Bernard Lategan sit die identiteitsdebat voort

  • 0

Cornel du Toit en Cobus van Wyngaard stel in hulle kommentaar wesenlike vrae en open nuwe perspektiewe op ’n komplekse en boeiende onderwerp. Ek reageer graag op sommige vrae en opmerkings (nie almal nie!) met die hoop dat dit die gesprek verder kan voer.

Om met Cobus te begin: hy is reg dat die artikel met ’n bepaalde doel geskryf is, naamlik om die lof van meervoudige identiteit te besing en om hierdie soort identiteit as ideaal voor te hou. Die beweegrede vir hierdie pleidooi is egter ietwat anders as wat hy vermoed en berus moontlik op ’n misverstand. Hierdie misverstand het te doen met die moontlikheid om sekere identiteite agter te laat, en meer spesifiek, om ’n "blanke" identiteit agter te laat. Hy neem blykbaar aan dat ek "agterlaat" as ’n werklike moontlikheid beskou. In die artikel word "vervanging of verruiming" en "agterlaat of meeneem" egter as hipotetiese alternatiewe geopper (daarom die vraagteken in die opskrif van par 5.2). In die res van die paragraaf probeer ek duidelik maak dat die eerste van die twee pare (vervanging en agterlaat) nié haalbaar is nie en dat slegs verruiming en meeneem in werklikheid moontlik is. “Vervanging” en “agterlaat” is juis terminologie wat tiperend van enkelidentiteit-denke is. Daarom: "Verruimde identiteit beteken dus nie die prysgawe van een enkelvoudige identiteit ter wille van ’n ander, ewe beperkte enkel-identiteit nie." Die verruiming van identiteit geskied met die behoud van die kontinuïteit van dieselfde "ek" en die één lewe – dis deel van ’n kumulatiewe proses.

Ek is dit dus roerend eens met Cobus dat gelowiges in die vroeë kerk Grieke en Jode gebly het, maar terselfdertyd ook Christene geword het. Dit is juis ’n goeie voorbeeld van hoe ’n enkelvoudige Joodse identiteit oopgebreek is om ruimte te skep vir gelowiges van ander kulture, soos hy self aandui.

Dieselfde misverstand gee aanleiding tot Cobus se meer ernstige vermoede dat die artikel ten diepste ’n poging is om ’n kritiese gesprek oor ras te systap. As dit is wat die artikel kommunikeer, dan is dit inderdaad swak aangebied en verdien dit kritiek. Moontlik het die rooskleurige voorstelling van meervoudige identiteit daartoe bygedra om so ’n indruk te skep. Feit is egter – soos hier bo uitgewys – dat "witwees" en "swartwees" deel van ons menswees bly en daarom altyd deel van die gesprek is, of ons nou daarvan hou of nie. Daarom hou ek self ook nie van “afskeid”-terminologie in hierdie verband nie (byvoorbeeld "afskeid van apartheid"), omdat ons nooit werklik finaal afskeid neem van ons verlede, van hoe ons gevorm en gesosialiseer is, van ons witheid en swartheid nie. Ons dra dit altyd met ons saam. Ons kan dit egter in ’n wyer konteks plaas, herdefinieer, verruim.

Ryland Fisher
Antjie Krog
Athol Fugard

Ryland Fisher (skrywer van Race) begin sy onderhoude met mede-Suid-Afrikaners soos volg: "Ek is ’n rassis. Ek het grootgeword en is gesosialiseer om witmense te haat. My hele lewe is ’n stryd om van hierdie diepgewortelde vooroordele ontslae te raak." Meer brutaal kan die olifant in die vertrek nie op sy naam genoem word nie. Maar juis hierdie openhartige aanslag maak dit moontlik vir Fisher se gespreksgenote om ook húlle vooroordele openlik te erken. Die gebruik van die "verbode" woord skep juis die ruimte om die gesprek daaroor te begin. Dit is trouens wat Ndebele ook probeer doen: deur die beperkinge van sy "swartwees" te erken, moedig hy wit mense aan om dieselfde met hulle "witwees" te doen. As die artikel die indruk skep dat ek ’n gesprek oor ras wil vermy, dan het dit inderdaad misluk.

