Boekbekendstellingsgeleentheid: Die Bom – Suid-Afrika se kernwapenprogram

  • 2

Pik Botha, Lydia van Wielligh-Steyn en Nic van Wielligh

Die Bom – Suid-Afrika se kernwapenprogram is op 2 Oktober 2014 by Unisa bekendgestel. Die boek is geskryf deur Nic van Wielligh en Lydia van Wielligh-Steyn en uitgegee deur Litera Uitgewers. Theresa Papenfus, die uitgewer, deel haar indrukke van die bekendstellingsgeleentheid.

Tydens die bekendstelling het Nic von Wielligh en sy dogter, Lydia von Wielligh-Steyn, onderhoudend gesels. Nic von Wielligh het begin met die aanhaling: “Wanneer ’n ou mens sterf, is dit soos ’n biblioteek wat afbrand.” Hy het gesê hy het die boek geskryf om die inligting waaroor hy beskik, die geskiedenis van ons kernbewapening en -ontwapening, vas te lê. Hy was die persoon wat aan die IAEA Suid-Afrika se waarborge moes lewer, dus moes hy die dinge op die punte van sy vingers ken.

Lydia het gesê van kleins af het sy gedink haar pa is die heel slimste man in die wêreld. En sy dink nog so. Sy verstom haar aan sy buitengewoon skerp breinkrag.

Sy self is ook bedrewe met die woord. Sy is ook vlot in Frans, en het self al gepubliseer.

Pik Botha het, nadat hulle aan die woord was, self ’n besonderse toespraak gelewer. Hy het begin by Copernicus se deurbraak en die prys wat hy daarvoor betaal het, deur al die onderdrukking van kennis, deur Suid-Afrika se geskiedenis met die bom, sy eie betrokkenheid daarby, sy gesprek met president Reagan oor Koeberg, en generaal Alexander Haig se ontsteltenis daaroor, tot by NP Van Wyk Louw se “Beiteltjie”.

Pik het die boek “geniaal” genoem, “hoogsbegaafd” en nog ’n paar ander dinge; verklaar dis ’n spul toekennings werd (dit sal “status aan die instansies verleen” om die toekennings aan die boek te gee, verklaar hy!); en die skrywers behoort eredoktorsgrade daarvoor te kry …! (Nic von Wielligh het in sy toespraak gesê Pik Botha ken heelwat meer byvoeglike naamwoorde as hy.)

Jo-Ansie van Wyk was hierna aan die woord. Sy het die boek geweldig interessant gevind en het baie daaroor uitgevra. Sy het gesê sy wens sy het die boek gehad voordat sy haar doktorsgraad oor die onderwerp gedoen het. Sy het ook op die toeganklikheid van die boek gewys, die leesbaarheid, tesame met die wetenskaplike akkuraatheid.

Ek self het gesê om oor ’n onderwerp soos hierdie in Afrikaans te skryf, is uiteraard goed moontlik. Maar om in die huidige klimaat ’n manuskrip van hierdie gehalte oor hierdie onderwerp in Afrikaans – en boonop sulke klinkende, helder Afrikaans – te ontvang, is eenvoudig ’n luukse. Wat my betref, beantwoord hierdie boek ál die vrae oor Afrikaans. Die blote feit van hierdie boek in Afrikaans verklaar onder meer waarom Afrikaans onlangs as een van tien tale gekies is wat opgeneem is in die groot internasionale leksikografiese woordeboek wat in vier dele verskyn. Die tale wat gekies is, is Afrikaans, Bulgaars, Duits, Engels, Frans, Hongaars, Italiaans, Portugees, Russies en Spaans. Afrikaans is gekies omdat dit oor ’n gevestigde vaktaal in die leksikografie beskik (Jaap Steyn, Ons gaan ’n taal maak.)

Ek is so trots daarop dat Litera hierdie boek uitgegee het, en ek het geen geheim daarvan  gemaak nie.

Die boek gaan volgende jaar ook in Engels verskyn.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top