Sedert ek so ruk gelede die ongelukkige trek na 'n aftreeoord moes maak, is ek weer gekonfronteer met Christene se drang om te bekeer.
So week nadat ons uiteindelik die trekkery uitgesorteer het, het ek
besluit om met my loopraam (heupvervanging) so bietjie om die blok te
gaan stap om weer my kragte te probeer herwin. Ek is glad nie ’n
knorrige mens nie, maar as mens in pyn verkeer wil jy net stap en nie
geselsies aanknoop nie. Ongelukkig peul daar toe uit omtrent uit elke
huisie ’n ou tante of omie wat my nuuskierig begin uitvra oor my lewe.
Ieder en elk vra toe die vraag oor watter gemeente ons bywoon. Ek noem
aan almal dat my vrou lid van die Gereformeerde Kerk is.
Tog pols hulle my oor watter gemeente ek besoek. Ek is toe eerlik en
noem dat ek nie ’n Christen is nie. Van die mense is so uit die veld
geslaan en het vining die geselsies kortgeknip. Twee mense het egter
gevra of ek dan 'n Katoliek is. Blykbaar is daar 'n paar Katolieke in
die oord, en om die een of ander rede glo die mense dat Katolieke nie
Christene is nie, maar dit blyk beter te wees om 'n Katoliek as 'n
Ateïs te wees.
Die bostelegraaf het die nuus vinnig laat versprei, en voor ek my kon
kry, kom drink so paar van die omies (’n oud-dominee inkluis) by ons tee. Die gesprek het heel beskaafd begin, maar toe vinnig verander na
my geloofsuitkyk.
Ek weet nie of ek ’n Ateïs of Agnosties is nie, dit maak aan my geen
saak nie. Ek het sedert kleintyd (sendelingskind) die Bybel in alle
detail, kleur en geur bestudeer, maar ek was nog altyd skepties. Die
hele konsep van ’n God in die lug wat elke stap van ons bestudeer en
vreemde reels neerle, is net vir my te dik vir ’n daler. Dit klop net nie vir my nie, en alhoewel ek ’n sterk morele en konserwatiewe lewe gelei het, kan ek nie glo, soos wat die Christelike geloof voorskryf,
nie.
My vrou was woedend dat ek my ongeloof aan die groot klok gehang het,
en sy wou sommer na ’n ander aftreeoord verhuis. Gelukkig kon ons
nogal altyd ’n middeweg vind, en alhoewel sy oortuig is, dat ek haar
nie in die Hemel gaan vergesel nie, geniet ons elke laaste oomblik wat ons hier op aarde deel saam.
Ek respekteer Christene, ek is dan getroud met een, en al my kinders
het kerk toe gegaan, sonder dat ek ooit ingemeng het. Drie van die
kinders is vandag ook ongelowig, terwyl my ander dogter ’n gelowige
Christen is.
Die dominee het my meegedeel dat my tyd op aarde na ’n einde se kant
toe staan. Ek besef dit, maar ek kan selfs op my sterfbed nie glo dat
ek Hemel of Hel, soos wat die Christene getuig, sal betree nie. Ek wil
net gaan rus.
Ek merk op dat mense soos Jaco hier, verklaar dat hy nie glo nie.
Pleks mense hom respekteer en uitlos, raak dit hier op SêNet ook soos
die aftreeoord, waar elke Alie, Dolf, KdK en Henry, die man probeer
bekeer.
Dalk is dit belangrik om die gesprek in ’n ander rigting te stuur, en
te bespreek waarom die Christen dit so nodig ag om ander te betig en
aan te spreek, as hulle net nie die Christelike lewensuitkyk huldig nie?
Johan


Kommentaar
Nee Johan, hier is dit eintlik andersom: Dit lyk of die meeste ateïste hier 'n brandende behoefte het om die gelowiges te ontbekeer en nie soseer deur redenasie of debat nie maar deur die gelowiges se geloof as belaglik af te maak. Eintlik moet ek sê die christengeloof want om een of ander rede raak hulle nie aan Islam, Hindoeïsme, Zen of Boeddhisme nie.
Ek gun die ateïs of enigiemand met 'n ander geloofsoortuiging om sy saak te stel en daaroor te redenaaer; ek glo geen onderwerp is taboe nie. Daar is vir my geen enger en meer absurde stelling as "in hierdie huis word daar nie godsdiens, politiek of seks gepraat nie."
