Biebouw-resensie: Donkerland deur Deon Opperman en Kerneels Breytenbach

  • 0

Titel: Donkerland
Skrywer: Deon Opperman, Kerneels Breytenbach
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624065241

Klik hier om Donkerland te koop by Kalahari.com.

Tafelberg Uitgewers se Riana Barnard het Kerneels Breytenbach, oudjoernalis, uitgewer en nou skrywer gevra om van Deon Opperman se gewilde TV-reeks Donkerland ’n roman te maak, wat toe wel in 2013 verskyn het. Dit volg op die sukses van Hartland, wat dieselfde paadjie geloop het, en nou het Breytenbach skeepsreg met Kruispad, wat binnekort verskyn.

Hierdie bespreking handel oor Donkerland vanaf TV-reeks tot roman, en eerder as om te bespiégel oor wat genoemde persone in gedagte gehad het, het ek hulle gevrá.

Barnard sê uitgewers is in diens van die leser – jy wil mense laat lees. En soos suksesvolle films, byvoorbeeld The Da Vinci Code, mense ook daardie boek laat lees, ook omdat hulle weet waaroor die storie gaan, sal daar in sulke gevalle selfs mense wees wat selde lees, maar tog dié boek sal koop. Mens hoop natuurlik dat hulle daarna nóg boeke sal koop.

Boonop, sê Barnard, is tema belangrik: hierdie boek handel as’t ware oor die “Afrikaner Trilogie”, soos Opperman dit noem, nl die Bybel, die geweer en (bloed)familie. Die uitgewer identifiseer dus eers temas voor ’n besluit geneem word, en kyk dan ook na die mark. Heeltemal te verstane, want uitgewerye is immers besighede en nie opvoedkundige organisasies nie. Dog die uitgewer moet talle balle in die lug hou en een daarvan is die Storie: Donkerland handel oor ’n kragtige tema, een waarvan deeglik kennis geneem moet word, wat oordink moet word en bespreek moet word. Die roman as genre leen hom daartoe dat mens teen jou eie pas kan lees en dink oor wat jy gelees het.

Buitendien, nadat Breytenbach se verwerking van Hartland soveel positiewe kommentaar onlok het – ’n uitgewer hou mos haar oor teen die grond – was dit nie ’n moeilike besluit om te neem nie, en Barnard het soveel vertroue in die sukses van Donkerland dat Kruispad gevolg het.

Vir Breytenbach was die verwerking van Donkerland veeleisend – dit staan so agter in die boek. Eerstens was dit ’n wegswaai van die tipe temas wat hy as romanskrywer aangepak het. Dit word daar gestel dat sy eie romans hom wel voorberei het op die verwerking van Opperman se teks. Ná Hartland was Donkerland immers die tweede “land”-ing vir Breytenbach.

My eerste vraag aan Breytenbach was aangaande die titel Donkerland, naamlik of die titel na FA Venter se Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968) verwys. Of selfs na Karel Schoeman se Na die geliefde land (1972)? Breytenbach se antwoord het my verbaas: hy het nooit aan die hierdie vyf boeke gedink nie, hoewel hy hulle wel jare gelde gelees het. Maar ek moet die skepper van Donkerland, die “oerbron”, self vra. Opperman se reaksie was selfs nog meer verbasend. Hoewel hy ook lank gelede Venter se boeke gelees het, kom sy titel van ’n Opperman-familieplaas genaamd Darkest Africa.

Opperman het in ’n boekwinkel in Amerika gewerk toe ’n klant op soek was na Rian Malan se My traitor’s heart (1990). Hy spoor toe ’n eksemplaar daarvan op en begin dit self lees; was gefassineerd met een van die stories daarin, en daarvandaan het die konsep wat Donkerland sou heet, ontwikkel.

Dit was op hierdie punt dat ek baie bly was dat ek Opperman genader het, want eerstens sou ek verkeerdelik afgelei het dat Donkerland wel deur die Venter-reeks geïnspireer is en tweedens dat Opperman deur middel van ’n familiesage die ontstaan van die Afrikaner se ontwikkeling van vryheidsvegters na onderdrukkers van ander se vryheid in die apartheidstaat van onlangs wou illustreer.

