Beginners bring hoop vir elkeen

  • 0

Beginners
Regisseur: Mike Mills
Kamerawerk: Kasper Tuxen
Rolverdeling: Ewan McGregor, Mélanie Laurent en Christopher Plummer.
Looptyd: 105 minute


Twee dinge waarmee ons saamleef:

  1. Die rol wat ouers in hul kinders se benadering tot die lewe speel, is bepalend; en
  2. Sommige lesse gaan mens dalk nooit leer nie.

Ek kan seker byvoeg daar’s weinig absolute waarhede en mens moet nooit “nooit” sê nie, maar dis nie tersaaklik in dié bespreking van Beginners, een van die jaar se beste flieks, nie. Dis wel belangrik om te glo daar’s vir ons elkeen ’n pasmaat. “True love and all that,” soos sy lyfbediende en later ook Frasier in een van dié sitkom se episodes verklaar.

Die kunstenaar Oliver Fields (McGregor) is alleen. Hy’s ook baie hartseer. Op ’n onmiddellike vlak moet hy die onlangse afsterwe hanteer van sy terminaal siek pa, Hal (Plummer), wat hy versorg het. Op ’n dieper vlak worstel hy met sy onvermoë om verhoudings te laat werk. Die rede is die ooglopende ongelukkigheid in sy ouers se dekades lange huwelik. Ná sy ma se afsterwe vind hy uiteindelik die werklike rede daarvoor uit: Sy pa kondig aan hy’s eintlik gay. So ’n ongelukkige verhouding is iets wat Oliver geen lewensmaat wil aandoen nie.

Maar in die wonderlike strydigheid wat die lewe dikwels bied, gee hy nie moed op nie. Wanneer sy pa hom na sy mislukte verhoudings uitvra, sê Hal: Wag mens vir die leeu, of aanvaar jy die kameelperd wanneer dié opdaag?

Hy wag eerder vir die leeu, sê Oliver.

Die “leeu” daag op in die gedaante van die aktrise Anna (Laurent), wat haar eie ouer-bagasie saamsleep. En, oudergewoonte wanneer iets wat al ’n cliché”is (veral die “meet cute”) op ’n vars manier aangebied word, verhef die aweregse uitbeelding van hul ontmoeting en ontluikende romanse Beginners se intrige na die vlak van dié in Eternal Sunshine of the Spotless Mind en 500 Days of Summer. Dis Oliver en Anna se storie, ja, maar dis ook ’n verhaal van liefde oor grense heen en van kanse vat in die geloof dat die moontlike beloning veel swaarder as die moontlike mislukking weeg.

Dis ’n kragtoer deur die skrywer en regisseur Mike Mills, wat die aandag met die grootword-drama Thumbsucker (2005) getrek het. Sy skikking en aanbieding van die storie is allermins hoofstroom. Hy vertel die storie in terugflitse, wat die trefkrag van dié tonele verhoog omdat Oliver sy pa se afsterwe nog verwerk én dié lesse op sy verhouding met Anna van toepassing moet maak. En Mills maak a la Jason Reitman in Thank You for Smoking mildelik van grafika en argiefmateriaal gebruik. Daarby is die beligting natuurlik, wat sake veel geloofwaardiger maak as in die gemiddelde Hollywood-produk.

Mills slaag boonop daarin om uitsonderlike vertolkings van letterlik al sy spelers te verkry, waarskynlik omdat hy aan elkeen meer as genoeg gee om mee te kan werk. McGregor en Plummer is so goed soos hulle al op hul beste was, terwyl Laurent se spel ’n openbaring is. Daarby verleen Goran Visnjic as Hal se minnaar en Mary Page Keller as Oliver se ma ’n diepte aan hul karakters wat verbyster. Veral Keller skep een van die mees tragiese karakters vanjaar op die groot skerm.

En so groots as die vertolkings is, so intiem is Mills se fokus op die klein oomblikke – die tonele wat ’n fliek tot ’n kunswerk verhef en in die geheue laat vassteek. Dit geld van Oliver en sy ma se bestuursaanwysings tot die verliefdes se rolskaats-avontuur en parkmanewales. Dis veel gesê dat nie eens ’n hond se onderskrif-gedagtes sake beduiwel nie.

Beginners het die dramatiese trefkrag van Gus van Sant se Milk of Tom Ford se A Single Man en die romantiese bekoring van Sunshine en Summer, maar staan sy eie skoene met gemak vol. Dis ’n volmaakte oefening in fliekmaak.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top