Clover Aardklop 2013: Lelia Etsebeth gesels oor Bokkie Botha

  • 0

Bokkie Botha betree vanjaar die verhoog by Aardklop. Wie is sy en wat wil hierdie lugwaardin vir die wêreld vertel? Naomi Bruwer het vir Lelia Etsebeth oor hierdie eenvrou-komedie uitgevra.

Wie is Bokkie Botha? En hoe het dit gekom dat sy vanjaar die verhoog op Clover Aardklop betree?

Bokkie is baie lief vir die lewe en haar nuuskierigheid maak dat sy alle dinge beproef – goed en sleg. Sy is baie naïef en besef nie dat sy 'n wag voor haar mond behoort te plaas nie. Tog is sy nie naïef as dit kom by mans of hoe sy hulle om haar pinkie kan draai nie!

Dit het eintlik heel toevallig gebeur. Nadat ek aan Molly en Wors: die movie geskiet het, is ek gevra om by 'n funksie op te tree. Ek wou graag 'n komiese stuk doen, maar het nie materiaal gehad nie. Toe skryf ek 'n 10-minuut-stuk waarvan die gehoor baie gehou het. Dit het my geïnspireer om die konsep in te skryf vir Clover Aardklop. Terwyl ek gewag het op hul antwoord, het Willie my genader vir die TV-reeks. Toe hoor ek Clover Aardklop aanvaar die produksie. Die karakter is dus vanjaar op die TV, grootskerm en verhoog sonder dat ek dit so beplan het.

Bokkie Botha is gegrond op ’n karakter wat Willie Esterhuizen geskep het vir Molly en Wors: die movie. Watter uitdagings was daar om die karakter vir die verhoog aan te pas?

Die karakter is dieselfde naïewe meisie op die verhoog as wat sy in die TV-reeks (Vir beter of baie beter) en in die film (Molly en Wors: die movie) is. Die verhoogproduksie gun my die kans om haar in meer diepte te ontgin. Willie het 'n fantastiese karakter geskep en 'n fondasie waarop ek toe kon bou vir die stuk.

Bokkie Botha is my eerste Afrikaanse teks. Willie het my aangemoedig om materiaal uit die TV-reeks ook te inkorporeer, wat ek hier en daar gedoen het. Die mees uitdagende deel was vir my die eensaamheid van die skryfproses. Dit help om vir Tobie Cronjé as regisseur te hê – hy het my gehelp om die teks bietjie af te rond.

Die produksie is ’n komedie. Gaan die gehoor net skaterlag of is daar dieper temas wat aangespreek word? Waarmee wil jy die gehoor huis toe stuur?

Mense gaan beslis lag, maar daar is ook dieper storielyne. Ek spreek 'n paar ernstige onderwerpe aan, op 'n komiese manier, en hoop om die gehoor saam met my op 'n emosionele reis te neem waar ons baie meer ervaar as net lag.

Wie is die produksiespan en hoe het julle saamgewerk om die produksie op die planke te bring?

Met Willie se toestemming en aanmoediging het ek die teks ontwikkel. Daarna het ek vir Giep van Zyl genader om die vervaardiger te wees. Hy het baie kennis van die teaterbedryf en ek voel werklik bevoorreg om hom aan boord te hê! Hy is 'n hands-on vervaardiger wat insette lewer oor elke aspek. Tobie Cronjé het toe ingestem om, soos hy sê, my “hand vas te hou” en die regie te behartig. Ek wou iemand hê wat baie eerlik is en my foute reguit uitwys. Ek vertrou Tobie volkome en is so geseën om hom as regisseur te hê.
 



Jy is bekend vir ’n uiteenlopende verskeidenheid rolle in Afrikaanse rolprente en televisieprogramme. Wat bied vir jou die grootste uitdaging in die vertolking van ’n karakter?

Ek geniet verskeidenheid. Elke genre en medium het sy uitdagings en dinge waarvan ek hou en nie hou nie. Ek sal graag myself daarop wil begin toespits om hoofrolle ook te speel - op dié stadium speel ek meestal ondersteunende karakters. Maar ek droom nie noodwendig van 'n ideale rol nie. Ek wil net as aktrise konstant nuwe uitdagings in die oë staar en konstant verskillende rolle speel.

Teater, rolprent, televisie, radio – jy is vertroud met al hierdie kreatiewe platforms. Waar vind jy jouself tuis en wat is die voor- en nadele van die verskillende mediums?

Ek geniet die realisme waarmee ek voor die kamera moet speel. As ek vir een oomblik oneerlik is, sal die kamera dit optel, en ek geniet dit om daardie egtheid in karakters te beleef. Die konstante rondstaan op stel tot jy eindelik skiet, kan frustrerend wees en was iets waaraan ek gewoond moes raak. Op die verhoog geniet ek dit dat die gehoor as’t ware nog 'n karakter in die stuk word. Hul reaksies beïnvloed my spel en hou my op my tone. Teater is ook meer stiptelik, waarvan ek hou – dan kan ek my daaglikse beplanning doen. Maar albei is vir my werklik spesiaal en ek het nie 'n voorkeur nie.

Waarna sien jy uit op vanjaar se Clover Aardklop?

Om Bokkie Botha uiteindelik lewe te gee. Totdat daar nie 'n gehoor is nie, is daar nie 'n optrede nie. Ek is effens skrikkerig, maar baie opgewonde!

 

 

Lokaal: POK-hoofsaal Duur: 80 min Ouderdom: A
Taal: Afr. Prys: R 100.00 Genre: Komedie  
24/9/2013 - 9:00 25/9/2013 - 13:30 26/9/2013 - 20:00 27/9/2013 - 9:00
28/9/2013 - 12:00

 

Koop kaartjies by Computicket

Besoek die Clover Aardklop-portaal vir nog feesinligting

Besoek Clover Aardklop se webwerf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top