‘n Besoek aan hierdie museum is ‘n lewensondervinding soos min, en vergelykbaar met ‘n besoek aan die museum in Hirosjima wat handel oor die na-effekte van die ontploffing van die atoombom op die siviele bevolking van daardie stad. In die geval van eersgenoemde museum is die hele land betrek in die verwoesting, en miljoene Viëtnamese het in die konflik gesterf. Groot dele van die land en sy bosse is verwoes deur VSA-bombardering en verbranding, en miljoene tonne gif, sg agent orange, is oor die land gesprei, wat in grondwaterbronne gesypel het en die aarde ongeskik gemaak het vir boerdery.
Daar is die foto van die agtjarige seun wat lê oor sy broertjie van vier jaar oud om hom te beskerm teen die aankomende soldate ( lees moordenaars) wat toe nie skroom om beide dood te skiet nie. Foto’s van hele dorpies wat afgebrand is deur VSA troepe, hope mense, vrouens, bejaardes, kinders, en babas wat gedood is omdat hulle vermeende ondersteuners van die Viëtkong sou wees. Foto’s van afgryslike misvormde kinders wat gebore is na die afloop van die oorlog, die effek van die gifstowwe ( DDT) wat gebruik is om die flora te vernietig. Nixon se berugte kwotasie om Vietnam te bombardeer tot "in the stone Age" is hier van toepassing.
Skokkend om te glo dat politici uit die gemak en veiligheid van hulle kantore in Washington die bevele gegee het vir hierdie grootskaalse vernietiging en moord, en dat niemand van hulle ooit aangekla is by die Internasionale Kriminele Hof vir Oorlogsmisdade in Den Haag nie. Daar is nog van hulle wat lewe soos die heer Henry Kissinger, wat nou die dag in die senaat uitgeboo is as oorlogsmisdadiger. John McCain het toe vir die man in die bresse getree, en het glo diegene wie Kissinger wou pak uitgekryt as "the low life scum of the earth".
Ja, daardie beskrywing pas eerder uitstekend by diegene in hoë posisies wat besluite neem oor die lewe en dood van miljoene onskuldige slagoffers van oorlog.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys


Kommentaar
Oorlog is afgryslik. Dis verbysterend dat soldate, duisende myle van hulle land af, die storie kan sluk dat hy 'sy land verdedig'. Hebsug en gierigheid van die ouens in kantore (en nie noodwendig regeringskantore nie) word nooit versadig nie en uiteindelik is Gefräßigkeit aan die orde van die dag. Die invalsoldate is ook 'n lydende party; hulle moet die kastaiings uit die vuur gaan krap, kom beseerd, vermink en in baie gevalle ontmens terug en as beloning kry hy 'n hangertjie met 'n veelkleurige lintjie en word vergeet deur die ouens wat hom gestuur het.
Oorlogvoering is nie noodwendig ten doel om 'n selfsugtige agenda deurgevoer te kry nie. In die meeste westerse gevalle is dit vandag 'n stryd tussen botsende ideologie wereldwyd.
Die ouens wat op 'n berg in Irak vasgekeer was en uitwissing deur ISIS in die gesig gestaar het, waar niemand in die omliggende areas hulle kon red nie, is aan westerse inmenging vir hul voortbestaan vandag te danke.
Nieteenstaande die VSA se vele vergrype wêreldwyd nie, bly hulle 'n stabieliseerende mag om chaos in die wêreld te verminder. Vir die rede is ek persoonlik dankbaar dat dit eerder hulle is en nie Sjina of Rusland wat oppermag wêreldwyd uitoefen nie.
Beste Jan,
Dankie vir jou repliek. Jy som pragtig die brutaliteit en futiliteit van oorlog op. Almal kan nie Saigon besoek nie maar Oliver Stone se trilogie: Born on the Fourth of July, Platoon, en Heaven and Earth, gee n besondere realistiese insig en blik in die hel van Viëtnam-oorlog.
Groete,
Pieter Redelinghuys
Pieter
Hoeveel weet jy regtig van die Viëtnam oorlog EN soortgelyke oorloë van daardie tyd? Dit was 'n ander tyd waar ander tegnologieë, strategieë en denke gegeld het. Ek verdedig geen Amerikaner of wat daar gebeur het nie. Oorlog gebeur waar soldate meestal deur hul vetgat politici in oorlog gedompel word onder die dekmantel van politieke 'redes' daartoe. Die redes hoef nie eens te rym nie. (Kyk na Sadam en sy sg Weapons of Mass Destruction wat nie bestaan het nie, maar 'n oorlog tot gevolg gehad het.) As die koeëls om jou kop begin fluit, skrapnel aan jou klere trek en jou maats die ondermaanse verlaat, is daar net een reaksie wat gedy. As daai donner nie ophou om op my te skiet nie gaan ek hom vrek skiet. En dis hoekom oorloë so wreed is. Dis net die hedendaagse PC gespuis wat dink dat oorlog ordentlik kan wees.