Dis wel waar dat hy ’n familiesage wou uitbeeld, gebaseer op sy eie familie wat in die Vrystaat geboer het – die verwysing in die verhaal na ’n kind wat ’n wit boer by ’n swart plaaswerker verwek het, is ook deel van dié geskiedenis wat hy deur persoonlike navorsing opgediep het – en rasgebaseerde verhoudings en konflik is eweneens deel van hierdie plofbare mengsel.

Dat die Afrikanervolk sedert die 1830’s in die Oos-Kaap as antagonistiese magsblok teenoor beide Brit en swart mens gevorm is, is ook so: nes Venter dit uitgebeeld het met sy sage oor hierdie strewe na selfbeskikking, so begin Donkerland ook. ’n Afrikaner, Pieter de Witt, vlug in 1838 na die donker binneland. Hy loop wel nie kaalvoet oor die Drakensberge nie, maar sy perd word gesteel – nogal deur ’n Britse sendeling, een van dié faksie wat juis deur die Boere as die groot sondaars gesien is; as die liberaliste wat inheemse volke teen die Boere opgesweep het. Daarna word ’n soort beskermingsplig jeens ’n swart persoon op De Witt afgedwing – ’n vrou wie se lewe hy red. In sommige Afrikaners se oë sal dit metafories wees van die Afrikaner se verhouding met swart mense. Ander sal dit as ongebreidelde paternalisme beskou.

Wat Opperman egter met Donkerland wou sê, is dat vaders (en moeders) goeie en slegte dinge nalaat en hulle kinders moet besluit watter van hierdie praktyke hulle gaan voortsit. Tweedens is dit noodsaaklik dat lesers moet besef dat dinge nie sommer net gebeur nie, maar dat daar gewoonlik ’n lang aanloop (kousaliteit) is – in Opperman se woorde: “Dat dinge ’n lang pad aankom.” Pieter de Witt se fisiese en geestelike pad van die Oos-Kaap totdat hy Donkerland se grense afgemerk het, is dus weer eens metafories van die volk wat hy en sy familie verteenwoordig.

Die boek handel dus oor die “Afrikaner se dilemma”, of soos dit op bladsy 391 uitgedruk word: De Witt het uit Grahamstad padgegee omdat hy “vasgeknyp was tussen Britse kolonialiste en die laaste stuiptrekkings van die swartvolkerebeweging”. Daarom sê De Witt: “Daar’s net twee soorte wind wat in hierdie land waai, neef, Engelse wind of Zoeloewind.” Maar Opperman wou sy verhaal op ’n groter doek skilder.

Hierdie boek is dan ’n nuwe vertelling van ’n ou storie, wat aanloop ná Venter s’n, wat die Boererepublieke se vryheidsoorloë (1881 en 1899–1902) teen Brittanje en daarna die sg grensoorlog (1966-1989) insluit. Ook nuwe interne spanning – die Joiners en Hensoppers van die Suid-Afrikaanse Oorlog, of Tweede Vryheidsoorlog (in Afrikanerterme) – word later gevolg deur voorbeelde van ANC-gesindes onder Afrikaners onder die De Witt-familie. Die grondkwessie wat tans spanning in die land veroorsaak, word ook in Donkerland aangeroer wanneer die plaas, die “bloedgrond” van die De Witts, bedreig word. ’n Sterk tema, soos Barnard tereg sê, en kontekstueel relevant.

Wat die verwerkingproses van Opperman se verhaal in romanvorm betref, die volgende: Breytenbach het met die oorspronklike teks én DVD’s van die TV-reeks gewerk, wat hy “oorgeskryf het in prosavorm” (sy eie woorde). Hy sê dat hy nie dinge kon beskryf wat nie in die uitsendings was nie, insluitende dialoog, maar dat hy wel dialoog kon weglaat of, in enkele gevalle, verander. Die keuses van wat werkbaar sou wees vir die roman, al dan nie, was ’n tydrowende proses.

