Die blues-rock-groep The Black Cat Bones maak wyd opslae met hul opruiende, onweerstaanbare vertonings. Hoofsanger Kobus de Kock jr beantwoord enkele vrae oor die groep se aanslag, toekennings en toere.

Foto: Louise Pieterse
Goeiedag, Kobus. Hoe’s dinge?
Goed dankie, Henry! Ek sit hier in Pretoria en die weer maak mos maar snaaks dié tyd van die jaar. Dan reën dit, maar die son skyn, dan slaan die hael op ons neer, dan skiet die temperatuur deur die dak, ens ens, maar dis maar die Transvaal vir jou. Vandag is my interview dag, so skiet met ’n vraag!
Die Bones pak binnekort ’n moerse toer deur die land aan en doen onder meer ’n slag in die Kaap aan. Dit voel of julle nooit ophou gig nie en elke keer jol julle asof daar geen môre is nie. Waar kom die band se ongelooflike energie en duidelike liefde vir optree vandaan? Wat geniet jy die meeste daarvan?
Die ding is, ons kom almal van hierdie klein dorpies af waar dit op skool so ’n moerse voorreg was net om op ’n stage te speel dat ek reken dis vandag nog vir ons moerse cool net as mense hande klap! Hehe. Nee serious, as jy daarna kyk, gee die meeste venues en feeste vir jou ’n gap van omtrent 45 minute, so ons doen wat ons kan so hard as wat ons kan, met soveel passie as wat ons kan, vir daai 45 minute. Ander ouens moet 9–5 in hulle kantore sit en die wêreld en hulle base haat. Ons het 45 minute. Dan steek ons hom. Hard. Mense neem net nie altyd in ag die voorbereiding wat daar ingaan nie. Maar kom na ’n Bones show toe en ons gee jou die hardste, beste, sweterigste, hardcore uur van jou lewe! Wat geniet ek meeste? Seker die gevoel van absolute vrede wat mens ervaar na so ’n vertoning. Dit en die smile op ’n kid se gesig as hy en sy girlfriend nou net hulle gatte af gedans het op ons tunes!
Julle het onlangs die MK Award vir die beste live act in die land ontvang. Hoe voel julle daaroor en waaraan skryf jy dit toe?
Kyk, daai award is letterlik vir ons gegéé! Ons’t nooit apply of onsself genominate nie. Mense het net online vir ons gestem. Dít is fokken great. Dat mense tyd gevat het om ons te nomineer en dan nog te stem oor weke. Dis heavy humbling. Die Bones is nie ’n radio-georiënteerde band nie en die feit dat luisteraars dit raaksien is vir ons heavy cool! Ek reken dis maar "roadwork" soos hulle sê. Om in jou slaapkamer te sit en droom help fokkol. Skryf jou songs daar, maar val in die pad china, ry Bloem toe, ry Kaap toe, ry Weskus toe, ry KZN toe, praat met die mense, hulle wil jou ontmoet! Jy dink dalk Pofadder is boring, maar trust my, hulle’s net so bored daar en hulle soek jou band! Gryp jou kitaar, klim in jou kar!
Vir ’n band wat baie toer en speel is dit natuurlik noodsaaklik om goeie venues, klankmanne ens oral aan te tref. ’n Paar ander mense het al in onderhoude gekla oor die gebrek aan ordentlike venues, veral byvoorbeeld in Johannesburg. Wat is jou gevoel hieroor? Wat is befok aan SA venues en feeste en waar skiet dit tekort?
Man, mense is vol kak en hulle dink venues moet hulle gatte lek. As dit die houding is, gaan jy lank wag vir gigs. Ons venues in Suid-Afrika is agter in daai sin, maar jy kan nie vir hulle wag nie. In die States perform ouens nie as daar nie showers en catering en fokken blomme backstage is nie, maar jy kan dit nie verwag van Tannie Miem se Bistro in Aliwal-Noord nie! Jy sit in Afrika, baby, and this ain’t no place for sissies. Kry maar vir jou nou sound en leer hoe om dit self te doen. Jou tyd in die States sal kom. Don’t get me wrong, daar’s venues hier in SA wat ons mooi oppas, moet net nie dink dit gaan oral gebeur nie!
Jul jongste album, Beatipiller, is vroeër vanjaar bekendgestel. Hoe verskil die album van die voriges in terme van waaroor julle skryf en ook hóé julle skryf?
Dis die eerste keer wat ons vier dudes rêrig saam skryf. Die vorige twee albums was maar meestal André en ek. Chris en Jason is beide jazz-studente én metalheads, so Beatipiller is vol van hulle invloede. Lekker heavy. Die lirieke is ook bietjie meer nagesien en volg op ’n tema waarop ek voor die tyd besluit het. Ons is baie trots op ons nuwe baba!
Daar’s ’n interessante storie agter die album se titel en die meegaande skets op die omslag. Gee jy om om dit te deel?

