As jy stilbly, kan iemand jou dalk melk (wat is estoppel?)

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op ’n dag in 1959 het ’n Thames-vragmotor wat aan Resisto Dairy, ’n melkery in die Kaap, behoort het, êrens op ’n openbare pad gery toe die dieselbrandstoftenk losbreek. ’n Groot hoeveelheid brandstof het op die pad beland en veroorsaak dat ’n motorkar wat agter die vragmotor gery het, gly. In die daaropvolgende botsing met ’n aankomende Land Rover is drie mense gedood.

Die bestuurder van die melkery, ’n mnr Shapiro, het die volgende dag die polisie gebel en vasgestel dat sy melkery se vragmotor nie direk by die botsing betrokke was nie. Shapiro het egter geweet dat die botsing veroorsaak is deur die diesel wat op die pad gelek het en wat afkomstig was van sy besigheid se vragmotor.

Shapiro se melkery was verseker by ’n versekeringsmaatskappy met die naam Auto Protection Insurance. Ingevolge die polis was daar ’n verpligting op die melkery om enige gebeurtenis of ongeluk of verlies of skade waarby die melkery betrokke sou raak, so gou moontlik by die versekeraar aan te meld. Nogtans het mnr Shapiro, nadat hy met die polisie gepraat het en nadat hy besef het dat sy vragmotor eintlik die ongeluk veroorsaak het, geen kennisgewing aan Auto Protection Insurance gestuur nie. Eers twee en ’n half maande na die botsing, en nadat die melkery verwittig is dat hulle aanspreeklik gehou word vir die skade, het Shapiro die versekeringsmaatskappy se voorgeskrewe eisvorm voltooi en ’n eis ingedien.

Ingevolge die versekeringskontrak was die versekeringsmaatskappy geregtig om die eis op daardie stadium af te wys, of te "repudieer", soos dit in regstaal genoem word. Nogtans het die versekeringsmaatskappy sewe maande geneem voordat hulle besluit het om die eis af te wys, en dit eers nadat ’n dagvaarding vir skadevergoeding teen die melkery uitgereik is.

Die melkery is dus aanspreeklik gehou vir die skade, en op sy beurt het die melkery weer die hof gevra het om te beveel dat die versekeringsmaatskappy verplig is om vir al die skade te betaal.

Die hooggeregshof te Kaapstad het egter beslis dat die melkery versuim het om betyds aan die versekeringsmaatskappy ’n kennisgewing van die ongeluk te stuur, wat téén die bepalings van die polis was. Teen hierdie beslissing het die melkery appèl aangeteken, en die saak is op 8 November 1962 deur vyf appèlregters in Bloemfontein aangehoor.[1]

Tot vandag toe – 50 jaar later - word die appélhof se uitspraak steeds in regskringe beskou as ’n mylpaal op die gebied van sogenaamde estoppel.

Nou wat is estoppel? Oor hierdie onderwerp is daar al baie boeke en artikels en slim geskrifte geskryf, maar dit kom eenvoudig daarop neer dat as iemand ’n valse voorstelling aan iemand anders maak en die ander persoon maak tot sy nadeel op daardie valse voorstelling staat, dan kan die persoon wat die voorstelling gemaak het, hom nie later op die waarheid beroep nie – hy word sogenaamd "estop" of "belet" om dit te doen. Opsommend: estoppel is dus ’n beletsel op iemand om hom onder sekere omstandighede op die werklike toedrag van sake te beroep as hy deur sy skuldige gedrag iemand anders vroeër onder ’n valse indruk gebring het.

Dit is die beginsel waarop die appèlhof hierdie belangrike saak van Resisto Dairy teen Auto Protection Insurance Company beslis het. Die hof het naamlik beslis dat die versekeringsmaatskappy se stilswye vir meer as sewe maande nadat hulle die kennisgewing van Resisto Dairy ontvang het dat daar ’n ongeluk was, die indruk by die melkery gewek het dat alles in orde was en dat hulle die eis sou uitbetaal. Die versekeringsmaatskappy het dus nie iets daadwerkliks gedoen om ’n sekere indruk by die melkery te wek nie; dit was wat hulle versuim het om te doen wat die indruk gewek het dat alles in orde is.

Die hof het beslis dat daar ná ontvangs van die laat kennisgewing van die melkery ’n plig op die verskeringsmaatskappy gerus het om die melkery binne ’n redelike tyd te laat weet dat hulle nie bereid was om die eis uit te betaal nie. Hulle versuim vir sewe maande lank om op die eis te reageer en hulle toe eers op die voorwaardes van hulle polis beroep het, het ’n valse gerustheid by die melkery laat posvat dat die verskeringsmaatskappy besig was om die eis af te handel. Gevolglik het die appèlhof beslis dat die versekeringsmaatskappy nie daarop geregtig was om na so ’n lang tyd wat hulle stilgebly het, om te draai en die eis te repudieer nie en is hulle aanspreeklik gehou om die eis uit te betaal.

Hierdie uitspraak hou vir almal wat in besigheid is, ’n belangrike les in, en dit is dat indien iemand byvoorbeeld vir jou ’n brief skryf waarin ’n sekere stel feite vermeld word en jy nie daarmee saamstem nie, daar ’n plig op jou rus om so gou moontlik vir daardie persoon terug te skryf dat jy nie met sy weergawe saamstem nie. Jou stilswye – of berusting, soos dit soms ook genoem word – ivm die verkeerde feitestel mag dalk later vertolk word as dat jy saamgestem het met wat in daardie brief gestaan het, en jy sal nie toegelaat word om jou op die werklike feite te beroep nie.


[1]  Resisto Dairy vs Auto Protection Insurance Co 1963 (1) 632 (AD)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top