Volgens Breytenbach het hy die versoek om Donkerland te verwerk aanvaar omdat die sukses van Hartland bemoedigend was, maar het hy gou besef  dat Donkerland stilisties baie van Hartland verskil. Tog het hy dit minder nodig geag om Opperman te vra hoe hy spesifieke tonele oorspronklik gesien het. Breytenbach het wel oor en oor na sekere hoofstukke gekyk, oa om vas te stel hoe die opeenvolgende geslagte De Witts van mekaar verskil het; dié variasies op ou Pieter se gietvorm.

Dit vind mens begryplik, want wanneer jy die boek lees, is dit steeds ’n uitdaging om tred te hou met die identiteit van elke karakter. Ek het gevoel daar kon meer beskrywings gewees het van veral uiterlike voorkoms. Wat die innerlike, die persoonlikhede van die karakters, betref, het Breytenbach deeglike werk gedoen; tot so ’n mate dat die leser elkeen kan leer ken en eien binne die bestek van enkele sinne in die teks. Lesers wat meer visueel ingestel is soos ek, mag egter soms meer moeite ondervind om elkeen te herken wanneer verskillende geslagte onder een dak begin vergader.

Breytenbach beskryf Donkerland se tydsomvang (groter as dié van Hartland) as ’n uitdaging, omdat dit geanker is in historiese feite – elke hoofstuk dek ’n spesifieke deel van die geskiedenis en die boek moes binne episode-konteks bly. Die leser moet ook ingelig bly oor dinge wat nie by die TV-uitsendings genoem is nie, oor dinge wat implisiet op die agtergrond was en nou eksplisiet gemaak moes word, aldus Breytenbach. Gevolglik moes hy heelwat historiese bronne raadpleeg en “kon (hy) nie ‘back story’ uitdink nie, maar (moes hy) eerder in die karakters delf om afronding te doen”. Hy was nogmaals beïndruk met hoe afgerond Opperman se karakters is. “Niks in ’n Opperman-verhaal is toevallig nie,” sê hy toe ek hom vra of die dolk wat die karakter Dirk van sy vader ontvang, sinspeel op die feit dat “dirk” ’n naam vir ’n dolk is.

Breytenbach moes tonele inwerk, herrangskik, korteres en langeres, sodat die leser ’n “gedrae gang kan aanvoel”. Hy het soms gesukkel om te bepaal wat Opperman se bedoeling was met elke toneel – die boodskap moes immers duidelik oorgedra word en daar mog geen weerspreking wees van wat die karakters oorspronklik moes wees nie. Maar wat lekker was, erken hy, was om die visuele dinge, soos gesigsuitdrukkings, liggaamstaal en stemtoon, te “vertaal in prosa”. Duidelik het hy ook moeite gedoen om die spraak en gees van die tyd, van onderskeie generasies, in te werk.

Opperman het ’n vroulike verteller gebruik – “’n ‘voice-over’ om die tematiese en historiese plasing te gee en skakels na die volgende episodes te bou”. Op my vraag of hy, Breytenbach, dit nie oorweeg het om haar weg te laat nie, want die spronge van “show” na “tell” en terug verg konsentrasie van die leser, het hy geantwoord dat sy ’n belangrike rol speel – sy bind die episodes aan mekaar en dra by tot die gevoel van afwagting wat by die leser gewek word, hoewel ek vermoed méér so in die geval van die TV-reeks, waar mens die spanning in die verteller se stemtoon makliker sou kon agterkom. By ’n roman is die ouditiewe element immers afwesig en die leser moet self ’n stem skep om in sy/haar kop te hoor. Sy maak ook belangrike filosofiese stellings, soos (7): “’n Storie gaan gebuk onder die las van al die stukkies wat bygelieg en bygedroom word, en word vermink deur alles wat vergete is.” Dié sin herhaal sy op bl 443, asof sy die hele verhaal sodoende saamvat en afsluit.

