Van groot musiekkonserte en ’n splinternuwe komiese opera tot intieme konserte en eiesoortige uitvoerings vorm deel van vanjaar se musiekaanbod by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees wat van 7 tot 11 Oktober in Potchefstroom aangebied word.

Poskantoor is die eerste Afrikaanse opera van die 21ste eeu. Dit is ’n lighartige komiese opera propvol kinkels, kabels, katkoppe, klassestryde, liefde oor die kleurgrens, klasgrens en klankgrens heen, gondeliers en pseudo-masochisme. Dit is gekomponeer deur Braam du Toit en die libretto is geskryf deur Tertius Kapp. Jannie Moolman, Magdalene Minnaar, Elizabeth Frandsen, Lynelle Kenned en Bongani Kubheka is daarin te sien en die spelleiding is deur Jaco Bouwer.
Deur die week is daar verskeie van die gewildste Afrikaanse sangers te sien op die feesterrein. Kunstenaars wat in die onderskeie konserte optree, sluit in Andriëtte Norman, Pieter Koen, Snotkop, Wynand & Chereé, 4 Werke!, Lianie May, Nadine, Juanita du Plessis, Jannie Moolman en Corlea Botha, Jakkie Louw, Nicholis Louw, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Robbie Wessels, Elizma Theron en Theuns Jordaan. Vrydagaand is daar ’n laataand-jol waar Bittereinder, Jack Parow en DJ Naaldekoker te sien sal wees. Donderdagaand 9 Oktober is ’n groot aand met Albert Hammond en sy orkes, al die pad van Engeland af, wat ’n spesiale konsert by Clover Aardklop aanbied. Dié sanger en liedjieskrywer is bekend vir treffers soos “The Free Electric Band”, “The Peacemaker” en “It Never Rains in Southern California”.
Op ’n kleiner musikale noot kan feesgangers uitsien na optredes van Rocco de Villiers (Country Boy, Almost); CH2; Chris Chameleon en Daniella Deysel (Posduif); Kevin Leo en Charlize Berg (Sentimental Journey); Navi Redd; Amanda Strydom (’n Vuur gevang in glas); Nianell; Die Jaloersbokkies; Koos van der Merwe met Leonard Cohen in Afrikaans; Jannie du Toit (Doep is nie dood nie); Kobus Muller wat Engelbert Humperdinck sing; Alwyn Oberholster (Beautiful Noise – ’n Huldeblyk aan Neil Diamond); Andriëtte Norman en Schalk Joubert wat kragte saamsnoer in Vinkel en Koljander; en die sopraan Magdalene Minnaar wat in Taal van my hart musiek insluit van die Briels tot Die Heuwels Fantasties en Mimi Coertse tot Fokofpolisiekar. Sondag 12 Oktober word die fees weergalmend afgesluit met iVrede met orkes, koor en Louis Loock, Corlea Botha, Bianca le Grange en Katlego Maboe as solokunstenaars.

Gauteng Opera se Forté, wat verlede jaar kliphard Afrikaans gesing het, keer terug met ’n nuwe program, Heartbeat of the Land, wat ’n viering is van Suid-Afrikaanse musiek. Violis Piet Koornhof, wat vir die eerste keer in jare by Aardklop optree, is te sien in twee uitvoerings: Kamermusiek van Brahms saam met Human Coetzee (tjello), Elmarie van der Vyver (altviool) en Waldo Weyer (klavier); en Russiese trio’s saam met die ander lede van die Potch Trio, Human Coetzee (tjello) en Olga Tsihelashvili (klavier).
Zanne Stapelberg (sopraan) en James Grace (kitaar) hou hul lywe Spaans in Canciones Españolas; terwyl pianis Charl du Plessis saam met Werner Spies (kontrabas) en Hugo Radyn (tromme) ’n program van Barok-komponiste Bach, Handel en Vivaldi aanbied wat jazz- en klassieke musiek-liefhebbers gaande sal hê.
Iets om na uit te sien, is twee eiesoortige “gesinskonserte”. Roucher and Elizabeth Catharina du Toit (pa die orrelis en dogter die sopraan en violis) sluit werke in van Handel, Bach en Le Roux Marais. In Roelof Temmingh (en Zorada) voer die sewentienjarige pianis die botoon. Roelof het vanjaar die eerste prys asook al die kategoriepryse in die gesogte Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie gewen. Sy program bestaan uit bekende klavierwerke van onder andere Bach, Chopin, Rachmaninoff, Grieg, Debussy, Ravel en Prokofiëf. Sy onderwyser en ma, Zorada, sal by hom aansluit vir ’n verrassing of twee.
Die NWU se Puk-koor en die Puk-simfonieorkes bied ’n program aan met werke van twee uitstaande lewende komponiste: Dan Forrest se “Requiem for the Living” (2013), ’n hartroerende klankbaanagtige komposisie wat besig is om vinnig ’n gunsteling onder wêreldgehore te word, en Karl Jenkins se “Gloria” (2009), gebaseer op engele se lofprysing van Christus se geboorte.
Die fees word van 7 tot 11 Oktober in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

