Hallo bloggers
Die groot dag het aangebreek. Op Vrydag 19 Oktober skuif al die LitNet-blogs wat die afgelope ses maande aktief was oor na WordPress. Al die bloginskrywings van hierdie blogs skuif oor, maar ander inligting word nie outomaties oorgedra nie.
Wat bly dieselfde?
- LitNet-blogs sal steeds gevind word by www.blogs.litnet.co.za
- Die URL van elke blog bly dieselfde
- Jou gebruikersnaam en wagwoord bly dieselfde
Wat kan moontlik verlore gaan? Maak seker dat jy hierdie inligting aflaai en bewaar:
- Intekenare (dws mense wat e-pos-kenniswegings oor ’n nuwe inskrywing ontvang) op jou blog word nie oorgedra nie. Maak ’n lys van almal wat ingeteken is op jou blog sodat jy dit weer kan byvoeg op jou WordPress-blog.
- Ondersteuners van jou blog word nie oorgedra nie. Maak ’n lys van ondersteuners sodat jy dit weer kan bywerk op jou nuwe blog.
- RES-voere word nie outomaties verander nie. Indien iemand ingeteken is om RES-voere (RSS feeds) van jou blog te ontvang, gaan dit nie outomaties weer werk op die nuwe platform nie. Skryf nou ’n bloginskrywing wat jou intekenare waarsku dat hulle weer volgende week moet inteken om op hoogte te bly.
- Privaat boodskappe en ander agter-die-skerms-inligting. Dit is nie duidelik watter van hierdie inhoud oorgedra word en wat nie, so wees eerder veilig en bewaar dit.
Onthou ook: Dit beteken as jy ’n ondersteuner is van ’n blog is, of jy het ingeteken om kennisgewings te ontvang, of as jy ingeteken is om RES-voere van sekere blogs, of al die LitNet-blogs te ontvang, gaan jy weer daarvoor moet inteken. Die RES-voer se URL gaan moontlik verander, so jy moet die nuwe RES-voer in jou RES-leser invoeg.
Op Vrydag, 19 Oktober, gaan LitNet se blogs onbeskikbaar raak vir die hele naweek. Ons sal Maandag of Dinsdag, op die laatste, weer die deure oopmaak.
Om in te teken op jou blog, gebruik jou gewone wagwoord en gebruikersnaam. As jou wagwoord outomaties op jou webblaaier gestoor word en jy nie meer kan onthou wat dit was nie, gaan verander dit sommer nou sodat jy weet wat jou gebruikersnaam en wagwoord is waarmee jy op die nuwe platform kan inteken.
Wat om nou te doen: as jy nie die afgelope ses maande geblog het nie, maak vir jou kopieë van alle bloginskrywings wat jy wil behou. Maak ook seker dat die al die inligting wat moontlik verlore kan raak – soos hierbo gelys – veilig bewaar.
Wat jy moet doen as die nuwe blogs aktief is:
Teken in met dieselfde gebruikersnaam en wagwoord. Die adres sal self omskakel na WordPress se adres. Herregistreer of teken van voor af in op al die blogs waarvan jy op hoogte wil bly.
Laat weet ons wat julle dink van die vertalings. Toe ons die vertalings laat doen en geproeflees het, het ons baie van die opdragte en boodskappe buite konteks gesien.
Noudat dit in aksie op die blogs gebruik gaan word, sal sommige daarvan dalk vreemd op die oor val. Ons wil die bloggers ’n maand lank kans gee dat almal hulle voete vind, en dan sal ons ’n lys saamstel van woorde wat julle voorstel ons moet verander.
Gaan kyk so gou as moontlik na jou blog en na vorige bloginskrywings. Daar is net ’n kort venstertydperk voor alles op die ou stelsel uitgevee word. Teen 1 November sal ou inligting verlore wees – gaan maak asseblief seker dis daar.
Op die nuwe blog-platform gaan die mag in julle eie hande wees om te kies wie kuier op jou blog en wie nie. Jy gaan self die aansig van jou blog tot ’n groot mate kan bepaal, deur blokkies te skuif en te bepaal wat vertoon op jou persoonlike blog-tuisblad.
Gesels met ons! En gesels met mekaar. En geniet dit.
Groete,
Naomi Meyer, LitNet: inhoudsbestuurder