Enkele punte van kritiek is dat ek die gevoel gekry het dat Breytenbach die storie amper te visueel wou oordra. Is dit regtig nodig om te sê (257) Dirk kan nie die briefie aan sy ma in ’n stikdonker kombuis lees nie? Waarom sóú hy dit wou lees? Hy weet mos wat daarin staan, en natuurlik kan hy nie in die donker sien nie. Of dat Dirk omdraai en “stap in die teenoorgestelde rigting” weg (334). As hy omdraai en wegstap, ís dit mos in die teenoorgestelde rigting? Of is die feit dat ek weet dat die oorspronklike teks gestruktureer was as aanwysings vir akteurs, as’t ware? As dit die geval is dat ek deur hierdie “vooroordeel” gepootjie was, sal ander lesers wat die TV-reeks gesien het, dalk dieselfde probleem ondervind. Of darem nie genoop wees om so krities te lees nie. Op die keper beskou: Breytenbach se grootse poging is aanprysenswaardig. En dit is vir my beide ‘n verligting en ‘n plesier om dit te noem, al weet ek ek is bevooroordeeld omdat Opperman en Breytenbach al lankal my bewondering verdien het.

As laaste gedagte oor die moontlike raakpunte tussen Schoeman, Venter en Opperman, skryf Breytenbach: “(E)k glo nie Donkerland is ’n reaksie op daardie skrywers nie; en 'n ondersoek na ’n ‘gesprek’ sou eerder moet konsentreer na die manier waarop die skrywer die plaaslike geskiedenis sien, en hoe hy die Afrikaner se reaksie daarop teken. Wat my aangespreek het in Donkerland, is hoe Deon die verhouding tussen swart en wit in elke tydvak uitlig, die intellektuele (of eintlik anti-intellektuele, soos Dirk aan sy bas voel) kaartehuis wat die Afrikaner vir homself opgerig het, en die flenters wat daarvan oorbly agterna. Die Afrikaner se verhouding met Engelse is belangrik, en die maniere waarop medemenslikheid na weerskante vertoon word. ’n Mens sou baie kleiner tematiese lyne kan uitlig, en uiteindelik dink ek Deon se analise is een van die mees volwasse, nugtere sienings wat ek nog raakgeloop het. Jy sou ook die politieke neerslag van elke tydvak as voeder van die spesifieke episode kon analiseer. Hoeveel lyne kan jy dan terugtrek na Venter en Schoeman? Ek vermoed nie veel nie, want Deon se aanpak het 'n groter deel van die geskiedenis wat dit onder die loep neem.”

Opperman het inderdaad, soos reeds genoem, bevestig dat hy nie met ander skrywers in gedagte gaan sit en skryf het nie. Hy het wel genoem dat hy later besef het dat hy tot daardie oeuvre bygedra het.

Inderdaad.

As onderliggende, gedeelde ervaring onder Afrikaanse lesers verwag mens tog dat die bewus wees van dié oeuvre nie net vir Opperman onbewustelik beïnvloed het nie, maar ook elke leser van die ouer generasies wat daarmee bekend is. Opperman en Breytenbach het elkeen meegewerk daaraan om dié oeuvre voor te sit en jonger lesers die opsie te gee om “terug te lees” deur Venter en Schoeman (en ander skrywers oor die Groot Trek, Oosgrensoorloë, Boer-Brit-konflikte, die meer onlangse Bosoorlog, botsings in townships – eintlik die hele uitgesponne Suid-Afrikaanse geskiedenis, nie net die Afrikaner s’n nie) te gaan lees, terwyl ouer lesers dié bronne van feite en fiksie, oorsaak en gevolg kan herlees.

Ek dink ook dat Dan Sleigh se Eilande (2002) ’n beginpunt was vir talle Suid-Afrikaners – dis ook in Engels vertaal – om te begin soek na antwoorde, na aanleidende oorsake van hoe ons hier gekom het, geografies én eties-moreel. Hierdie oplewing in belangstelling – hetsy om werklik te verstaan of om verskonings te soek, duur voort.

Hierdie bespreking moet eers afgesluit word, maar die storie is nog lank nie klaar vertel nie – daar is geen einde in sig nie. Hopelik, egter, ontlok dit wel dialoog.

Mens sien ook by voorbaat uit na Kruispad ...


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top