Die week in woorde
Iemand het my eendag (in ’n gedig nogal) beskuldig dat ek ’n muur van boeke om my bou. Vandag kan ek met alle oortuiging sê dat hy verkeerd was: dis nie ’n muur nie, Baby, dis ’n bunker.
Ek is tans ondergedoke, semibegrawe onder boeke – presies waar ek wil wees. Ek lees my lam. Dis somtyds lekker, maar meestal net makliker as menslike interaksie. Binne-in die bullet-proof, bombeskutte boekbunker is die temperatuur gaaf en gemaklik (niks van hierdie global-warming-rotisserie-chicken-bak-’n-eier-op-jou-bonnet-nonsens nie ... opt dan maar eerder vir Miss Smilla's Feeling for Snow) en mens kan nie jou foon of jou beursie in die bunker verloor nie. In ’n boek blaf ’n hond byvoorbeeld nooit so hard dat jy die ander karakter nie kan hoor praat nie, veral nie op die crucial oomblik waarop dié een veronderstel is om te sê dat alles okay gaan wees nie.
Op hierdie genoemde besoek aan die bunker is die hele ding binne vol matrasse en scatter cushions en van daai fleecy kombersies wat jou soos ’n baba laat voel. Daar is bottomless tee en ek voel vertroos. In kort is daar nie veel rede vir my om gou hier uit te kruip nie.
Aan almal daar buite, hou maar moed, maar as dit te erg raak, volg my voorbeeld: gryp ’n paar ou-gunsteling-staatmakers en grawe jou in. Jy sal verbaas wees oor hoe lank en gelukkig mens van kaaswiggies en literatuur alleen kan leef.
Tot my volgende verskyning in die buitewêreld.
Beste wense uit die bunker.
Poësie in die nuus

Die Poolse Nobelspryswenner Wis?awa Szymborska is verlede week oorlede. Lees ’n berig op die Guardian se webblad.
|
Met ander (se) woorde Die ontslape digter Wis?awa Szymborska oor digterskap: "Granted, in daily speech, where we don't stop to consider every word, we all use phrases like 'the ordinary world', 'ordinary life', 'the ordinary course of events' ... But in the language of poetry, where every word is weighed, nothing is usual or normal. Not a single stone and not a single cloud above it. Not a single day and not a single night after it. And above all, not a single existence, not anyone's existence in this world. It looks like poets will always have their work cut out for them."
![]()
|
Voorgeskrewe leesstof
Doen jouself ’n guns en gaan lees die gedigte van Wislawa Szymborska as jy dit nog nie ken nie. En selfs al ken jy dit reeds, is vandag ’n goeie dag om dit te herbesoek. Daar is gedigte by Poets.org, ’n klomp by InfoPoland en ook by the Poetry Foundation. Lees ook Afrikaanse vertalings van haar werk op Versindaba. Lees haar Nobelprys-toespraak hier.
|
Op my bedkassie
Ek lees op die oomblik aan Alfabet van die Voëls deur SJ Naudé. As jy verlede jaar aan die slaap was, kan jy hier en hier meer oor die boek lees, en solank opgewonde raak. Kom sommer ook na die bekendstelling by The Book Lounge die 15de Februarie. Hier is al die inligting.
Tussen die voëls deur trawl ek deur my bundels op soek na "groen" gedigte om by die Woordfees voor te lees. Digbundels is fantasties elasties - hulle buig hulleself om die vorm van jou gemoed, en by elke lees voel dit soos ’n nuwe boek wat jy beet het (of wat jou beet het). Ek was veral vanaand weer stomgeslaan deur Wilma Stockenström se Monsterverse. Vroeër die week was ek doenig met Danie Marais se tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand (which it is, by the way) en Uys Krige se vertalings van die Spanjaarde. Ook Johann de Lange se kwatryne en ’n ou bundel van Joan Hambidge, donker labirint. Oral het ek dinge gevind wat ek genoop gevoel het om af te skryf. Maar dit was Antjie Krog se gedig "ode vir ’n ander lewe" uit Verweerskrif wat die week se koek vat vir bekende-gedig-wat-met-’n-nuwe-vuis-’n-uitklophou-slaan. Heerlik gesit en tjank oor die gedig (wat altyd gebeur as ek daai een lees), maar dié maal om heeltemal ander redes. Gaan lees!
Wen
Ek het steeds twee interessante boeke om weg te gee: The Letters of Allen Ginsberg (Bill Morgan, redakteur) en The Ballad of Sylvia and Ted, Emma Tennant se roman oor die verhouding tussen Sylvia Plath en Ted Hughes. Skryf ’n vertaling of omdigting van een van Ginsberg, Plath of Hughes se gedigte. Stuur die oorspronklike gedig en jou vertaling of omdigting na gedigte@litnet.co.za. Ek sal goeie pogings op LitNet plaas, en einde Februarie ’n wenner aanwys. Die sluitingsdatum vir inskrywings word verleng: stuur jou inskrying teen 26 Februarie.
Gedigte op LitNet
Volg hierdie skakel vir die nuwe gedigte wat vandeesweek op LitNet gepubliseer is.



