"Brief aan jou verlore liefde"-kompetisie: Barend van der Merwe

  • 0

Jy was my prinses wat ek op my hande kon dra en vir wie ek twyfelagtige verse kon skryf ‘op versoek’, al was dit ook net op versoek van een mens: jy. Dit was gevolglik aaklig om jou te verloor. Miskien is ‘uiteraard’ ’n meer gepaste woord as ‘gevolglik’. Ek en jy het albei baie belê in als, en die seerkry was vir my ’n skok, en dus moontlik (waarskynlik?) vir jou ook. Ek sal nie weet nie, want ek het probeer vlug van daardie seerkry af. Ek het gaan wegkruip op elke plek wat ek kan. Op vergaderings. In Maandagoggende. In boeke. Ag, oral. Veral in verwyte.

Miskien was dit ’n lafhartige vlug, en miskien ’n brawe vlug. Die grens tussen reg en verkeerd is so bitter, bitter dun dat mense eintlik stapelgek is wanneer hulle mekaar vir goed verwyt. Dis belaglik om dit te doen.

Ek reken elke ander een dink sy of haar eie ‘heartbreak’ was die ergste ooit. Die mensdom is maar so. Ons ken net ons eie wêreldjie. Ons verreken net ons eie seerkry.

Ek is jammer dat ek stukkend geword het op die manier wat ek het. Die groot wildjagters sê mos dat ’n gewonde dier die gevaarlikste is. Stukkende mense wil andere om hulle ook stukkend maak, maar ek sou nie so stukkend gewees het as ek jou nie liefgehad soos wat ek het nie.

Dit was, hoop en glo ek, daardie selfde liefde wat my daartoe gedryf het om te weier om jou weer te sien. Ons het immers verskeie kere probeer. Dit sou lekker gerieflik gewees het om weer in dieselfde gedoemde roetine te kon verval. Ek wil tog glo dat daar ander dinge is, baie beter dinge vir my én vir jou, wat ons albei sou verloor het ...

Bo alles is ek spyt dat ek nie vir jou ’n vriend kon wees na die skeiding nie. Ek was net eenvoudig te swak en na als wat gebeur het sal dit moontlik nooit ’n realiteit kan wees nie. Maar ek wil he dat jy weet dat ek jou altyd lief had. Die Grieke het glo 4 ‘woorde’ vir liefde (ek weet nie hoeveel die Franse het nie!), maar ek dink jy verstaan my punt.

My punt is, óf ek, óf Afrikaans is te onbevoeg om te sê wat ek eintlik voel.

Wees lief vir jouself. Pas jou op!

Barend

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top