Ek dwaal nou bietjie van my eintlike punt af. Wat ek vir jou wil sê is dat die ontbekeringsdrang van die ateïste op SêNet dalk nog groter as die bekeringsdrang van die omies in die ouetehuis is.
Hallo Johan,
Ek verstaan waar jy vandaan kom en jy wil dalk maar net uitgelos word. Dit is jou saak. Tog is Jan Rap reg, as 'n Ateis hier staan en anti - Christenskap verkondig sal dit natuurlik reaksie uitlok.
Barend
Johan - Dit is 'n sagter toon in jou brief as in die verlede. Dalk is dit tog 'n teken dat jy nadink oor waar jou Heil le en wat van jou gaan word. Hou aan soek, jy sal dalk vind. Ek dink jy en jou vrou, wie jy Getuig, 'n opregte Christen is, moet dalk hierdie onderwerp saam ondersoek en bespreek. Ek is seker sy sal vir jou van hulp kan wees. Ons is nie hier om te bekeer nie, maar om raad te verskaf en die laster teenoor ons Heilige God aan te spreek.
Aletta.
Johan,
Jy het blykbaar één versugting – “ek wil net gaan rus”. Dít is waar die probleem inkom. Gaan rus? Waar? As jy dan meen daar is niks na die fisieke dood nie, waar sal jy jou rus vind in die hiernamaals, met ander woorde, na jou fisieke afsterwe? Daar is mos nie ‘rus’, ’n werklike toestand, ’n werklike fenomeen, in ‘niks’ nie?
Tog, ten spyte van jou agnostisiteit, hunker jy, tereg, na finale rus. Jy kan nie vandag sê dat die Christen dominees, omies en elke Alie, Dolf, KdK en Henry, soos jy die Christene neerhalend noem, verkeerd is in hulle pogings om jou en ander soos jy, te probeer voorberei op die wáre plek van rus in die hiernamaals, by GOD, nie… hulle wéét wat jy nie (op hierdie stadium) wíl weet nie, maar tog self na smag, want jy self, sónder dat jy dit besef, het die natuurlike hunkering na ewige rus… en jy spreek dit self ook só uit. Omdat God jou só geskape het om tog maar uiteindelik naby Hom te wil wees, al het jy jou lewe lank met jou verstand daarteen probeer stry. Jy het ’n natuurlike smagting na die Hemel, die plek van God, die plek van ewige Rus -
“Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal Sy volke wees, en God Self sal by hulle wees as hulle God. ?4? Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” – Openbaring 21 … want jou finale hoop, word in die Hemel bewaar (Kolossense 1:5).
Maar, hoe sal jy by die Rus, by die Vrede, waarna jy smag (selfs jý kan dit nie ontken nie) kan kom, as jy die Vader daarvan, God, die HERE Jesus Christus met minagting verwerp? Selfs probeer voorgee dat HY nie bestaan nie?
Dit is omdat ons jóú liefhet, Johan, al skel ons jou uit oor die dinge wat jy aanvang wanneer jy teen gelowige en God te velde trek, dat ons maar aanhou om ‘lastig’ te wees omdat ons hoop, vir jóú part (nie vir ons eie nie, want ons is Goddank, rééds daar) dat jy sovêr sal kan kom om tog maar ons hand te vat en die Vader van Rus, vir God, die HERE ’n kans met jou, te gee.
Ons het jou lief, want ons kan nie anders nie. Ons het die Gees van God in ons en ongeag wat jy en die ander sê, is God, die Liefde. Ons het jou lief, omdat die HERE, vir Wie jy so minag, jou liefhet en ons in Hom en Hy in ons, woon. Dit is omdat HY omgee, dat Sy dienaars óók omgee vir jou en die ander soos jy.
Ons wil jou graag in die Hemel, die énigste plek van ware Rus en Vrede, die plek waarheen jy inherent óók wil gaan, sien. Ons blydskap sal groot wees as ons jou daar sal aantref... Daarom kan ons dit net nie regkry om jou sommer net so uit te los, soos wat jy wil hê, nie.
Want, waar daar lewe is, is daar nog hoop...
Groete,
Kobus de Klerk
Beste Johan,
Die werf is darem altyd daar om dit van jou bors te kry en te weet jy's nie alleen uitgelewer aan die Afrikanerdom se gekondisioneerde Protestantse regsinnigheid nie.
Net die beste vir jou daar in die oord.
Namaste!
Cornelius