Ons sukkel egter nog om hierdie noodsaaklike gesprek op konstruktiewe wyse onder onsself en met ander landgenote te voer. Ons onbeholpenheid mag daarmee saamhang dat ons nog nie die regte taal en die regte grondslag hiervoor gevind het nie. Athol Fugard vermoed dat daar ’n dieper verbindingsgrond tussen swart en wit in die land is wat ons nog nie ontdek het nie; Antjie Krog soek na vorme van menswees en menslikheid wat reeds onder ons bestaan, maar wat ons nie raaksien nie. Ndebele smag na ’n fundamentele menswees wat meer bied en meer bevredigend as swartwees en kameraadskap is. Ons gemeenskaplike menswees is inderdaad hierdie dieper grond – en die dieper reg – waarna ons hunker. ’n Stap-vir-stap-verruiming van ons eie identiteit en menswees is één strategie om dit te bereik. Dit is die eintlike punt van die artikel.

Cobus wys verder op drie aspekte wat nie voldoende (of glad nie) deur die artikel aangeraak word nie en wat die gesprek in ’n belangrike opsig verder voer: die invloed van konteks, die rol van mag en die "donker" agterkant van meervoudige identiteit.

Sy verwysing na die omstandighede in die vroeë kerk wat meebring dat ’n enkelvoudige Joodse identiteit oopgebreek word om ruimte te skep vir gelowiges met ander kultuuragtergronde, illustreer die belangrike rol wat konteks in hierdie verband speel. Veranderde (historiese) omstandighede bring onvermydelik veranderings in identiteitsvorming en identiteitsbelewing mee. Maar dit bring hom by ’n nog meer wesenlike vraag: Kan ek my identiteit op my eie verander? Die artikel mag die indruk skep dat dit op ’n individuele besluit en inisiatief berus. Hoewel ek sal wil volhou dat dit nie sonder ’n wilsbesluit (of ten minste ’n gewilligheid) van die kant van die individu kan gebeur nie, is Cobus reg dat identiteitsverandering en identiteitsverbreding nie ’n eensydige proses is nie. Dit kan alleen in wisselwerking met ander gebeur, soos hy tereg sê: "... dat ek slegs in die werk van die verandering van die hele samelewing ’n kans staan om die betekenis van hierdie identiteit vir myself te verander". Dit is ’n klassieke voorbeeld van wat Bateson (1987:131–3)1 "double description" sou noem – die wese van iets kan voldoende vasgevang word alleen as dit vanuit minstens twee perspektiewe benader en beskryf word.

Cobus benadruk tweedens dat identiteite nie op dieselfde vlak lê en daarom eenvoudig uitwisselbaar is nie. Onderliggend hieraan is ’n magspel wat nie alleen die vorming van identiteite beïnvloed nie, maar ook veroorsaak dat hulle basies ongelyk is. Aan sommige identiteite is meer mag verbonde as aan ander en word hulle daarom as meer gewens of gesog beskou. Dit beteken ook dat identiteitsvorming en identiteitsverandering nooit ’n "onskuldige" saak is nie en altyd met magsverhoudinge saamhang.

Derdens waarsku hy teen ’n te optimistiese en idealistiese beskouing van meervoudige identiteit. Dit het ook ’n donker kant wat op verskillende maniere sigbaar word. Dit kan byvoorbeeld onbedoelde en ongewenste assosiasies oproep. "Christendom", ’n positiewe identiteitsmerker vir sommige, simboliseer oorheersing, kulturele imperialisme en ekonomiese uitbuiting vir ander. Nog meer bedenklik is die verskuilde uitwisseling van verskillende elemente, waardeur een (meer aanvaarbare) identiteitsmerker gebruik word om eintlik ’n ander (negatiewe) merker aan te dui. "Taal" en "kultuur" kan op subtiele wyse gebruik word wanneer eintlik "ras" en "klas" bedoel word, soos Cobus aandui.

Die nastreef van ’n meervoudige identiteit is inderdaad nie sonder slaggate en gevare nie. Nogtans bly dit ’n belangrike verantwoordelikheid vir almal wat groter sosiale binding en stabiliteit in die land op die hart dra.

