Berusting na ‘n brief

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

'n Sekere mnr Schneider was 'n Johannesburgse prokureur wat van 'n kliënt opdrag gekry het om sy aandele in 'n maatskappy te verkoop. Mnr Schneider het daarna met die koper, 'n sekere mnr McWilliams, onderhandel en op 5 April 1976 is daar – volgens getuienis wat later gelewer is – 'n mondelinge kontrak gesluit ingevolge waarvan die aandele vir R55 000 aan McWilliams verkoop is.

Minder as 'n maand later is die prokureur, mnr Schneider, skielik oorlede. Sy kliënt, wie se aandele aan McWilliams verkoop is, wou weet wat van die transaksie geword het, want die aandele was nog nie oorgedra nie en hy het ook nog nie betaling ontvang nie. By navraag het McWilliams egter ontken dat daar ooit 'n geldige kontrak tot stand gekom het.

Die prokureur wat mnr Schneider se praktyk oorgeneem het, het op die lêer van die aandeletransaksie afgekom. Daarin was daar 'n stuk papier waarop daar notas verskyn het wat mnr Schneider skynbaar afgeneem het tydens die onderhandelings met McWilliams. Die notas was egter feitlik onleesbaar. (Jy moenie dink dit is net dokters wat lelik skryf nie; dan het jy nog nie party prokureurs of advokate se handskrifte probeer lees nie!) Hoe dit ook al sy, mnr Schneider het gelukkig 'n sekretaresse gehad wat jare vir hom gewerk het en in staat was om sy notas te ontknoop. Sy het dit netjies oorgetik en daaruit wou dit lyk asof daar tog wel 'n mondelinge ooreenkoms tussen mnr Schneider – namens sy kliënt – en McWilliams tot stand gekom het. Maar dit was nie bo alle twyfel nie.

Gelukkig het mnr Schneider, soos dit 'n goeie prokureur betaam, sy gesprek met mnr McWilliams met 'n brief opgevolg. Dié brief is op 21 April 1976 geskryf. In die brief bevestig mnr Schneider dat hy vroeër daardie April-maand met mnr McWilliams onderhandel het en hy bevestig ook dat 'n mondelinge ooreenkoms gesluit is vir die verkoop van die aandele vir R55 000. Die brief is per geregistreerde pos aan McWilliams gestuur en daar kon dus bewys word dat hy dit wel ontvang het.

Tog het McWilliams volgehou dat daar geen ooreenkoms tot stand gekom het nie.

Die maatskappy wat die aandele verkoop het, het daarna 'n dagvaarding teen McWilliams uitgereik vir betaling van die koopprys en hulle het die saak teen hom in die hoër hof in Durban gewen.

McWilliams het daarna na die appèlhof in Bloemfontein geappelleer en die saak is voor drie appèlregters geargumenteer. Sy doodskoot was die brief van April 1976 waarin mnr Schneider bevestig het dat die ooreenkoms gesluit is. Soos reeds gesê, is daar bewys dat mnr McWilliams die brief ontvang het. Sy versuim om ná ontvangs van die brief daarop te reageer was 'n fatale fout.

In sy uitspraak1 sê appèlregter Miller dat "stilswye" nie noodwendig altyd "berusting" beteken nie. Nou wat het hy dáármee bedoel? As A vir B 'n brief skryf waarin A beweer dat B sekere verpligtinge teenoor hom het, en B versuim om op daardie brief te antwoord, beteken dit nie noodwendig dat B saamstem dat A se brief die waarheid bevat nie. Maar, sê regter Miller, wanneer normale handelspraktyk vereis dat bewerings in 'n brief ontken behoort te word deur die ontvanger as hy nié daarmee saamstem nie, en hy versuim dan om dit te doen, kan sy stilswye later vertolk word as dat hy met die inhoud van die brief saamgestem het. Dit sal veral die geval wees as daar ander briewewisseling en onderhandelings tussen die partye was vóórdat die betrokke brief geskryf is. In só 'n geval sal 'n hof met moeite byt aan die ontvanger van die brief se latere storie dat hy nie met die inhoud daarvan saamgestem het nie.

Toegepas op die brief wat mnr Schneider aan mnr McWilliams geskryf het: die appèlhof het bevind dat daar 'n plig op McWilliams gerus het om dadelik op Schneider se brief te antwoord as hy nie daarmee saamgestem het nie. Sy stilswye was dus 'n bevestiging van die bewering dat daar 'n mondelinge kontrak tot stand gekom het vir die koop van die aandele en die hof het McWilliams aan daardie kontrak gebonde gehou. Hy moes maar betaal – nie alleen vir die aandele nie, maar ook vir die aansienlike regskoste wat intussen opgeloop het.

Hierdie saak wys maar net weer hoe belangrik dit vir prokureurs is om volledige notas van konsultasies met mense te hou en om mondelinge afsprake agterna per brief te bevestig. Die kliënt mag dink dat dit 'n mors van geld is, maar dink net hoe kwaad sou mnr Schneider se kliënt vir hom gewees het as hy nié daardie belangrike brief van April 1976 geskryf het nie.

1 McWilliams v First Consolidated Holdings (Pty) Ltd1982(2) SA 1 (AD)

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top