Hier by ons in Limpopo kook dinge mengelmoes-warm voor die verkiesing. Elke provinsie beleef sy eie unieke hutspot-konsternasies.
Limpopo – plek van veelryke bome waarvan die maroelaboom en -vrug die ware ambrosia vir mens, voël en dier is. Daar is niks so lekker soos ‘n gesprinkelde maroelaneut oor ‘n groen-en-geel saamgeraapte slaai nie. Dan is daar natuurlik ook dié groen-en-geel wat hier oor die provinsie alleen haangekraai het.
Tot nou toe.
Gedurende die naweek het ‘n diepblou golf die dorp getref. Pamflette het vanuit die fluisterende-blou-hemel neergefladder en die strate blou geverf. Dit is die eerste keer dat ons dorp so aggressief deur die DA besoek (aangeval?) is. En die hoofteiken? Die einste straat waar die premierkantoor van die groen-en-geles haan kraai. Die blou-posters is soos vlae teen die lamppale opgehys, die werkers het netjiese gestrykte blou oorpakke of T-hemde gedra met prominente DA-naambeelde op. Skielik was ons dorp gekleur in blou-DA-blou-DA-blou.
Op die voorblad van vanoggend se Observer pryk ‘n Adobe-uitgesnyde-foto van ‘n blonde Zille wat met gebalde vuis in ‘n spierwit baadjie die mense op die stadion oor die naweek toegespreek het. Die agtergrond van die foto wys die fladderende pamflette vanuit die lug. Zille se hals is omstraal met ‘n indrukwekkende blou-krale-krans. Waar het sy dit gekry? Miskien moet ek haastig winkels toe ... netnou kry al die Polokwane-dames dieselfde idee beet.
Ek onthou nog die dae toe ons almal hare geknip en gekleur het soos Lady Diane, en ook soos sy agter ‘n lang skugter kuif skaam probeer uitloer het.
Op die Review se voorblad pryk weer ‘n diepdenkende Malema, hand onder die ken en tamatierooi baret. Die opskrif lees: “We will ‘EFF’ you up”. Dit skets die verhaal van Bertus Redelinghuys wat op pad huis toe amper in ’n ongeluk met ‘n Mercedes Benz was. Dié het blykbaar voor hom ingejaag. Daar was 3 insittendes. Redelinghuys het waarskuwend getoet, waarna hy summier afgetrek is. Al drie insittendes het uitgespring en hom aangeval. Terwyl een hom heftig aan die arm rondgepluk het, het die ander een sy sleutels probeer afvat. Die derde een het hom geklap met die woorde: “We will f*** you up”, daarna het hy Redelinghuys se voertuig ook geslaan. Toe spring hul terug in die voertuig en jaag weg. Die klappende een was blykbaar Malema.
Redelinghuys het die saak by die naaste polisiestasie aangegee.
Observer het ook die storie beet. Hulle praat van 4 insittendes.
Die hutspot het verander in ‘n roesemoespot.
Trienie

