Vanaand het ek die twyfelagtige voorreg beleef om 'n dokumentêre film op televisie te sien oor die berugte My Lai massamoord wat op Maart 16, 1968 in Suid-Viëtnam plaasgevind het, toe die Amerikaanse weermag meer as 500 onskuldige Viëtnamese siviele, ou mans en vrouens, jong kinders, en babas met masjiengewere afgemaai het. Die soldate betrokke was voorgestel as patriotiese, opregte, gemotiveerde jong Amerikaanse soldate, van die elite "company Charley", wat pligsgetrou die opdragte van hulle offisiere uitgevoer het. Die hoof sondebok in hierdie massamoord is later in die hof skuldig bevind van moord, nadat eers 'n poging deur die weermag om die gebeure dood te smeer onsuksesvol was. President Nixon het hom na 4 maande gevangenisstraf vrygespreek.
Dit laat my net wonder en dink: Wat presies is hierdie patriotisme? Om te sê dat "hy is 'n patriot" klink só edel. Wat is daardie sg "liefde vir land en/of nasie" wat 'n persoon veroorloof om te vermoor in die naam van daardie land? Hoe strook dit nou met die Christelike etiek wat onomwonde sê: Jy mag nie doodmaak nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Jy moet jou vyand liefhê. Hoe vereenselwig Christene die realiteite van hierdie gebooie tydens oorlog? Of word hulle net geïgnoreer omdat hulle tog niks te doen het met die werklike lewe nie? Trouens daar is genoeg tekste in die Ou Testament waar die Israeliete deur hulle stamgod carte blanche gegee word om hulle vyande af te maai! Mens kan altyd na hierdie tekste verwys om massamoord te regverdig. Daar is die Bybel 'n goeie bron van raad in problematiese gevalle van etiek!
Pieter Redelinghuys


Kommentaar
Pieter, die saak wat jy aanroer is belangrik. Al verwys jy smalend na die Bybel is dit met die koms van Christus wat die wêreld radikaal begin verander het. Die mees uitsonderlike man wat sowat 2 000 jaar gelede gebore is, se geboorte is as die begin van ons jaartelling geneem (Is jy oor Hom ook smalend?). Sy leer van die liefde het 'n groot impak gehad en is steeds 'n belangrike faktor. Ja daar was en is leiers en volgelinge van hierdie geloofsgroep wat verskriklike dinge aangevang het, maar die vrystelling van slawe en menseregte kan as vrugte gesien word.
Afgesien van liefde is eerlikheid 'n belangrike eienskap van die gelowige. Wat in Viëtnam gebeur het kan nooit goed gepraat word nie. Ek wil sover gaan as om te beweer dat as die bevelvoerder van daardie Amerikaanse soldate 'n gelowige was sou sake anders verloop het. Jy sê die pogings om die saak dood te 'smeer' [smoor] was nie suksesvol nie. Is dit nie juis gelowiges wat op optrede aangedring het nie? (Ek gee graag erkenning aan ateïste wat vir hulleself hoë morele standaarde stel.)
Oorlogsituasies beteken emosionele opgewondenheid en stel geweldige eise aan leiers. Noodwendig word daar ook foute gemaak. As ek reg onthou is jy erg krities teenoor die meer konserwatiewe Afrikaners. Een van die mees radikale revolusies (al was dit grootliks bloedloos) in onlangse eeue het in ons land plaasgevind. In terme van ander groot magstryde was die ongevalle in werklikheid gering. 'n Vreedsame magsoorname en afstaan van die mag het plaasgevind deur 'n regering wat nog in beheer was. Dit is 'n feitlik unieke situasie en gelowiges het hierin 'n rol gespeel.
Patriotisme is iets wat deur politieke leiers uitgebuit word, waarvoor 'n mens uiters versigtig moet wees. Europa in die vorige eeu is 'n voorbeeld. Daar was ook mense wat met hulle patriotisme veel bereik het om mense op te hef.
Beste George,
Baie dankie vir jou terugvoer maar daardie stelling van jou dat " as die bevelvoerder van daardie Amerikaanse soldate n gelowige was sou sake anders verloop het", beïndruk my nie in die minste nie. Daardie tyd, in die sestigerjare van die vorige eeu, sou 'n "ongelowige" of ateïs nooit in 'n elitegroep opgeneem kon word nie of deel van een kon wees nie - so was die reëls en regulasies destyds in die Amerikaanse weermag wat aanvaarbaarheid vir diens betref het. Dus sal ek liewer wil spekuleer dat hy wel 'n "Christen" was, en 'n gelowige van "soorte".
Wat jou stelling oor slawerny betref, is aanvanklike regverdiging vir hierdie onmenslike gebruik direk gehaal uit tekste in die Ou Testament. Die Israeliete het mos baie slawe gehad, en die aantal slawe in besit was ook in direkte verband met hulle stamgod se seëninge.
Laastens wil ek jou ook herinner aan die feit dat die NG Kerk, oa., die staatsbestel van Apartheid met tekste uit die Bybel regverdig het.
Daar is genoeg rede om smalend oor die Bybel te praat, en nie bloot te aanvaar dat hierdie boek die Alfa en Omega van die Wysheid is nie.
Groete,
Pieter Redelinghuys
Ja-nee Pieter, oorlog is 'n verskrikking. Kitchener byvoorbeeld, met die Engelse oorlog, het Boere se huise laat afbrand, die vrouens en kinders in kampe gegooi en op die manier 27 000, kan jy maar sê, vermoor. Dit is nou so 46 jaar na My Lai en nog steeds laat die storie 'n wrang smaak en dit sal die geval wees vir honderde vorentoe. 46 jaar na die Engelse oorlog, naamlik 1949, was Afrikaners beskuldig dat hulle nog steeds 'die Boere-oorlog' veg as hulle na die ongeregtighede wat deur die Engelse gepleeg is verwys. Ek dink jy moet bietjie 'n opstelletjie oor Britse patriotisme ook skryf; as 500 burgerlikes se dood jou so ruk, hoe erg moet 27 000 nie vir jou wees nie?
Jan Rap