel dien dit as ’n spieël vir die 21ste eeu en beredeneer die stelling: As die Staat en Kerk kan doen net wat hulle wil, waarom dan nie die individu nie. Nicola Hanekom, André Roothman, Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Dawid Minnaar, Wessel Pretorius en Stian Bam is onder andere daarin te sien.
Schalk Schoombie se komiese drama, Gepiekel, speel af op ’n Vrystaatse dorpie waar behoudende waardes so swaar weeg soos die kuns van piekel. Die gemeenskap het die Appelgryn-gesin verwerp omdat Josias geprofeteer het dat hy uit die dood sal opstaan. En soos die dae afgetel word, word die een donker geheim na die ander onthul. Henry Mylne behartig die regie en Alwyn van der Merwe, Henriëtta Gryffenberg, Neels van Jaarsveld en Altus Theart is deel van die rolverdeling.
Trefferproduksies van ander feeste is ook deel van die program. Van die Suidoosterfees is daar die bekroonde komiese riller van Martin McDonagh, Beauty Queen (vertaal in Afrikaans), onder regie van Mylne met Marga van Rooy, Hanli Rolfes, Denver Vraagom en Duncan Johnson.

Van die Absa KKNK kom die Kanna-wenner vir beste debuutproduksie, Dogma, van Christiaan Olwagen – losweg gegrond op sy eie verhaal wat die verbrokkeling van sy ouers se verhouding ondersoek nadat sy pa, ’n predikant, met veelvuldige sklerose gediagnoseer is, met onder andere Erik Holm wat daarin te sien. Die verkragting en moord van Anene Booysen is die vertrekpunt van Rachelle Greeff se drama, Rondomskrik, onder spelleiding van Hennie van Greunen en met Shaleen Surtie-Richards as deel van die rolverdeling. Wentel is ’n apokaliptiese bewegingsteaterdrama geskryf en geregisseer deur Nico Scheepers met onder andere Anna-Mart van die Merwe en Pedro Kruger, dansers en indrukwekkende poppe van Nieke Lombard. Vir ewig en altyd met Sandra Prinsloo en Marius Weyers is die ontroerende verhaal van ’n vrou wat terminaal siek is en wat voor ’n moeilike besluit te staan kom.
Bidsprinkaan, Saartjie Botha se verwerking van André P Brink se gelyknamige roman en met Janice Honeyman as regisseur, was in 2013 die trefferproduksie by die Suidoosterfees. Die produksie is benoem vir sewe Fiësta-pryse, met Lee-Ann van Rooi wat die Fiësta-prys vir die beste vroulike byspeler gewen het vir 2013.
Dana Snyman se Die klaagliedere van ds Tienie Benade debuteer by Innibos waarin Frank Opperman die rol van ’n middeljarige predikant van ’n sukkelende Afrikaanse gemeente vertolk. Stephanie Gericke het by die Woordfees die Uitskieterprys gewen vir die titelrol in 2013 se Krêkvarsfees-wenner, Melusine van Arcadia. Die wenner van vanjaar se Krêkvarsfees, wat einde Julie aangebied word, sal ook by Clover Aardklop te sien wees. Oudergewoonte ding tien produksies mee in die finaal van die ATKV-Tienertoneelkompetisie, wat vanjaar sy vyftigste verjaardag vier.
Na-aap, ’n verwerking van Franz Kafka se A Report to an Academy, keer terug na Aardklop nadat dit verlede jaar gekanselleer moes word toe De Klerk Oelofse ’n besering opgedoen het. Jaco Bouwer is die regisseur. Chris Vorster maak weer ’n draai met die opvolg Affairs vir domkoppe 2, waarin die nuwe domkoppe selfs dommer as die ou domkoppe is. Die befaamde Herman Charles Bosman-karakter, oom Schalk Lourens (vertolk deur Paul Lückhoff), praat vir die eerste keer Afrikaans op die verhoog in Oom Schalk Lourens se mampoerstories in Afrikaans.
Ook op die toneelspyskaart is Yasmina Reza se bekroonde komedie Art met Christiaan Olwagen, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt onder spelleiding van Marthinus Basson; Lionel Newton is te sien in Paul Slabolepszy se komiese, dog tragiese The Return of Elvis du Pisanie; Going Gooding is ’n skiet en seldsame blik op radio met bekende radioman Malcolm Gooding “agter die mikrofoon”; en Lizz Meiring speel in Ishmael Mahomed se Cheaper than Roses.
Gewilde gesigte (hetsy as akteurs of karakters) maak ook ’n draai: Dowwe Dolla (ddbb... Dowwe Dolla betaal belasting); Marion Holm (HOL Marion!); die feeskatte Elsabé Daneel, Joanie Combrink en Susanne Beyers (Feeskatte); die bakgatte (Jou gat my skat!); die boeties se sussies se ouens in die klug My boetie se sussie se ou; Hannes Muller as die grotman (Groet die grotman); Wilson Dunster en Elize Cawood (Die-hoe-se-wat-se-wie-nou-weer?); Jody Abrahams en Christo Davids in die gehoor-interaktiewe-improvisasie-avontuur-komedie Titanik: Een yslike avontuur; en die mimiekkunstenaar John Jacobs (Mime le France)
Op die woordkunsfront word daar vanjaar hulde gebring aan twee gevierde skrywers. God die digter is ’n viering van T.T. Cloete se 90ste verjaardag met musikante Babette Viljoen en Olga Leonard en Cloete wat self van sy gedigte voorlees. Mits dese wil ek vir jou sê… is uittreksels uit Hennie Aucamp (wat vanjaar kort voor sy tagtigste verjaardag oorlede is) se verhale, dagboeke, briewe en kabarette, aangebied deur Johann Nel en André Terblanché.
Die fees word van 7 tot 11 Oktober in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