Ook Cornel du Toit lewer waardevolle kommentaar en bring nuwe gesigspunte na vore. Hy beklemtoon die groot onderskeid tussen groeps- en individuele identiteit en het gelyk dat laasgenoemde van meer onlangse oorsprong en eintlik die produk van die wetenskaprevolusie is. Ek het veel geleer uit sy uiteensetting van hoe identiteit as bewussynstroom funksioneer. As ek hom reg verstaan, maak dit meervoudige identiteit in die eerste plek moontlik, maar is dit ook die meganisme wat ons in staat stel om ’n amper onbeperkte aantal fasette in ons "identiteitsbank" op te gaar. Ons beleef nie al hierdie fasette gelyktydig elke moment nie, maar ons bewussynstroom aktiveer sekere daarvan in ’n gegewe oomblik. Daarom kan menswees nie verstaan word sonder die rol wat bewussynstruktuur op identiteit uitoefen nie. Hy wys daarop dat hier nog ’n belangrike veld is vir kognitiewe navorsing om te ontgin.

Cornel herinner ons aan die belangrike bydraes van Ricoeur, Foucault en ander in hierdie verband. Eersgenoemde het die narratiewe struktuur van identiteit beklemtoon, terwyl Foucault die belangrike invloed van die ander op die wyse waarop ek myself verstaan en hoe ek optree, uitgewys het.

Hy het verder gelyk dat die basis van die interaksie tussen Paulus en die gemeente in Korinte nie een van gelyke gee en neem was nie en daarom nie regtig as ’n voorbeeld van meervoudige identiteit kan dien nie. Paulus is duidelik daarop ingestel om sy lesers se opvattings te verander – nie sy eie nie. Maar tog is die situasie nie so eenvoudig nie. Paulus se sendingdrif het ’n ander (historiese) oorsprong. Dit berus op ’n radikale ommekeer wat hy self ondergaan het toe hy eensklaps die rol van vervolger van die vroeë kerk vir dié van kampvegter vir die geloof verruil het. Praat van ’n radikale identiteitsverandering! As onderdeel van die veel groter proses van kolonisering het Christelike sendingsinisiatiewe ook nie op ’n gelyke speelveld plaasgevind nie – die magsbalans was ongetwyfeld in die guns van die veroweraars en die bringers van die nuwe tyding. Maar ook hier het die wetmatighede (?) van identiteitsvorming hul laat geld – nie so opvallend nie, maar net so effektief. Navorsing het aangetoon hoe baie, goedbedoelde pogings om die leefwyse, karakter en identiteit van die "voorwerpe" van evangelisasie te verander, misluk het en die teenoorgestelde uitwerking gehad het deurdat die opvattings en benadering van die protagoniste – subtiel of andersins – in die proses verander is.

Soos Cobus beklemtoon Cornel die eksterne faktore in identiteitsvorming, maar ook dat die kwessie van identiteit meestal in situasies van bedreiging na vore tree. Per slot van rekening het ons weinig beheer oor die meeste faktore wat ons wêreldbeeld, kultuur, klas, geloof of selfbeeld bepaal en bring hom tot die vraag: Hoe vry is ons om ons eie identiteit te bepaal? Saam met Epiktetus aanvaar ek die werklikheid van die magte "buite" myself en saam met Heidegger moet ons vrede maak met ons "geworpenheid". Maar nogtans beperk dit nie die moontlikhede van verandering nie, insluitend die moontlikhede van identiteitsverruiming. My hele pleidooi is dat ander wêrelde, ander bestaans- en verstaansmoontlikhede in beginsel oop bly. As ons dan nie – soos Cornel uitwys – ons hele lewe in een lang alibi (my mislukkings is die skuld van ander) wil laat ontaard nie, is dit ons verantwoordelikheid om die alternatiewe wat daar wel is, te ontgin en te benut,

Ek weet weinig van die biologiese gronde van identiteitsvorming en sal graag meer daarvan wil leer. Hopelik kan hierdie gesprek Cornel uitlok om wel daaroor te skryf!

Hy eindig met ’n moeilike vraag, waarop ek ook nie die antwoord het nie: Gaan essensie (identiteit) eksistensie (optrede) vooraf of omgekeerd? Ek moet bely dat ek tussen ’n essensialistiese en ’n eksistensialistiese bestaanswyse laasgenoemde verkies – soos Cornel tereg aflei. Dit is nie bloot in die verstaan van wyer identiteitsmoontlikhede, of selfs in die empatie met die ander, dat verruiming ’n werklikheid word nie – dit gebeur slegs as ek in terme van hierdie nuwe identiteit optree.

1 Bateson, G. 1979. Mind and Nature. A necessary unity. New York: EP Dutton, 131–3.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top