Cape Town Fringe Festival: The Frontiersmen

  • 0

Nicholas Pauling and Mark Elderkin in The Frontiersmen

Twee mans pleeg ’n uiterste daad om ’n besigheidstransaksie te verseker. Dit eindig ongelukkig nie by een ekstreme daad wanneer hierdie mans bloeddorstig en geldgulsig word nie. Daar is nie ’n enkele gemaklike oomblik vir die gehoor tydens hierdie produksie nie.

The Frontiersmen lewer sosiale kommentaar op die samelewing wat kort duskant enigiets sal doen om hom-/haarself te bevorder. Dit word in die vorm van ’n eiendomstransaksie uitgebeeld: Jurrie en Shane is kop in een mus om ontslae te raak van ’n wedersydse hindernis tot hulle loopbane as eiendomsontwikkelaars.

Louis Viljoen skroom nie om ’n ding te sê soos dit is nie en skep ’n ryk, slim teks wat jou op jou stoel se rand hou vir die volle uur wat die opvoering duur.

Mark Elderkin en Nicholas Pauling bring ’n ongelooflike energie en toewyding na die teks wat, alhoewel dit stilisties geskryf is, steeds baie maklik vloei.

Viljoen kry dit reg om ook ’n paar blatante uitsprake en kritiek op die teaterbedryf te lewer; dit als tussendeur ’n ewigdurendende afwaartse spiraal na grusaamheid en skok wanneer jy die mate van die karakters se selfsug besef.

The Frontiersmen is nie vir sensitiewe kykers nie, maar as jy ‘n sterk maag en gestel het, is dit die moeite werd om hierdie akteurs in aksie te sien, en beslis Viljoen se skryfwerk te beleef.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top