Ek het by herhaling in die verlede genoem dat die vakunies SA se ekonomies groei en vooruitgang kniehalter as gevolg van onverantwoordelike en popularistiese looneise, in weerwil van onvermoëns van die betrokke marksektor om sodanige eise te kan fundeer.
Ek het genoem dit gaan uiteindelik tot weghol inflasie lei, ’n “catch 22”-situasie waar ten spyte van groter inkomste, die newe-effek in werklikheid ’n agteruitgang in persoonlike rykdom is, en verliese in werk. ’n Swak Rand hoort uitvoere te stimuleer, en invoere in te perk, maar dit word geneutraliseer deur afnames in produktiwiteit weens voortslepende stakings, asook ’n duurder aankoop van olie as gevolg van die swak Rand/Dollar-verwisseling.
Toe ek hierdie stellings gemaak het was die Rand/Pond als voorbeeld R13 tot die Pond. Nou staan dit op R16 tot die Pond in ’n bestek van maande.
Vandag kom die groot skok. Walter Sisulu Universiteit is bankrot en word gesluit met 25 000 studente in die steek gelaat. Die oorsaak? Buitensporige looneise oor die afgelope klompie jare wat gefundeer is vanuit gelde geoormerk vir ontwikkeling van die universiteit om sodoende stakings te voorkom. En kan jy dit glo. Dosente en werkers wil nou vir hoër lone staak ten spyte dat die universiteit gaan sluit! Dit het blykbaar nog nie tot hulle deurgedring dat hulle nou hulle poste kwyt het nie.
Ek voorspel dat hierdie net die begin van ’n domino-effek is, en dat ons binnekort soortgelyke gevalle gaan sien in die mynwese, die landbousektor, munisipaliteite en regeringsektore. Indien die vakunies nie vinnig tot besinning kom en/ of die regering vinnig ingryp nie, gaan die land in onbeheerde chaos verval met die vooruitsig van burgerlike opstand.
Realistiese minimum-lone is ’n vereiste in enige gesonde ekonomie, maar om ’n verswakkende ekonomie weer op dreef te bring en veral om die vakunies in toom te bring, gaan dit nodig wees om vir ’n wyle minimum-lone asook sekere arbeidsregte op te skort, totdat die ekonomie weer genormaliseer is.
’n Streng gereguleerde arbeidsmark, soos ons s’n, is ’n geslote arbeidsmark, en is ten bate vir diegene wat reeds daarin betrek is alleenlik. ’n Ongereguleerde arbeidsmark, veral in ’n derde-wêreld-ekonomie, is ’n oop arbeidsmark wat vir almal toeganklik is, waar die ekonomiese wet van aanvraag en aanbod geld.
SA het ’n huidige werkloosheidsyfer van ongeveer 25%, wat gaan vererger indien my voorspelling hierbo bewaarheid word. Sonder minimum-lone is die mark oop vir diegene wat bereid is om vir minimale besoldiging te werk. Dit skep ’n groter aanvraag vir werkskeppende arbeid by die vervaardiger weens goedkoper insetkostes, en ’n afname in aanvraag vir meganisering van produksie wat gewoonlik op duurder invoere afhanklik is. Die invloed van vakunies word in die proses afgewater, wat om te kan bestaan, hulle gaan noop om meer realisties en verantwoordelik op te tree.
Met ’n verkiesing in die vooruitsig is dit ’n gegewe die regering gaan eerder popularisties optree as om die werklikheid te konfronteer.
Jaco Fourie

