Op elke advertensie in Rio
op die Corcovado, Hy -
Christus die Verlosser:
glo die hoogste Art Deco-gebou
op aarde; verklaar tot Wonder.
Ek vergaap my aan Sy
uitgestrekte arms:
"O kom almal wat wil snapshot,
wil sê ek was ook daar."
'n Atleet uit Kanada
slaan 'n kruis -
ligvoets die 200 trappe oorwin;
spoeg modder op sy opponent
se blinde oog.
'n Yank bulder aan sy Katoolse vrou:
"Here's looking at you kid!"
Die spirituele oomblik gedigitaal,
vermeerder soos brode
toe daar visse nes reën oor ons daal.