Chris Kreef, van Kreef Hotel-faam, se seuntjie, Luc, het vir sy pa ’n klein boekie gemaak met “mixed animals”, dis nou diertjies wat hy ge-combo het, soos byvoorbeeld ’n hoender en ’n sprinkaan sal ’n hoenderkaan wees. So volgens Luc is ’n bear and a caterpillar ’n beatipiller! Ek’t die prentjie (op ons album cover) en die woord “beatipiller” oor Nuwejaar by Luc en sy ouers legit gekoop. Luc het nou sy eie page op Facebook en hy teken nog elke dag. Die konsep was ook vir my nice, ’n beer met vier arms, soos die blues wat ons vat en dit mutate ...
Wat jou solo shows betref, is dit ook ’n belewenis – ek’s nuuskierig oor waar jou spontane voordrag van Breyten Breytenbach se “Ek sal sterf …” vandaan kom. Dis duidelik ’n kwessie van passie vir jou – hoe het dit begin?
Ek love Breyten. Ek’t "ek sal sterf en na my vader gaan" op my badkamermuur met ’n koki gekrap, so nou as ek in die bad lê dan lees ek dit maar elke keer, en nou kan ek dit nie uit my kop uit kry nie. He. My skoonsussie is van Wellington, so daar’s so ’n bietjie persoonlike connotations ook. "Ek sal sterf en na my vader gaan Wellington toe ..." Breyten het heavy mooi woorde.
Wat wil julle as ’n band nog bereik op kort en lang termyn, of is dit ’n geval van vat dit soos dit kom?
Dude, ons wil oorsee met ’n seer hart. Net om te wys wat ons kan. Maar dis duur, nè? Wanneer laas het jy vier kaartjies Duitsland toe gekoop? Sjoe. Niemand van ons wil oorsee woon nie. Ons like braai te veel. Maar ons weet ons kan ’n punt maak. Anders as dit, nog CD’s, toere (daar’s nog baie gaaitjies in Suid-Afrika wat ons moet uitcheck), etc etc – nee wat, ons is nog jonk ...
Met die besonder baie optredes en toere kom daar natuurlik ook besonder interessante ervarings … Enige spesifieke staaltjies wat jy kan deel? Enige plekke waar julle nie sommer weer sal optree nie?
Fok, Durban is die moeilikste, maar ons sal die lig in ’n dorp vind. Daar is in elke dorp ’n kid wat weet waar die jol is, maar jy sal nooit uitvind as jy nie in jou kar klim en daai kid gaan soek nie. Bly weg van Durban af tensy jy ’n fokken DJ is. But we'll probably end up there again. Hehe.
Wat is die sin van die lewe?
Black Label-bier langs die see. Hoenderboudjies. Braai. Snoek. Braai. Suid-Afrikaanse meisies (sonder houding). Fender-kitare. Goeie rock. Kreef. Perlemoen. Free stickers. Boekwinkels. Pawn shops. Happy petroljoggies. Mooi paintings. Seer bene van lekker party. Laat slaap. Ronnie’s Sex Shop. Die Karoo. Skoon riviere in die Sederberg. Forel. My maatjies.

Foto: Louise Pieterse
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Jou fêns laf jou ou Rottie !